‘n Nuwe Era

2012/01/02

Met die dat ons huis ons ‘n fortuin gekos het om te herstel, en die skuldige party sy skouers optrek en weier om te betaal betree ek in hierdie nuwe jaar alweer ‘n nuwe fase in my lewe.   Ek sal eenvoudig nou maar voldag moet inspring en werk.  Maar nou sit ek met ‘n krisis van epidermiese proporsie, ons dorp het nie so iets soos naskool nie.  Dit bestaan eenvoudig nie.

Maar soos dinge nou maar gebeur, het die uitkoms alweer naby gesit.  Tydens die vakansie het ek ‘n blanke dame gehad wat drie dae ‘n week my kinders by die huis kom oppas het, nadat sy haar werk by die kleuterskool verloor het toe diè by die laerskool ingeskakel het.   Dit was werklik net te swaar vir my mamma-hart om hulle elke dag saam te neem werk toe.  Die drie dae het toe einde ten laas vier dae geword.  Sy is so wonderlik met die kinders, hulle verf, ryg krale in, maak kaartjies, bak koekies….   Ek voel skoon skuldig.

Maar die dame loseer tans by familie, en op 36 is dit ook nie altyd ‘n goeie ding nie.  Maar heelaas sy het nie werk nie, en die vooruitsigte van werk in Amdam is ook 0 %. Toe gaan sit ek en dink, en na baie gebede het ek met ‘n oplossing gekom wat ons albei soos ‘n handskoen pas.  Ons tweede huis staan leeg.  Met ander woorde ek het vir haar blyplek.  Ek het my bediende laat gaan, wat my nie een enkele traan laat pik het nie, want sowaar – ek was naby aan aanranding.  Met die samevoeging van die ‘huurgeld’ van die huis, my bediende se salaris, gratis water en ligte en ‘n klein bietjie ekstra kon ek dit regkry om haar as voltydse huishoudster en ‘nanny’ aan te stel.

Ander mense kan moontlik hulle neuse optrek, my uitkryt en slegsê, maar werk was vir my nog altyd edel.  Of jy nou strate vee, of boeke doen, toilette skoonmaak of ‘n land regeer, werk is werk.  Ek gaan wel nog iemand kry wat een maal ‘n week vir my gaan kom stryk, maar ek is vir die eerste keer in ‘n baaaaie lang ruk ontslae van ‘n berg stres.

Ek weet my kinders is behoorlik versorg.

Nou bid en vertrou ek net dat hierdie nuwe era goed sal verloop.

Tot volgende keer,

 

Pikkie

xxxx


Teach your children well…

2011/12/28

Miskien moet ons hierdie net bietjie meer ter harte neem, en ons kinders leer daar is ‘n ‘regte’ wêreld daar buite, wat nie soos ons as ouers met hulle nonsens gaan tevrede wees nie.   Die lewe is nie maklik nie, en hoe vroeër hulle dit leer en begryp hoe beter.

Ek sal bitter graag elke keer as hulle iets wil hê dit vir hulle wil gee, en die versoeking is ongelooflik groot om dit tog te doen, want eerstens wil ek hulle gelukkig sien en tweedens wil mens net die gekerm laat einde kry, MAAR, dis nie hoe die lewe werk nie.

Net iets om oor na te dink…

xxx


Te en oor

2011/10/18

Die ou mense het ‘n spreekwoord gehad dat alles met ‘n ‘te’ vooraan sleg is behalwe tevrede.   Daar steek seker meer waarheid daarin as wat ons wil glo, dink maar aan teveel, te vet, te maer, te moeg, te laat, te hard, te sag, te ver, te naby, te hoog, te laag ek kan aangaan for ever!

Nou is daar ook nog ‘n ding wat baie naby aan ‘te’ val, en dit is ‘oor’.  Die eerste ding waaraan mens dink is oorpyn wat op sigself ‘n nagmerrie is, maar ek praat van die ander oor.  Oor genoeg, oor as te veel, oorvol, oorwerk, oorlams  :lol:  maar die eintlike ding wat ek met hierdie opdraende pad wil by uitkom is oorbeskermend.

Wanneer is ‘n ouer te oorbeskermend.  Wanneer sy haar kinders elke dag by die skool gaan aflaai en optel al bly hulle net drie blokke van die skool af, en dan nog op ‘n plaasdorpie.  Wanneer jou kinders nie toegelaat word om alleen die strate in te vaar nie.  Wanneer hulle nie buite die grensdrade van die erf toegelaat word nie, bygesê die erf is 78 x 66 vierkante meter.  Ek kan eerlik nie dink daar is nie genoeg speelplek nie.  Wanneer kinders nie toegelaat word om sonder toesig met ‘n boormasjien en saag te werk nie.  Wanneer jy nog elke dag self jou 4 jarige se badwater tap en seker maak dis nie te warm nie?  Wanneer hulle onder geen omstandighede toegelaat word om met skerp voorwerke en vuur te speel nie?

Klein stupid dingetjies, maar ek weet ‘n ongeluk gebeur bitter maklik.  Ek weet hoe dit voel as jou peutertjie haar handjies verbrand omdat sy by die afvoerpyp gespeel het en jy heel onbewus daarvan die groente in die kombuis opwasbak gedreineer het.  Ek weet hoe dit voel as jy in ‘n winkel in ‘n ry staan en na 2 sekondes omkyk en jou woelwater is nie in sig nie.  Ek weet hoe dit voel as jou wilde seuntjie by ‘n muurtjie af  ‘Superman’ en opslag ‘n arm breek.  Ek weet hoe dit voel as jou kleinste teen ‘n kas opklouter en amper haar oog verloor met die afkomslag.

Maar ek weet nie hoe dit voel as jou dogter skool toe loop en ‘n paar meter van daar af ontvoer word en jy haar nooit weer in jou arms kan hou nie.   Ek weet nie hoe dit voel om magteloos toe te kyk hoe jou blyplek in vlamme opgaan en jou kinders binne verbrand nie.  Ek weet nie hoe dit voel om te hoor jou kind is seksueel aangerand by ‘n skool/dagmoeder/versorger nie…

EN EK WIL NIE WEET NIE.

So noem my met liefde oorbeskermend, noem my te, noem my net wat jy wil.   My kinders is die grootste gawe/geskenk wat nog ooit in my sorg toevertrou is, en ek sal alles in my vermoë doen om hulle in ‘n beskermde, veilige omgewing groot te maak.  Op my knieë sal ek hulle uurliks toevertrou aan my Vader se beskerming, en bid dat ek nooit daardie pyn sal beleef nie.


Toevallig nie!

2011/10/11

Kyk ek weet die lewe is duur.  Ek weet venues is ‘n nagmerrie, ek weet catering kos ‘n arm en ‘n been, ek weet kinders ‘n besige, raserige,  rondspringende, laggende, onnutsige skepsels… (dis toevallig hoe ek my kinders verkies  :grin:  )

Maar daar is op hierdie aarde geen manier hoe ek dit enigsins sal oorweeg om enige plek sonder my kinders te gaan nie.  Ek kan nie 400km ry en my kinders ‘iewers’ los om ‘n freaking funksie by te woon nie!  So volgende keer as julle ons nooi vir enigiets, en dit is ‘lewensbelangrik’ dat ons daar moet wees, en almal sal tog so ‘teleurgesteld’ wees as ons dit nie kan maak nie….   Kies ‘n venue en ‘n plek waar my kinders welkom is, selfs ‘n dam of  ‘n creche sal reg wees….

Tot volgende keer

Pikkie


Dinge wat ek geleer het…

2011/10/05

Die laaste drie jaar was seker van die moeilikste – en opwindendste van my lewe.  Dit was swaarkry jare, rondswerf jare, hartseer jare, seerkry jare, maar ook lag jare, vreugde jare, my kinders sien grootword jare en die meeste van alles hoop jare.

Ons trek seker binne die volgende week of twee terug na ons ou huis.

My Drie Gewels.  Die elektrisiëns is so te sê klaar met die herinstalasie van die krag, die loodgieters is op die laaste met die herinstalasie van die waterpype, die verwers vorder goed en die ouens wat die sement om die huis moet gooi is ook al aan die gang ( die sement was uitgekap sodat die diewe die elektriese kabels kon bykom), dis nou nog net die tuin wat aangevat moet word en dan moet ons nog ‘n nuwe heining omsit en dan kan ons weer ingaan.

Dit sal die agtste keer wees wat ons in drie jaar en twee maande trek.  En met ‘n terugblik besef ek dat alles nie onnodig, vergeefs of verniet was nie, want ek het geleer.  So verskriklik baie geleer…

Ek het geleer dat:

Maak nie saak hoe donker die nag vir jou voel nie, more oggend kom die son weer op.

Jou gesin die belangrikste ding is waaraan jy moet vasklou – en soos ‘n tierwyfie moet baklei as dit moet.

Daar altyd iemand anders is wat dit slegter as jy het.

Jou vriende, ware vriende altyd daar is vir jou.

Dat blogvriende, wat jy nog nooit ontmoet het nie, soms nader is en meer bereid is om te help as jou familie.

Dat vriendskappe wat in swaarkry gebou is, op sterk fondamente gebou is.

Dat sommige vriendskappe eenvoudig nie die moeite werd is om aan die gang te hou nie.

Dat twee pakkies two minute noodles en een frankfutter ‘n hele gesin van vier kan voed.

Dat die motor se brandstofliggie vir 8 dae aanmekaar brand en jy nog amper 100 km kan ry sonder dat die kar gaan staan… (ek praat hier van ‘n regte egte wonderwerk.)

Dat daar tye is wat dit makliker is om te lag, en te lag, en te lag as om net in ‘n hopie te sit en te huil.

Dat ek dag vir dag, elke aand soveel gehad het om voor dankie te sê.

Dat die regte man aan jou sy, jou die moed en krag gee om net aan te gaan, al sê en doen hy niks.  Jy weet hy is daar en jy weet jy doen dit vir hom.

Daar niks is wat kan vergelyk met die vreugde op twee kindergesiggies as jy na ‘n 10 uur werksdag tuiskom en hulle in jou arms spring nie.

Dat jy maar net moet aanhou met beur en ploeg as dit moet, niks hou vir altyd aan nie.

Dat kinders die aanpasbaarste wesens denkbaar is.

Dat mens swaarkry gou vergeet.

Dat mens ‘n gemaklike lewe gou vergeet.

Dat jy elke maand voor die 15de al jou geld uit die bank moet trek, voor die bankkoste afgaan.  Dis die einde van die maand se probleem!      😆

Dat mens met bitter min kan klaarkom, 90% van wat ons besit is net ‘clutter’ – kaggelkakkies – onnodige goed wat ons rem en terughou.

Ek kan aanhou en aanhou en aanhou, maar die belangrikste ding wat ek seker geleer het, is dat ek ‘n Almagtige Vader dien wat tree vir tree die pad vir ons oopmaak.  Wat ons versorg, koester, vashou, moed inpraat…

En nou wil ek ‘n paar mense oppie naam noem, Muriel, Kaalvoet, Jane, BB, Krista, Zee, Turksy, Herriemerrie baie, baie dankie vir alles.  Ek glo daar is nog wat ek nie van weet nie, ook vir julle, verskriklik baie dankie….


Maria

2011/08/30

Elke oggend eerste ding, vind ek my weg deur al die koerante.  Ek begin by Nuus 24, dan Beeld, Die Burger en laaste Volksblad.  Elke aand voor ek gaan slaap doen ek presies dieselfde.  Dis deel van my roetiene.  My my-tyd.  Daai deeltjie van die dag wat ek myself gun om te lees.  Om te ervaar wat in die wêreld aangaan.  Om te onthou dat daar meer is as net dit waarin ek leef en waaraan ek gewoond is.

Toe ons in Upington gebly het was daar ‘n tyd wat ons op ‘n kleinhoewe buite Upington gebly het.  Swartkop – die hoewe se naam was sommer ‘Lelik’.  Ek het hier en hier daaroor geskryf. Dit was die enigste gedeelte van Upington wat vir my sin gemaak het, die enigste deel van ons ballingskap waar ek bietjie geluk geken het.  En ek het ‘n vrou gehad wat in die huis gewerk het.  ‘n Vrou wat betroubaar was, wat gesorg het dat daar bietjie orde in die chaos was.  Sy het twee kinders gehad, dieselfde ouderdomme as myne.  Hulle het sommer in die middae oor die klipkoppie geloop en saam met my kinders kom speel.  Saam geëet, saam gespeel, saam kwaad gedoen, saam gelag.  Maria was my regterhand.

En gister lees ek hierdie berig in die Volksblad raak, en ek huil en huil en huil.

UPINGTON. – ’n Derde watertreurspel binne net ’n maand het dié dorp die naweek getref toe ’n vierjarige kleuter en haar sewejarige boetie albei in die kanaal net buite Upington verdrink het.

Die twee was hul ouers, mnr. Mowen en mev. Maria Lubbe, se enigste kinders.

Klein Marsha Lubbe het water uit die kanaal by Leseding net buite Upington gedrink toe sy ingeval het. Haar boetie, Romeo, het agterna gespring, maar albei is deur die sterk stroom water meegesleur.

Vir hul ouma, mev. Berdien Kordom, is hul dood ’n tragiese herinnering aan toe haar seun, Roman (toe tien jaar oud), op 20 November 2008 in dieselfde kanaal verdrink het.

Lede van die polisie se duikspan op Upington het die kinders se lykies Saterdag omstreeks 09:00 uit die kanaal gehaal nadat hulle Vrydagmiddag in die water beland het.

Die Lubbe-egpaar was gister op Keimoes om die tragiese nuus aan familie daar oor te dra. Hul selfoon was afgeskakel en hulle kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Familielede by die gesin se huis, in die brandarm Leseding-nedersetting sowat 10km van Upington kort voor Louisvale, het gister hartseer vertel die kinders was baie lief vir mekaar.

Kordom het met traangevulde oë vertel dit is die tweede keer in drie jaar wat die kanaal kinders van haar eis – eers haar eie seun en nou haar kleinkinders.

Sy is mev. Lubbe se ma.

Marsha, haar boetie en nog twee maats was Vrydag langs die kanaal toe Marsha wou water drink, het een van die maats aan die familie vertel.

Dié vier het maar altyd saamgeloop.

Sy het ingeval en Romeo het dadelik ingespring om haar te help.

Nie een van die twee kon swem nie en die sterk stroom water het hulle meegesleur. Die kanaal is besonder diep in dié gedeelte en was boonop baie vol.

Die voorval was Vrydag tussen 15:00 en 16:00. Die maatjies het Leseding toe gehardloop om hulp te ontbied.

Kapt. Jacques September, woordvoerder van die polisie op Upington, het gesê die duikspan het hul lykies sowat 15km van waar hulle in die water beland het, gekry.

Ek het kontak met Maria verloor, ek het haar bykans 2 jaar laas gesien.  Maar vandag bloei my hart vir haar.  My Mamma-hart ween saam met haar mamma-hart.

Niks wat ek sê kan dit beter maak nie, maar weet my gedagtes is voortdurend by jou!  Sterkte Maria, en ook ek verstaan dit nie…


Flitslig se storie…

2011/08/24

Hier volg my storie soos aangevra deur Toortsie.   Stories opmaak is eintlik Mynick se afdeling.   Ek LEES stories, hy vertel hulle.  Maar nou ja, here goes…

Grts, Grts, Grts…

Een nag terwyl Nicolene in die bed lê hoor sy hierdie snaakse geluid. Doodbang kruip sy dieper onder die komberse in, maar hoe dieper sy gaan hoe minder help dit. Dis naderhand net haar ogies en hare wat uitsteek maar net niks help nie! Sy is te bang om te beweeg. Sy is te bang om vir Mamma te roep, sy voel hoe haar hele lyfie begin bewe…. Ai tog, as een van die grootmense tog net wil inkom, dink sy.

Skielik is dit weer stil… sy spits haar ore, maar hoor niks, net die doef-doef van haar hartjie. Versigtig kruip sy bietjie onder die komberse uit. Nee wat, dink sy, die geluid is nou weg…

Sy draai op haar sy om gemaklik te lê en net toe sy haar koppie op die kussing neersit, hoor sy dit weer… Grts, grts, grts…. Woerts trek sy haar koppie weer toe onder die komberse! Agge nee toggie, wanneer gaan iemand kom om te kom help!!! Sy lê doodstil… Ieeeeeee, wat is dit nou weer???? O dankie toggie, dis net Mamma wat inkom. Sy spring op en hardloop in Mamma se arms in. Mamma troos en kom sit langs haar op die bed.

Stadig, sodat sy niks vergeet nie, vertel sy vir Mamma van die geluid wat haar so bang maak. Mamma sit geduldig en luister na haar storie en net toe sy by die deel kom waar sy haar koppie toegetrek het, hoor sy weer daardie geluid. Grts, grts, grts… Mamma hoor dit ook!

Gelukkig is Mamma nie ‘n bang mens nie, sy staan op en begin soek na die geluid. Eers maak sy die klerekas se deur oop, sy loer binne, blaai deur die klere, kyk onder tussen die skoene, maak die laaie oop. Nee, daar is niks, die geluid kom nie uit die klerekas nie.

Nou stap Mamma na die spieëlkas, gaan ook alles deur en toe sy niks daar kry nie, kyk sy ook in die speelgoedkas, maar niks. Nou wat op aarde kan dan daardie snaakse geluid maak, wonder Mamma hardop. En net daar begin die weer. Grts, grts, grts….

Mamma gaan staan by die deur en roep vir Pappa. Nou is hulle altwee aan die soek en Nicolene begin sommer hierdie speletjie te geniet. Soek Pappa en Mamma die kant van die kamer, is die geluid aan daardie kant van die kamer, gaan hulle na daardie kant toe, is die geluid weer aan diekant.

Pappa en Mamma kom sit langs haar op die bed en begin aan ‘n ander plan te dink… Hulle besluit om eers doodstil te sit en te luister waar die geluid vandaan kom en dan verder te soek. Daar sit hulle al drie toe met gespitste ore… Grts, grts, grts… Aha, dit kom van die venster se kant af!!!! Versigtig op sy tone stap Pappa venster toe en maak die gordyn saggies net so op ‘n skrefie oop!!

Kan jy nou meer… Julle sal nooit glo wat sien hy daar nie!!! ‘n Babakatjie sit op die vensterbank en krap met sy naeltjies teen die venster! Grts, grts, grts… Pappa maak die venster oop en tel die ou maer, koue katjie versigtig in. Nadat hulle hom warmgevryf het en vir hom bietjie melk gegee het, het Nicolene vir hom ‘n bedtjie sommer in haar pop se stootwaentjie gemaak. En van daardie dag af, was Nicolene en Grts, want dit is wat sy die katjie genoem het, beste maatjies….