Net nog een…

2011/08/16

Nee kyk, dis geensins in my aard op te spoeg en plak nie, maar elkeen wat nie ietsie van homself in hierdie gedeelte sien nie, het dringend Die Bril nodig.

Die omie kom gebukkend, skuifelend die pad afgestap, sy verkreukelde hoed styf in sy hand
vasgeklem. Die plooie trek donker dongas oor sy gesig, en sy oë is dof en blou.
Sy klere hang soos ʼn meelsak om hom, sy skoene het al beter dae gesien.
Sy hare wapper in drie slierte om sy voorkop, sonverbrand.

“Boetie! Boetie!” roep hy na my.
Ek gee hom een kyk en kyk dan anderpad.
Net nog ‘n boemelaar, net nog ‘n bedelaar.
“Boetie! Boetie!” roep hy weer.
Ek draai my rug op hom en sluit die motordeur oop.
“Boetie, boetie! Wag, ek wil met jou praat.” Sy stem is skor.
“Seker van al die drank,” dink ek, klim in die motor en sluit die deur.
Hy struikel van die sypaadjie af, kom krom, oud en verwaarloos na my aangestap.
Ek skakel die motor aan, kry trurat en verlaat hom, eensaam en alleen.
“Kry vir jou werk. Maak soos ek maak, dit bring geld, dan kan jy suip tot jy omval,” gaan deur my gedagtes.
Ek kry eerste rat, wikkel die petrolpedaal en laat hom in ʼn stofwolk agter.
Ek sien in die truspieël hy beduie, hande omhoog.
“Ja, joune ook,” sê ek hardop, “net soos jou soort is – as jy nie iets kry nie, is ek altyd die skuldige.”

By die huis vertel ek vir Vroulief van die voorbarige bedelaar, wat ek gesien het.

Vroulief is dadelik Moeder Hen : “Waar slaap die arme man vanaand? Dit lyk asof dit gaan reën.”
“Moenie oor hom worrie nie, sy soort het altyd ‘n plan, hy wurm hom met ‘n sak wyn iewers in
‘n kombers toe en verdrink die dag van môre. Plaas dat hy karre oppas, dit sal daai drankgeldjies meer kosbaar maak.”
“Swerwer, jy is ʼn harde man. Wat daarvan as hy drink? Hy is ook net ʼn mens, net soos jy,” berispe Vroulief.
“Wat, ‘n man soos ek? As hy ʼn man was, het hy ‘n manier gesoek om ‘n geldjie te verdien vir sy lustigheid. Nou wil hy
my geld bedel, dit waarvoor ek gewerk het, met my sweet, my arbeid … Se dinges, vrou! Kom ons vergeet nou die
episode, ek is klaar spyt ek het jou vertel.”
Vroulief stap kop onderstebo kombuis toe, ek maak my gemaklik op die stoep, bier in die hand.
” Kan ook nie jou mond hou nie,” mompel ek.
My hond kom lê onder die stoel en ek voer hom ʼn stukkie biltong. Hy lek my hand dankbaar.
Eensklaps staan vrou in die deur.
“Swerwer, ek het vir die man ‘n pakkie kos gepak, ons vat dit nóú vir hom. Een van die kinders se komberse is ook oor
die muur, ons vat dit ook.”
Ek ken die stemtoon, onverbiddelik.
“Vrou, is jy gek? Die man is seker lankal weg. Gaan skep op, ek is honger,” probeer ek walgooi.
“Swerwerrrrrr … as jy nie wil ry nie…… sal ek,” druk sy dit uit.
Ek weet teëpraat gaan nie help nie, my mooi van môre se dag hang hiervan af.
Ek staan op, vat die motorsleutels, en draai half vermakerig na haar: “Nou kom, as jy hom wil kos gee, doen dit self.”

Ons ry in stilte, met slegs die geruis van bande. Vroulief klou die pakkie op haar skoot vas.
Voor die koöperasie stop ek op dieselfde plek. In die lig van die voertuig sien ek hom
op die sypaadjie sit, sy kop op sy knieë, hande wat hang tot op die grond.

“Sien jy, wat het ek jou gesê? Klaar dronk.”
Vrou ignoreer my, maak die deur oop en skud die omie aan sy skouers.
Stadig lig hy sy kop; trane stroom oor sy wange.
“Nog dronkverdriet ook”, dink ek.

“Omie, ek het ietsie gebring om te eet”, praat Vroulief sag en vat sy hande in hare.
Die omie se lyf begin ruk, hy huil nou openlik, trane stroom deur die plooi-dongas.

“Nooientjie, dis nie ek nie. Die tannie by die huis het in die bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk al twee weke
nie meer nie. Ek het asma, ek kon nie verder nie. Ek het ʼn kêrel probeer stop, maar hy het weggejaag … sonder om te
luister. Al wat ek kon doen, was om te bid. God het vir my ‘n engel gestuur. Asseblief, gaan help die tannie … asseblief,
gaan help haar.”

Ek sit met ʼn knop in my keel, trane wil oor die walle stroom, die hartseer is diep en skerp.
My gemoed is stukkend, my siel in opstand. Waar en wanneer gaan ons
besef: “Ek is my broer se herder”?

Hier moet ek ook my kop in radelose skaamte laat sak…

Advertisements

Sommer

2011/08/11

Daar is soveel goed wat ek as kind myself belowe het, ek NOOIT aan my kinders sal doen nie.   Ongelukkig betrap ek myself al hoe meer juis presies daardie dinge doen.  Is dit nie vreemd dat mens soms in presies die gate trap wat jy ten alle koste wil vermy nie.

Dis net soveel makliker om op sekere ‘Hoekom..’s eenvoudig net ‘sommer’ of ‘omdat ek so sê’ te antwoord.

Mannetjie ek trek jou g@tvelle een vir een met ‘n tweeser af!  (Dis eintlik scary – gross – geweldadig – violent!  hoe kan ek so iets sê?   😯   )

As julle nie nou ophou nie, sit julle die hele middag in julle kamers!  (maar ek weet voor my heilige siel ek sal dit nooit doen nie, want dan moet ek weer die kamers opruim!)

Bly nou bietjie stil!  Ek wil net 7de Laan kyk!   (WDH – dis net ‘n program en ek kan Sondag die hele heruitsending kyk?  )

Jy moet skool toe gaan dat jy kan slim word.   (Huhh – wie fool ek – tuisonderrig sou soveel beter gewees het…)

As jy nie jou spinasie eet nie gaan jy nie groot en sterk word nie…  (maar in die meantime voer ek hulle in alle geval multi-vitamins)

Staan stil jy maak my seesiek!   (Hoekom sê ek dit, dis so commin en OUD?)

En dan die absurdste van alles waaroor ek myself kan haat, is die feit dat ek my doof en blind hou en dan op ‘n dag, vir die geringste – stupidste dingetjie hak ek heeltemal uit, gee hulle elkeen ‘n goeie loesing en staan dan agterna verstom oor die verwarde uitdrukking op hulle gesigte!   Ek dink rerig ek het ‘n wit baadjie wat agter vasmaak nodig, beter nog, ‘n opgestopte kamer.

Nee wat, ek dink dis tyd dat ek my hele ouerskapstyl in heroorweging neem….


Die tag waarin ek nie getag is nie!

2011/08/04

Nie dat ek enigiemand kwalik neem nie, goeiste ek is dan amper nooit meer hier nie!  🙄    Maar vir die wis en die onwis gaan ek ook hier my letsels lys want ek kan amper nie glo dat ander so min het nie!  😆

Ek sal dit maar in volgorde lys vanaf my geboorte tot met vandag:

Op 18 maande val ek in ‘n leë plaasdam in en kry ‘n hou op die kop, nege steke so in die middel rond.  Dit maak dit vandag nog moeilik om ‘n ordentlike kapsel te hê as gevolg van die kroontjies wat ontstaan het.

Op 3 jaag ek met my motorbike binne in die motorhuis deur vas en besorg myself ‘n pragtige 9 steke links bokant my oog waar die haarlyn begin.  COOL

Op 7 is ek te haastig om vir my broer te wag om sy hande klaar te was en duik sommer oor die bad om die seepbakkie by te kom.  Ongelukkig gly my voet op ‘n los matjie en ek verower 12 steke onder my ken!

Op 10 val ek uit die peerboom uit en breek my linker arm.

Op 12 het ek my eerste operasie – liesbreuk – wat toe ietwat skeefloop en die gevolg het dat ek nooit ‘n ‘ietsie bietsie bikini’ kan dra nie.

Dan volg daar ‘n stil tydperk in my lewe.   Eers weer in Matriek op ons ‘40 days’ verloor ek my balans en val agter van ‘n bakkie af.  Weereens ‘n klomp steke op my agterkop!  Dat ek enigsins nog hare het is ‘n wonderwerk!

Dan genadiglik is daar weer stilte – tot my twee keisers!  Come to think of it, met die skryf hiervan begin ek al hoe meer besef my kinders aard beslis na my!  😀

Maar al die uiterlike letsels is eintlik maar net kosmeties.   Dis die innerlike letsels wat niemand sien nie, wat mens maak wie en wat jy is.  En dan is dit natuurlik ook jou keuse hoe jy anderkant gaan uitkom, gaan jy verdrink in jou sorge, jou selfbejammering, jou bitterheid en haat – of – gaan jy sterker word, opstaan, aangaan, elke dag ‘n silly smile op jou bakkies plak en die wêreld vierkantig in die oë kyk??

Interessante een hierdie!

Almal wat nog nie getag is nie, wel, julle is nou getag!


…maar ek kon nie…

2011/08/02

Dit broei nou al ‘n geruime tyd hier in my binneste.  Ek het dit al oorweeg, heroorweeg, daarvoor besluit en dan weer daarteen besluit.   Dis eenvoudig nie ‘n maklike besluit nie.  Vir maande nou al wil ek hierdie blog delete.  Uitwis, wegvee en gisteraand besluit ek vanaand is die aand.

Ek het voor my rekenaar gaan sit, gereed, oorgehaal…  en besluit toe om vir oulaas net weer ‘n paar goed te lees.  Dit was die grootste fout denkbaar.  Vir die helfte van die nag het ek aan die blog gelees.  Van die heel eerste inskrywing af, elke liewe een.  Ek het elke song geluister en elke foto gekyk.

Weereens gelag dat die trane loop en ook gehuil dat die trane loop.

Nodeloos om te sê, ten spyte van die feit dat ek eenvoudig nie meer die tyd het om te skryf nie, dat ek nie werklik eers meer die ‘muse’ het om te skryf nie, kon ek eenvoudig nie die stukkie van my lewe uitvee nie.

Want skielik het ek besef dat die blog ook ‘n plek het in my lewe, en al skryf ek dan nie so gereeld as ek wil nie, en al is daar bitter min van die oorspronklike klomp kêkkelkouse oor.  Is daar nuwe mense om te lees, nuwe stories om oor te lag en nuwe idees om te deel.

So dit wil al vir my voorkom of hierdie bloggie maar hier gaan sit met sporadiese nuwe inskrywings tot die dag wat ek my kop neerlê.

Be kinder than necessary; for everyone you meet is fighting some kind of battle.


‘n Engel

2011/07/11

Ons almal ken haar, ons almal deel in haar lewe, haar vreugde en haar pyn. Ons lees haar raak en wonder. Ek het haar jare terug leer ken maar nog nooit ‘face tot face’ ontmoet nie. Maar sy het sonder om te skroom gedoen wat bitter min sal doen. Met raad en daad het sy my bygestaan. Sonder ‘n rekening, sonder ‘n ‘jy skuld my’ het sy ons gered. As dit nie vir haar was nie, het ons vandag sonder ons huis gesit. Sy het die swendelaars ontmasker en vandag kan ek nie genoeg dankie sê nie! NetJane, vir my is jy nie nie ‘NET’ nie! Vir my beteken dit wat jy vir ons gedoen het onbeskryflik baie.
BAIE, BAIE DANKIE


Skottie is weg… Update

2011/05/04

Ek het my Skottie-kind gekry!  Die arme seuntjie lyk maar gehawend en dood honger en ek het al alles probeer en kry nie al die knapsekêrels af nie, maar hy is veilig!  Tuis en gelukkig! 

Dankie Here vir U ongelooflike seëninge!

Ek kan nie nou skryf nie, ek kan nie nou dink nie, ek kannie nou eers behoorlik kommunikeer nie. Ons Skottie is weg en my seun is verpletter. Ek ry al vir 2 dae op en af in Amsterdam se strate, en daar is nie veel nie, en fynkam elke hoekie en draaitjie, wat natuurlik bemoeilik word deur die 10 voet hoë gras. Ek weier om die ergste te dink. Bid vir my.


Wat is in ‘n naam?

2011/05/01

Name het my nog altyd gefasineer. Veral die eksotiese name, en stupid name! Ander mense het weer name wat so by hulle persoonlikheid pas dat ek oortuig is ‘n engeltjie het in hulle ouers se ore gefluister toe hulle swanger was.

In die stad moet kinders om een of ander rede ‘n fancy naam hê: Aysel, Shani of Eolande as dit ‘n dogter is of Dalmar, Niyol of Sivan as dit ‘n seuntjie is. – Wie wil nou ‘n kind maanlig, ongelooflik of viooltjie en veelsydig, wind en skaapwagter noem?

Dan was daar die ‘Diana’ fase. Net na die troue het die skole omtrent ‘n katastrofe van epidermiese proporsie gehad om die Diana’s uitmekaar te ken. Ek weet van ‘n skool waar hulle nommers agter die kinders se name gesit het – Diana 1, Diana 2, ens. Wat my nou laat wonder of ons nou in ‘n Cathrine fase gaan inbeweeg. Min het ek geweet my dogtertjie gaan na ‘n toekomstige koningin heet! 😆

My kinders het familiename, maar ek sou dit nie eers oorweeg het as dit nie betekenis gehad het nie. John (God is genadig) het sy oupa aan vaderskant se name, sy tweede naam beteken ‘Oorwinnaar’ en Cathrine (Rein) het my ma se name, hmmm met ‘n kinkel, ek het haar die Engelse name gegee want die Afrikaanse name het nie by ons van gepas nie, haar tweede naam beteken ‘God se belofte’.

Elke geloof het ook sy eie name en so ook elke land met sy herkoms en tradisies.

Hier in die platteland is dit egter of dinge nog bietjie anders gedoen word. Hier kry jy nog Pieter, Hannes, Johan, Martinus onder die seuns. En jy kry nog Elbie, Elsie, Rina en Anna.
Nou moet ek ook noem dat daar sekere name is wat wraggies so mooi is, mens voel lus om dit te eet! Ek dink aan Cara, Sibonè, Elrinda en Anika. Sekere tale se name sê ook net lekkerder!

Ander name het weer vir my goeie en slegte konnektasies, en alhoewel mens nie bevooroordeeld wil wees nie sal ek twee keer dink of ek rerig vriendelik wil wees en of ek die hasepad wil kies! Sies ek is ‘n nare mens! :mrgreen:

Nou wonder ek wat is julle gunsteling name en wat staan julle nie aan nie?