Baie dankie vir almal se kommentaar. Nou die ou vraag, wat wil julle eerste hoor, die goeie of die slegte nuus??? Miskien moet ek by die positiewe dinge begin, vir die wat nie my depressie wil aanhoor nie… lees net halfpad en hou dan op. Die mense wat ons trek gery het sal ek vir enigeen aanbeveel. As julle ooit in die Kaap wil rondtrek, bel vir Roelien by Lowline Furniture Removals in Upington! Hulle is uitstekend. Soos ek gesê het, dit was nie ‘n trekkie nie, dit was ‘n trek! met ‘n papegaai! Ek het sowaar as vet nie eers een gebreekte wynglas, of een krappie aan my meubels nie. Dit wil gedoen word. Een van die mans wat die trek gery het, het met genot aan ons verduidelik dat hy die heelpad ‘n ‘conversation’ met die papegaai gehad het!
Die winkels is NABY, tot Mynick se bankbestuurder se frustrasie, Whahaha, en die beste van alles die dokter is net sewe minute se ry van my af en die Medi-kliniek is presies twee blokke van my huis af! Verder kan ‘n mens letterlik enigiets wat jy soek iewers in Upington kry. Ek het ook vinnig geleer wat om waar te gaan soek. Ons het ook vir Mynick ‘n Vuca-scooter gekoop waarmee hy werktoe en terug ry, met die petrolpryse is dit nou wragtig die ‘bargain’ van die leeftyd! Hy gebruik presies 1.15liter brandstof per week!!!!
Die grootste pluspunt is natuurlik dat ek by my man is! Ek sou in my lewe nooit gedink het dat ek ‘n ander persoon so verskriklik lief kon kry nie. Die paar weke sonder hom was solid hel en ek wil dit nooit weer oorhê nie.
Nou moet die wat nie van die negatiewe dinge wil lees nie dadelik ophou lees en gou iewers anders ietsie gaan lees!!!! Ouboet het ‘n ongelooglike moeilike tyd. Ek is raadop. Nie alleen het hy weer begin bed natmaak nie, hy het ook in ‘n gruwelike trol verander. Niks wat ek sê is reg nie, hy praat tee oor alles, is heeltyd op die kwaaddoen uit. Skree as iets hom nie pas nie, weier om opdragte uit te voer. Ag die lysie is eindeloos. Gewoonlik sal ek baie dinge net ignoreer, maar daar is perke aan alles… ‘n mens moet bad, jy moet eet, jy maak nie jou sussie met ‘n tou aan ‘n boom vas of slaan haar met ‘n graaf nie!!! Ek kry my kind so verbitterlik jammer, maar ek kan tog nie skielik alles toelaat net omdat daar veranderings in ons lewens gekom het nie… Oi!… weghardloop is die inding! Poppedyn is egter nog net haar vrolike self buiten vir die feit dat al my sleeptraining na die maan is. Sy word weer gemiddeld agt keer ‘n nag wakker.
Poppedyn het vandat ons hier is al twee keer mangelontsteking gehad en Ouboet het tans vir die tweede keer lugweginfeksie… Verder kan ek nie ‘n bediende bekostig nie. Hulle dagloon is R80.00 en dan moet jy hulle nog R24.00 per dag taxigeld ook gee… So ek maak huisskoon, pak uit, was wasgoed, stryk, pas kinders op, maak huisskoon, maak kos, maak huisskoon, was wasgoed….. en so gaan dit aan en aan.
Nou wil ek net nog een ding hier sê en dit is dankie! Dankie vir almal wat in my kamp skree en my aanmoedig. En ‘n groot, vet, baie spesiale dankie aan my vriendin Wipneus, wat my deur hierdie laaste tydjie gedra het. Wat my aangemoedig het, saam met my gehuil het, my goed en ordentlik uitgetjorts het as sy gedink het dit is nodig, wat my moed ingepraat het as die storms my onderstebo wou slaan en maar net altyd daar was! Thanks Siamees, Jy is die beste….
