Okey Dokey!

2008/08/26

Nou ja, ek is seker veronderstel om ‘n traangevulde bye-bye vir julle te sê, ….   maar ek het rerig nie die tyd om op trane te mors nie, en soos ‘n “geliefde” e-mail vriend gesê het, ek sal rerig hulp moet kry met die ernstige depressie waaraan ek ly!!!   ROFL   –   idioot, ek lag nog steeds vir jou…. 

Maar dit daar gelaat.   My DSL word more gediskonnekteer, afgesny, gediscontinue noem dit wat jy wil, maar tot ek weer eendag ‘n telefoon en DSL – lyn in Upington het, sal ek seker maar wel moet groet!  Maar wees verseker, ek kom terug, ek is nog lank nie opgeblog nie…  Ek het nog baie dinge om te sê, daar is nog baie mense wat ek vreeslik graag wil irriteer, ek wil nog ‘n paar na hulle valstande laat gryp en beslis ‘n paar laat dans.  Verder beveel ek julle om om liefdeswil nie siek te word, in hospitale te lê of assebliefie toggie dood te gaan nie.  Ek kom haal vir julle waar julle ookal is, ek verwag ‘n hengse ‘welkom terug’ party en die een wat nie daar is nie, wel…  my broer is ‘n begrafnisondernemer, so be warned!!!

 

OOPS, amper vergeet ek!   Aventer en Jaans, baie baie sterkte met julle eksamens.  Ek dink ons almal besef julle is redelik gatvol, maar druk deur en doen net die beste wat julle kan.  Strongs!!!

Advertisements

Vriendskap…

2008/08/23

Wat is vriendskap?  Dis ‘n vraag waarmee ons almal soms worstel, ek dink ek het tog die antwoord gevind!  ‘n Vriend is iemand wat daar is as al die sogenaamde vriende verdwyn het.  In jou diepste nood, as jy opkyk en daar is ‘n Scype-call, ‘n sms of ‘n oproep!  ‘n Vriend hoef nie noodwendig ‘n gesig te hê nie…  ‘n Foto is soms naby genoeg.  ‘n Stem wat vertroos en bystaan en jou laat lag dat die trane loop en jou familie dink jy het al jou varkies verloor!   Dis iemand wat jou diepste geheime en vrese ken, en jou aanvaar vir wie en wat jy is, sonder voorbehoud en vermaning.  Wat in jou hoek, met hand en tand baklei tot die bloed loop, as jy uitgeslaan is.  Ek het daardie vriend gevind….  

Aan my Vriendin Wipneus….   Dankie vir wie en wat jy is…


Ek volstaan…

2008/08/15

Met hierdie 181ste inskrywing gaan ek vir eers volstaan…  Ek dink ek gaan net bietjie ‘n breek vat.  Ek voel al soos ‘n hond omdat ek nie meer by almal uitkom nie.  Ek scan vinnig deur die inskrywings, lag lekker saam met julle, huil saam met ander, is opgewonde oor babas wat kom en skel net so lekker saam met ander.  Maar julle moet saamstem, my lewe is nie maanskyn en rose op die oomblik nie.

Ek sukkel my alie af om my huis verkoop te kry, het eers Donderdag ‘n ander huis in Upington gekry.  Sukkel met siek kinders, sukkel om gepak te kry met vier klein handjies wat my van die wal af in die sloot wil help, sukkel om ‘n vragmotor te kry om ons trek te ry wat my nie ‘n vragmotor se prys kos nie, sukkel om die vervoermaatskappye te laat verstaan dat daar ‘n Amsterdam in Suid-Afrika is en dat ek definitief nie van Holland af wil trek nie, sukkel om ‘n vragmotor te kry om my ouers se meubels na hul bestemming te vervoer, sukkel om my Ouma sover te kry om saam te trek of dan net ten minste nader aan haar ander kinders, sukkel om ook vir haar blyplek te kry.  Ek sukkel om my sanity te behou sonder Mynick naby my, ek mis sy kalmte en teenwoordigheid.  Ek is moeg om vir die kinders te probeer verduidelik dat my man ons wel sal kom haal, en dat hy nie vir altyd weg is nie.  Die ketel, stofsuier en geyser het gekalf, die ‘frenchdrain’ (jip, hier is nog nie ‘n rioolstelsel in Amsterdam nie) het oorgeloop en ons was letterlik in die k*k. 

Om alles saam te vat, ek het nie die krag of die lus, met al hierdie nonsens wat nou nog hier aangaan, om nou enigiets te skryf nie.

Hierdie een dra ek op aan my Alles…  Mynick, ek mis jou, die kinders mis jou, ons hele wêreld is op sy kop.  Maar die slapies word min en een van die dae is ek daar, al sleep ek die bokse nou een-een Upington toe…  Love you to bits!!!


Elke vrou…

2008/08/15

Elke vrou behoort te besef sy kan nie veel verander aan die lengte van haar bene…  die wydte van haar heupe of die geaardheid van haar ouers nie…

Elke vrou behoort te besef haar kinderjare mag dalk nie perfek gewees het nie…  maar dis verby!

Elke vrou moet vir haarself uitklaar presies wat sy sal doen of nie sal doen ter wille van die liefde…  hoe om alleen te bly selfs al hou sy nie daarvan nie…  wie sy kan vertrou en wie nie, en hoekom sy dit nie persoonlik moet opneem nie.

Elke vrou behoort te weet waar om te gaan as haar siel lafenis nodig het, of dit nou haar beste vriendin se kombuis of ‘n luukse gesondheidspa in die berge is.

Elke vrou behoort te weet wat die nuutste haarkleursel produk, lipstiffie, sykous en ontrippelingsroom produkte op die mark is.

Elke vrou behoort te weet hoeveel van haarself sy elke dag aan haar kinders, haar man, haar familie en haarself kan spandeer.

Elke vrou behoort te weet wat sy sal kan regkry binne een dag, een maand en een jaar… en wat sy nie sal kan regkry nie…

Elke vrou behoort ‘n vriendin of twee te hê met wie sy haar geheime, vrese en opwinding kan deel, saam met wie sy kan lag en dans en sing, sonder rede, sommer net as vrou…

Want elke vrou is baie spesiaal en kosbaar…

Vir julle my vriendinne…   Hoop julle het ‘n heerlike naweek!!! 


Dis so mooi!!!

2008/08/14

Boendoe was so gaaf gewees om haar sirkus hier na ons dorpie toe te stuur!  Ek was uit my vel uit!  Ouboet was nog nooit by die sirkus nie, die naaste wat hy daarby gekom het was ‘n ietwat negatiewe weergawe wat hy op een van sy ‘Gouelokkies en die drie beertjies’ Dvd gesien het. 

Ek was geskok toe ek sien wat dit kos, R50.00 vir onbespreekte sitplekke, R80.00 vir bespreek en R100.00 vir die voorste gestoeltes.  Nietemin, ek druk my hand toe diep in my sak in en kry vir ons 3 R100.00 kaartjies, (vir my, Ouboet en Oupa), want as ek die geld dan moet uitgee doen ek dit maar behoorlik.  Ek was nie teleurgesteld nie! 

OK, ek moet byvoeg dat Amsterdam nou nie van die vooruitstrewendste mense het nie, die tent was maar half vol (wat eintlik ‘n fees was) en almal maar almal wat dit kon bekostig was daar!   Ek kan julle nie eers vertel hoeveel mense ek mee gesels het nie, mense wat voorheen nie eens bewus was van my bestaan nie.  Dit was ‘n kwessie van twee tree loop, stop, “Hoe gaan dit met Jounick” – nee baie goed dankie – “wanneer trek julle” – oor twee weke – ” wat van die huis” – ek weet nie, sal maar sien – ” Cope jy?” – Ag please, hoe lyk dit vir jou…   ensovoorts,ensovoorts…  Wel uiteindelik het die sirkus begin en ek was AMAZED!!!

Ek was toe ek in graad 2 was laas in die sirkus en die eerste ding wat ek gedoen het toe ek ingaan was om my vriendin, Wipneus te SMS – “Was die tente altyd so klein, jyts, ek dog dis baie groter???” – “Whahahaha, (lag sy vir my) Nee jou pampoen, jy was baie kleiner…”  Nietemin, die vertoning was uit die boonste rakke.  Ek glo nie hierdie mense maak ‘n duit geld in Amsterdam nie, dit kan onmoontlik winsgewend wees om hier op te tree, maar hulle show was ongelooflik goed en profesioneel. 

Die eerste item was die tiere en die leeus, dit was spot on!  Ouboet het vasgesement op sy stoel gesit!  Tiger is dan daar!!!!   Ek dink as hy lank genoeg sonder asem kon bly sou hy nie eers asemgehaal het nie!  My hiperaktiewe kind het betower deur die hele vertoning gesit!  Maar sy mondjie was nooit stil nie, tussen die hoekoms en waaroms was dit ‘n onophoudelike stroom van “Dis so mooi!  –  Wow! – Doen dit weer!” – ek is oortuig iewers was daar ‘n verdwaalde “Goeie donnir” ook gewees, maar toe ek hom vinnig aankyk was daai gesiggie so betowerd dat ek dit maar daar gelaat het.  Sy gunsteling was ‘n dame wat aan lappe rondgeswaai en toertjies gedoen het.  Sy Ursula (alla George of the Jungle) sal hy seker nooit in sy lewe vergeet nie!  Ek kan ook byvoeg dat ek nog nooit sulke skreeusnaakse hansworse in my lewe gesien het nie!

Nou ja, all in all, ‘n aand om nooit te vergeet nie!  En glo my as daardie sirkus ooit weer in ons omgewing is, sal ek nie huiwer om weer daardie geld uit te haal nie.


Mamma

2008/08/13

Sien julle daai smile op hierdie mamma se gesiggie – DIS FAKE/AANGEPLAK!!!!!!

As julle mooi kyk sal julle die sirkels onder haar oë sien….


8,10 of 12

2008/08/12

Hierdie kan bloot my verbeelding wees, maar ek glo nie!  Tien jaar terug as ek by ‘n winkel ingestap het, het ek eenvoudig ‘n nommer 8 klere, maak nie saak nie, broek, hemp, rok, baadjie van die rak af gehaal, dit betaal en huistoe gegaan.  Ek het dan die labels afgesny, dit in die was gegooi en gedra. Punt.  Ek het nooit getwyfel nie, ek het geweet dit gaan pas.  Ek het ook nooit foute gemaak nie, dit HET gepas.

Deesdae is dit nie die geval nie.  OK my lyf is ook darem nie meer wat dit was nie, ek het darem twee kinders agter die blad (of moet ek sê boude en maag), maar die punt is, volgens my afmetings is ek veronderstel om nou ‘n nr 10 klere te dra!  In my dreams, baby, in my dreams….

Stap ek by Woolies of Truworhs in, kan ek met ‘n redelik geruste hart ‘n nommer 10 (of dan ‘n 34) klere koop.  Dit gaan of pas of effens groot wees, stap ek by Edgars in kan ek maar eerder soek vir ‘n nommer 11, stap ek by enige ander winkel in, is dit pas en pas en pas en pas….  Ek vat maar so al die sizes van ‘n nommer 8 af tot by ‘n nommer 12 in dieselfde artikel en gaan pas.  Nie so maklik met ‘n hiperaktiewe kleuter en ‘n baba in ‘n stootwaentjie nie.  Daai aantrekhokkies is nie gebou vir ‘n Tarzan, ‘n pram en ‘n ma wat aantrek en uittrek nie!!!  Ek het tot die slotsom gekom dat ‘n mens nie mag klere koop as jy klein kindertjies het nie.

Nou wonder ek wat is die oorsaak hiervan.  Mynick sal sonder om twee keer te dink ‘n vinnige antwoord gee…  “Dis die Chinese…”   Maar het hy nie dalk ‘n punt beet nie?  Die meeste van ons hedendaagse klere word vanaf die Ooste ingevoer.  Dink bietjie daaraan, hulle is heelwat kleiner as ons, kledingstukke word teen ‘n abnormale tempo in abnormale hoeveelhede gemaak.   Stap by ‘n boetiek in en wat kry jy…  Klere ingevoer van Bankok!!!  HUH!!!            Wat maak dit so special????   

  

Dis nie asof dit uniek is nie!   Dieselfde onderbetaalde, 16 uur per dag werkers maak dit!   Wel my punt is, ek willie meer klere koop nie.  Daar is in alle geval selde ooit of amper nooit meer iets in die winkels waarvan ek hou nie.  Ek dink dit het tyd geword om weer my Singer nader te sleep en te begin stik.  Nee koek, alles wat ek koop moet in alle geval eers verstel word, so wat is die verskil!!! 

Kry julle nog klere wat reg pas?  Waar koop julle en hoe koop julle?