Te en oor

2011/10/18

Die ou mense het ‘n spreekwoord gehad dat alles met ‘n ‘te’ vooraan sleg is behalwe tevrede.   Daar steek seker meer waarheid daarin as wat ons wil glo, dink maar aan teveel, te vet, te maer, te moeg, te laat, te hard, te sag, te ver, te naby, te hoog, te laag ek kan aangaan for ever!

Nou is daar ook nog ‘n ding wat baie naby aan ‘te’ val, en dit is ‘oor’.  Die eerste ding waaraan mens dink is oorpyn wat op sigself ‘n nagmerrie is, maar ek praat van die ander oor.  Oor genoeg, oor as te veel, oorvol, oorwerk, oorlams  😆  maar die eintlike ding wat ek met hierdie opdraende pad wil by uitkom is oorbeskermend.

Wanneer is ‘n ouer te oorbeskermend.  Wanneer sy haar kinders elke dag by die skool gaan aflaai en optel al bly hulle net drie blokke van die skool af, en dan nog op ‘n plaasdorpie.  Wanneer jou kinders nie toegelaat word om alleen die strate in te vaar nie.  Wanneer hulle nie buite die grensdrade van die erf toegelaat word nie, bygesê die erf is 78 x 66 vierkante meter.  Ek kan eerlik nie dink daar is nie genoeg speelplek nie.  Wanneer kinders nie toegelaat word om sonder toesig met ‘n boormasjien en saag te werk nie.  Wanneer jy nog elke dag self jou 4 jarige se badwater tap en seker maak dis nie te warm nie?  Wanneer hulle onder geen omstandighede toegelaat word om met skerp voorwerke en vuur te speel nie?

Klein stupid dingetjies, maar ek weet ‘n ongeluk gebeur bitter maklik.  Ek weet hoe dit voel as jou peutertjie haar handjies verbrand omdat sy by die afvoerpyp gespeel het en jy heel onbewus daarvan die groente in die kombuis opwasbak gedreineer het.  Ek weet hoe dit voel as jy in ‘n winkel in ‘n ry staan en na 2 sekondes omkyk en jou woelwater is nie in sig nie.  Ek weet hoe dit voel as jou wilde seuntjie by ‘n muurtjie af  ‘Superman’ en opslag ‘n arm breek.  Ek weet hoe dit voel as jou kleinste teen ‘n kas opklouter en amper haar oog verloor met die afkomslag.

Maar ek weet nie hoe dit voel as jou dogter skool toe loop en ‘n paar meter van daar af ontvoer word en jy haar nooit weer in jou arms kan hou nie.   Ek weet nie hoe dit voel om magteloos toe te kyk hoe jou blyplek in vlamme opgaan en jou kinders binne verbrand nie.  Ek weet nie hoe dit voel om te hoor jou kind is seksueel aangerand by ‘n skool/dagmoeder/versorger nie…

EN EK WIL NIE WEET NIE.

So noem my met liefde oorbeskermend, noem my te, noem my net wat jy wil.   My kinders is die grootste gawe/geskenk wat nog ooit in my sorg toevertrou is, en ek sal alles in my vermoë doen om hulle in ‘n beskermde, veilige omgewing groot te maak.  Op my knieë sal ek hulle uurliks toevertrou aan my Vader se beskerming, en bid dat ek nooit daardie pyn sal beleef nie.

Advertisements

Toevallig nie!

2011/10/11

Kyk ek weet die lewe is duur.  Ek weet venues is ‘n nagmerrie, ek weet catering kos ‘n arm en ‘n been, ek weet kinders ‘n besige, raserige,  rondspringende, laggende, onnutsige skepsels… (dis toevallig hoe ek my kinders verkies  😀  )

Maar daar is op hierdie aarde geen manier hoe ek dit enigsins sal oorweeg om enige plek sonder my kinders te gaan nie.  Ek kan nie 400km ry en my kinders ‘iewers’ los om ‘n freaking funksie by te woon nie!  So volgende keer as julle ons nooi vir enigiets, en dit is ‘lewensbelangrik’ dat ons daar moet wees, en almal sal tog so ‘teleurgesteld’ wees as ons dit nie kan maak nie….   Kies ‘n venue en ‘n plek waar my kinders welkom is, selfs ‘n dam of  ‘n creche sal reg wees….

Tot volgende keer

Pikkie


Dinge wat ek geleer het…

2011/10/05

Die laaste drie jaar was seker van die moeilikste – en opwindendste van my lewe.  Dit was swaarkry jare, rondswerf jare, hartseer jare, seerkry jare, maar ook lag jare, vreugde jare, my kinders sien grootword jare en die meeste van alles hoop jare.

Ons trek seker binne die volgende week of twee terug na ons ou huis.

My Drie Gewels.  Die elektrisiëns is so te sê klaar met die herinstalasie van die krag, die loodgieters is op die laaste met die herinstalasie van die waterpype, die verwers vorder goed en die ouens wat die sement om die huis moet gooi is ook al aan die gang ( die sement was uitgekap sodat die diewe die elektriese kabels kon bykom), dis nou nog net die tuin wat aangevat moet word en dan moet ons nog ‘n nuwe heining omsit en dan kan ons weer ingaan.

Dit sal die agtste keer wees wat ons in drie jaar en twee maande trek.  En met ‘n terugblik besef ek dat alles nie onnodig, vergeefs of verniet was nie, want ek het geleer.  So verskriklik baie geleer…

Ek het geleer dat:

Maak nie saak hoe donker die nag vir jou voel nie, more oggend kom die son weer op.

Jou gesin die belangrikste ding is waaraan jy moet vasklou – en soos ‘n tierwyfie moet baklei as dit moet.

Daar altyd iemand anders is wat dit slegter as jy het.

Jou vriende, ware vriende altyd daar is vir jou.

Dat blogvriende, wat jy nog nooit ontmoet het nie, soms nader is en meer bereid is om te help as jou familie.

Dat vriendskappe wat in swaarkry gebou is, op sterk fondamente gebou is.

Dat sommige vriendskappe eenvoudig nie die moeite werd is om aan die gang te hou nie.

Dat twee pakkies two minute noodles en een frankfutter ‘n hele gesin van vier kan voed.

Dat die motor se brandstofliggie vir 8 dae aanmekaar brand en jy nog amper 100 km kan ry sonder dat die kar gaan staan… (ek praat hier van ‘n regte egte wonderwerk.)

Dat daar tye is wat dit makliker is om te lag, en te lag, en te lag as om net in ‘n hopie te sit en te huil.

Dat ek dag vir dag, elke aand soveel gehad het om voor dankie te sê.

Dat die regte man aan jou sy, jou die moed en krag gee om net aan te gaan, al sê en doen hy niks.  Jy weet hy is daar en jy weet jy doen dit vir hom.

Daar niks is wat kan vergelyk met die vreugde op twee kindergesiggies as jy na ‘n 10 uur werksdag tuiskom en hulle in jou arms spring nie.

Dat jy maar net moet aanhou met beur en ploeg as dit moet, niks hou vir altyd aan nie.

Dat kinders die aanpasbaarste wesens denkbaar is.

Dat mens swaarkry gou vergeet.

Dat mens ‘n gemaklike lewe gou vergeet.

Dat jy elke maand voor die 15de al jou geld uit die bank moet trek, voor die bankkoste afgaan.  Dis die einde van die maand se probleem!       😆

Dat mens met bitter min kan klaarkom, 90% van wat ons besit is net ‘clutter’ – kaggelkakkies – onnodige goed wat ons rem en terughou.

Ek kan aanhou en aanhou en aanhou, maar die belangrikste ding wat ek seker geleer het, is dat ek ‘n Almagtige Vader dien wat tree vir tree die pad vir ons oopmaak.  Wat ons versorg, koester, vashou, moed inpraat…

En nou wil ek ‘n paar mense oppie naam noem, Muriel, Kaalvoet, Jane, BB, Krista, Zee, Turksy, Herriemerrie baie, baie dankie vir alles.  Ek glo daar is nog wat ek nie van weet nie, ook vir julle, verskriklik baie dankie….