Julle sal my seker nie glo nie, maar daar is tog ‘n paar goedjies wat ek met sukses in die kombuis kan saamslaan… Nouwel nie baie nie, en ek is bitter skrikkerig vir nuwe idees, maar my gesin het tot nou toe darem oorleef.
Moet net nie vir my ‘n vreeslike drie bladsy resep gee nie… my brein verdwaal by die 12de bestandeel wat nog te sê die 34 ste aanwysing…
Hier is een die Losmoertjies se gunstelinge:
Pikkie se Potluck! (‘n anderste resep vir almal soos ek wat rerig nie kan kosmaak nie…)
(Ek het vergeet om te sê jy moet ‘n ‘slow-cooker’ hê!!! 😀
1 Groot ui – fyn gekap
1 kg Skaapkookvleis (Dit kan sommer lekker goedkoop wees want dit gaan laaaank kook…)
1 koppie kookwyn (of die wat Saterdagaand oorgebly het)
1koppie water
1 Knorrox mutton blokkie
1 teelepel sout
1 teelepel gemengde kruie
Dis al vir eers…
Neuk nou alles in die slow-cooker en dis hier waar die geheim inkom. As jy heeldag by die werk gaan wees, sit die pot op Auto-shift en as jy tuis gaan wees – soos op ‘n Sondagoggend sit die pot op high.
Nou gaan stort jy en trek aan, doen jou hare, plak jou bakkies op, trek die kinders aan, voer hulle Wheatbix en gaan werk toe – alternatief – klim terug in die bed of gaan speel met die kinder.
Die volgende bestanddele kan iewers gereed gekry word.
8 Wortels – geskil en in groot cubes gesny
5 Aartappels – geskil en in 8 stes gesny
4 heel soetmielies – in bite-size stukke gesny
1\2 sachet Tamatie puree.
(enige ander groente wat jou gesin eet sonder om bykans moord te skree as dit op hul borde verskyn…)
Metode vir as jy heeldag by die huis is….
Gooi nou al bogenoemde bestanddele in die pot min of meer ‘n uur voor jy die kos gaan voorsit. Sit ‘n potjie rys op as jy ‘n rys eter is. Anders gaan speel nou weer met die kinders….
Metode vir as jy heeldag by die werk is….
Skakel die bediende 1 1/2 uur voor jy huistoe gaan, sê vir haar om nou die wortels en aartappels te skil en in stukke te sny. Die mielies skoon te maak en ook in drie te sny. Sy moet nou alles in die pot gooi en seker maak daar is nog genoeg vloeistof, anders moet sy nog ‘n halwe koppie van die wyn wat jy ingegooi het (en sy hopelik nie opgedrink het nie) bygooi.
Finale afronding
Gooi nou bietjie Chutney by en roer alles deur.
Gaan bad die kinders en dek die tafel. Maak nou bietjie cous-cous. (Njammies).
Bedien die gereg met die Cous-cous en ‘n vars mengelslaai.
SIEN SKOOR – EK KAN OOK KOOK!!!