Maria

Elke oggend eerste ding, vind ek my weg deur al die koerante.  Ek begin by Nuus 24, dan Beeld, Die Burger en laaste Volksblad.  Elke aand voor ek gaan slaap doen ek presies dieselfde.  Dis deel van my roetiene.  My my-tyd.  Daai deeltjie van die dag wat ek myself gun om te lees.  Om te ervaar wat in die wêreld aangaan.  Om te onthou dat daar meer is as net dit waarin ek leef en waaraan ek gewoond is.

Toe ons in Upington gebly het was daar ‘n tyd wat ons op ‘n kleinhoewe buite Upington gebly het.  Swartkop – die hoewe se naam was sommer ‘Lelik’.  Ek het hier en hier daaroor geskryf. Dit was die enigste gedeelte van Upington wat vir my sin gemaak het, die enigste deel van ons ballingskap waar ek bietjie geluk geken het.  En ek het ‘n vrou gehad wat in die huis gewerk het.  ‘n Vrou wat betroubaar was, wat gesorg het dat daar bietjie orde in die chaos was.  Sy het twee kinders gehad, dieselfde ouderdomme as myne.  Hulle het sommer in die middae oor die klipkoppie geloop en saam met my kinders kom speel.  Saam geëet, saam gespeel, saam kwaad gedoen, saam gelag.  Maria was my regterhand.

En gister lees ek hierdie berig in die Volksblad raak, en ek huil en huil en huil.

UPINGTON. – ’n Derde watertreurspel binne net ’n maand het dié dorp die naweek getref toe ’n vierjarige kleuter en haar sewejarige boetie albei in die kanaal net buite Upington verdrink het.

Die twee was hul ouers, mnr. Mowen en mev. Maria Lubbe, se enigste kinders.

Klein Marsha Lubbe het water uit die kanaal by Leseding net buite Upington gedrink toe sy ingeval het. Haar boetie, Romeo, het agterna gespring, maar albei is deur die sterk stroom water meegesleur.

Vir hul ouma, mev. Berdien Kordom, is hul dood ’n tragiese herinnering aan toe haar seun, Roman (toe tien jaar oud), op 20 November 2008 in dieselfde kanaal verdrink het.

Lede van die polisie se duikspan op Upington het die kinders se lykies Saterdag omstreeks 09:00 uit die kanaal gehaal nadat hulle Vrydagmiddag in die water beland het.

Die Lubbe-egpaar was gister op Keimoes om die tragiese nuus aan familie daar oor te dra. Hul selfoon was afgeskakel en hulle kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Familielede by die gesin se huis, in die brandarm Leseding-nedersetting sowat 10km van Upington kort voor Louisvale, het gister hartseer vertel die kinders was baie lief vir mekaar.

Kordom het met traangevulde oë vertel dit is die tweede keer in drie jaar wat die kanaal kinders van haar eis – eers haar eie seun en nou haar kleinkinders.

Sy is mev. Lubbe se ma.

Marsha, haar boetie en nog twee maats was Vrydag langs die kanaal toe Marsha wou water drink, het een van die maats aan die familie vertel.

Dié vier het maar altyd saamgeloop.

Sy het ingeval en Romeo het dadelik ingespring om haar te help.

Nie een van die twee kon swem nie en die sterk stroom water het hulle meegesleur. Die kanaal is besonder diep in dié gedeelte en was boonop baie vol.

Die voorval was Vrydag tussen 15:00 en 16:00. Die maatjies het Leseding toe gehardloop om hulp te ontbied.

Kapt. Jacques September, woordvoerder van die polisie op Upington, het gesê die duikspan het hul lykies sowat 15km van waar hulle in die water beland het, gekry.

Ek het kontak met Maria verloor, ek het haar bykans 2 jaar laas gesien.  Maar vandag bloei my hart vir haar.  My Mamma-hart ween saam met haar mamma-hart.

Niks wat ek sê kan dit beter maak nie, maar weet my gedagtes is voortdurend by jou!  Sterkte Maria, en ook ek verstaan dit nie…

8 Responses to Maria

  1. MaanKind says:

    Ag dis so hartseer! Weet jy, my pa moes se broer se kinders se lykies uit so ‘n kanaal haal, en hy het na 60 jaar steeds trane in sy oë gekry as hy daaroor praat.

  2. Son says:

    Agge nee – dis verskriklik! Ek het nie woorde nie. Dalk kan jy vir Maria ‘n briefie skryf?

    • Pikkelik says:

      A Sonnie, daai gemeenskap is armer as arm… Ek glo nie eers hulle kry ooit pos nie. Ek het gister maar ‘n pakkie in die pos gegooi geadresseer aan my gewese buurvrou en vreeslik mooi gevra of sy dit nie net daar kan aflaai nie. Ek kan nie dink dat ek so geskok is oor die hele besigheid nie. Dit is seker die wete dat dit myne ook kon gewees het.

  3. turksvy says:

    Ag, dis verskriklik!!!
    En twee sulke mooi ou kindertjies… 😦

  4. Louisa says:

    Aggenee, dis so hartseer!

  5. Mefri says:

    Sjoe, hoe skiet my hart nou vol trane…. Siestog, die arme ouers

  6. Jen says:

    Ek huil saam met jou Piks!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: