Net nog een…

Nee kyk, dis geensins in my aard op te spoeg en plak nie, maar elkeen wat nie ietsie van homself in hierdie gedeelte sien nie, het dringend Die Bril nodig.

Die omie kom gebukkend, skuifelend die pad afgestap, sy verkreukelde hoed styf in sy hand
vasgeklem. Die plooie trek donker dongas oor sy gesig, en sy oë is dof en blou.
Sy klere hang soos ʼn meelsak om hom, sy skoene het al beter dae gesien.
Sy hare wapper in drie slierte om sy voorkop, sonverbrand.

“Boetie! Boetie!” roep hy na my.
Ek gee hom een kyk en kyk dan anderpad.
Net nog ‘n boemelaar, net nog ‘n bedelaar.
“Boetie! Boetie!” roep hy weer.
Ek draai my rug op hom en sluit die motordeur oop.
“Boetie, boetie! Wag, ek wil met jou praat.” Sy stem is skor.
“Seker van al die drank,” dink ek, klim in die motor en sluit die deur.
Hy struikel van die sypaadjie af, kom krom, oud en verwaarloos na my aangestap.
Ek skakel die motor aan, kry trurat en verlaat hom, eensaam en alleen.
“Kry vir jou werk. Maak soos ek maak, dit bring geld, dan kan jy suip tot jy omval,” gaan deur my gedagtes.
Ek kry eerste rat, wikkel die petrolpedaal en laat hom in ʼn stofwolk agter.
Ek sien in die truspieël hy beduie, hande omhoog.
“Ja, joune ook,” sê ek hardop, “net soos jou soort is – as jy nie iets kry nie, is ek altyd die skuldige.”

By die huis vertel ek vir Vroulief van die voorbarige bedelaar, wat ek gesien het.

Vroulief is dadelik Moeder Hen : “Waar slaap die arme man vanaand? Dit lyk asof dit gaan reën.”
“Moenie oor hom worrie nie, sy soort het altyd ‘n plan, hy wurm hom met ‘n sak wyn iewers in
‘n kombers toe en verdrink die dag van môre. Plaas dat hy karre oppas, dit sal daai drankgeldjies meer kosbaar maak.”
“Swerwer, jy is ʼn harde man. Wat daarvan as hy drink? Hy is ook net ʼn mens, net soos jy,” berispe Vroulief.
“Wat, ‘n man soos ek? As hy ʼn man was, het hy ‘n manier gesoek om ‘n geldjie te verdien vir sy lustigheid. Nou wil hy
my geld bedel, dit waarvoor ek gewerk het, met my sweet, my arbeid … Se dinges, vrou! Kom ons vergeet nou die
episode, ek is klaar spyt ek het jou vertel.”
Vroulief stap kop onderstebo kombuis toe, ek maak my gemaklik op die stoep, bier in die hand.
” Kan ook nie jou mond hou nie,” mompel ek.
My hond kom lê onder die stoel en ek voer hom ʼn stukkie biltong. Hy lek my hand dankbaar.
Eensklaps staan vrou in die deur.
“Swerwer, ek het vir die man ‘n pakkie kos gepak, ons vat dit nóú vir hom. Een van die kinders se komberse is ook oor
die muur, ons vat dit ook.”
Ek ken die stemtoon, onverbiddelik.
“Vrou, is jy gek? Die man is seker lankal weg. Gaan skep op, ek is honger,” probeer ek walgooi.
“Swerwerrrrrr … as jy nie wil ry nie…… sal ek,” druk sy dit uit.
Ek weet teëpraat gaan nie help nie, my mooi van môre se dag hang hiervan af.
Ek staan op, vat die motorsleutels, en draai half vermakerig na haar: “Nou kom, as jy hom wil kos gee, doen dit self.”

Ons ry in stilte, met slegs die geruis van bande. Vroulief klou die pakkie op haar skoot vas.
Voor die koöperasie stop ek op dieselfde plek. In die lig van die voertuig sien ek hom
op die sypaadjie sit, sy kop op sy knieë, hande wat hang tot op die grond.

“Sien jy, wat het ek jou gesê? Klaar dronk.”
Vrou ignoreer my, maak die deur oop en skud die omie aan sy skouers.
Stadig lig hy sy kop; trane stroom oor sy wange.
“Nog dronkverdriet ook”, dink ek.

“Omie, ek het ietsie gebring om te eet”, praat Vroulief sag en vat sy hande in hare.
Die omie se lyf begin ruk, hy huil nou openlik, trane stroom deur die plooi-dongas.

“Nooientjie, dis nie ek nie. Die tannie by die huis het in die bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk al twee weke
nie meer nie. Ek het asma, ek kon nie verder nie. Ek het ʼn kêrel probeer stop, maar hy het weggejaag … sonder om te
luister. Al wat ek kon doen, was om te bid. God het vir my ‘n engel gestuur. Asseblief, gaan help die tannie … asseblief,
gaan help haar.”

Ek sit met ʼn knop in my keel, trane wil oor die walle stroom, die hartseer is diep en skerp.
My gemoed is stukkend, my siel in opstand. Waar en wanneer gaan ons
besef: “Ek is my broer se herder”?

Hier moet ek ook my kop in radelose skaamte laat sak…

3 Responses to Net nog een…

  1. seegogga says:

    My nefie se vou( in haar 60’s) het eenkeer in Houtbaai op die sypaadjie gestruikel en geval en nogal haar knie beseer. Die mense het om haar geloop, maar niemand het haar probeel ophelp nie. ‘n ,Motoris wat veby gery het, het haar uiteindelik gehelp. Dit was vi haar skokkend dat almal sommer net aangeneem het sy is dronk.

  2. […] het Trol in ‘n lokval gelei. Bossie Blomme het vir Trol genooi vir groen koeldrank en roomys. Pikkels en Murphy het ook saamgekuier. Hulle het in die kombuis by die tafel gaan sit. Wat hy nie geweet […]

  3. Son says:

    Dankie Pik, maak jy nou net weer ons oë bietjie oop. WIE is my naaste?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: