Elke ma se droom!

2011/04/29

Dis nou iets wat mens nie elke dag, nee wag, week – nee jitte MAAND sien nie!  😆

Twee kinders wat in vrede saamleef, al is dit net voor slaaptyd en al het hulle mekaar al telke male deur die dag te lyf gegaan, ten spyte van al die reëls….

Advertisements

Aarde sluk my in…

2011/04/26

Dit was ‘n bloedige warm dag in Upington, more presies twee jaar gelede, 27 April 2009.  Ons is op ‘n manier gevestig.  Mynic werk 12 ure ‘n dag, 6 dae ‘n week.  Ons sien hom maar min.  Ek werk by ‘n veearts, lang ure.  John is dolgelukkig in sy kleuterskool.  Sy onderwyseres is ‘n engel gekamofleer as ‘n mens.   Cathrine, wil niks weet van dagsorg nie.  Ten einde raad los ek haar maar deur die dag by die bediende.

Die spesifieke dag, bel Agnes my by die werk.  Iets wat selde gebeur en al my hare staan klaar regop.  Sy stamel en snik, ek moet BAIE vinnig huistoe kom.  Ek besef onmiddelik daar is groot fout en jaag soos ‘n besetene.

Daargekom is dit net bloed.   Die bloed stroom by Cathrine se arm en by haar mond uit.  Agnes staan met haar voorskoot oor haar kop en snik.  “WAT HET GEBEUR VROU!!!  PRAAT!!    Stotterend kom dit uit dat Chippies vir Cathrine op die arm gebyt het.  Teen die tyd het ek al haar arm in lopende water en kan duidelik die bytmerke sien.  Dis glad nie so erg soos wat dit gelyk het met al die bloed nie, maar die bloed aan haar mondjie kan ek tot nog toe nie kleinkry nie.  Ek gryp vir Agnes aan die arm en gee haar ‘n goeie pluk, net om haar ‘by’ te kry.  Waar kom die bloed aan haar mond vandaan?  Agnes sukkel nog steed om te praat en daar gaan sy…  As ek vandag nie my sonde ontsien nie…  Net om weer te verskyn met Chippies, die Maltees wat self rooi gevlek is van die bloed.

Wat de drommel?   ‘Eish mavrou – die kind, sy is ‘n anderster een.  Toe die hond haar byt, sy gryp die hond, sy byt hom tarug!’

En ja sowaar, die hond is flenters gebyt.  Moedeloos verby laai ek die twee in die kar.  Eers hospitaal toe vir ‘n klem-in-die-kaak inspuiting.  Maar o wee, ek kan mos nie die hond in die kar los nie.  Maak toe maar die bebloede hondjie buite die hospitaal se deur vas en smeek die sekuriteitswag om hom op te pas.  Wat natuurlik toe instem nadat hy eers sy asem uitgelag het by aanhoor van my penarie…

Upington is ‘n groot dorp, maar laat ek julle vertel, nie groot genoeg nie!  By die veearts aangekom staan die personeel buite in ‘n erewag vir my en wag.  Hulle het reeds verneem ek is oppad om my hond te laat behandel en in te spuit.  Die plek dreun soos hulle lag!  Oi!!!  Voor  dit aand was het almal wat aan my bekend was of iemand geken het wat my geken het gebel om te hoor hoe dit met die tweetjies gaan.  Aarde sluk my in, berge val op my!

Vreemd genoeg is die twee vandag nog onafskeidbaar, en ek bid daagliks dat die hond nog net vir ‘n paar jaar gespaar sal bly, want ek het geen idee hoe oud hy is nie.  Dis sommer ‘n weggooihondjie wat iemand eendag by die veearts aangebring het en ek opslag aangeneem het.

Chippies en Cathrine.  Cathrine en Chippies.  Vinkel en koljander, die een is soos die ander!

Meer onlangse foto’s van die twee!


Oorwinning!

2011/04/24

Vandag is ‘n oorwinning vir ons behaal wat alle verstand te bowe gaan.

Aan Hom al die lof en die eer!


Presente, koek en rooikoeldrank vir ‘n Heksie!

2011/04/23

Baie geluk met jou vervelling Laviga!

Hier is jou…

jou…

en jou…

Geniet jouself gate uit!

xxx


Geseënde Paasfees

2011/04/21

Without Easter

Without Easter,
there would be no hope of heaven.
Without the hope of heaven,
there would be no repentance,
no personal transformation,
no attempt to follow biblical principles.
Without Easter,
the world would be in chaos
and darkness.
Jesus’ death and resurrection
means we can be reborn,
to live better, to do better,
to shine light into the shadows.
Hallelujah!
Happy, Happy Easter.
By Joanna Fuchs


Speel-speel

2011/04/19

Vanoggend is weer een van daai oggende wat ek sonder enige motivering opgestaan het.  Ek issie lus nie.  Daar is nog berge se bokse om uit te pak, ek het ‘n bondel wasgoed wat Ararat na ‘n koppie laat lyk en die kinders het gister heeldag in die huis gespeel.  My meubels staan nog op vreemde plekke met elke moontlike kombers in die huis daaroor gedrapeer.  Sien ons het tente gebou, mens moet jouself mos beskerm teen die reën.

Later het die ‘tente’ in forte verander en ons speletjie het in ‘cowboy en indians’ verander en teen die tyd wat Nic by die huis gekom het was die tente/forte seerowerskepe en is Nic herdoop na ‘Kaptein Bloubaard’ en ons het alvier saamgespeel tot letterlik net voor slapenstyd.

Nou sit ek met die gebakte pere, Nic is by die werk, John by die skool, Cathrine is nie lus nie en ek moet skoonmaak.   Nou wonder ek, met die son wat nog steeds net so elke twee ure vir tien minute sy kop uitsteek, of ek rerig wil opruim?  Kan ons nie maar net vanmiddag aangaan waar ons gisteraand opgehou het nie.  Ons kan mos altyd nog speletjies uitdink!!!!

Daar was vir drie jaar nie tyd om net met oorgawe saam met die kinders te speel nie, en daar gaan sekerlik nog baie sulke tye kom, maar nou – hier – vandag het ek die tyd.  Vandag kan ek met die kinders speel, ek het die tyd om hulle wereld te betree, om een oomblik ‘n koningin te wees en die volgende ooblik in ‘n nare heks wat met ‘n houtlepel ‘n pot roer.  Vandag het ek die tyd om hulle hartjies bly te maak.

So vir nou vriende en vriendinne – verskoon my – maar ek is oppad om te gaan fantasie speletjies uitdink, om ou klere uit die kas te krap en in kostuums te verander – om vir ons ‘n boks kasteel te bou, en om my kinders se vreugde te deel!

Touch – Jy is aan!!  Ek gaan in my den wegkruip!


John word 7!

2011/04/15

My grootseun word vandag sewe jaar oud.  ‘n Nuwe mylpaal, en al ek terugdink aan die pad wat hy noodgedwonge moes stap en die ‘smooth’ manier hoe hy daardeur gekom het, swel my hart van trots.

My kind is soos sy ouers.  ‘n Amsterdammer in murg en been.  Hy is gemaak om in die bome en berge rond te klim en klouter.  Hy is gemaak om alles met oorgawe te doen.  As hy praat voel hy beter as hy vinnig praat.  Hy is op sy gelukkigste as hy op die hoogste volume kan skree!  Hy wil hardloop want bene is nie gemaak om te loop nie, hy kannie sit nie (behalwe as hy kan teken, verf, met klei kan speel of ‘n nuwe projek kan aanpak).  Hy sit selfs nie eers stil as hy DVD’s kyk nie, hy moet elke trick en move wat hy sien naboots.

Maar hy is ook die sagste kind met die meeste empatie wat ek nog ooit vir iemand van sy ouderdom teegekom het.  Hy is ‘n omgeekind wat vele kere honger by die huis kom omdat hy al sy kos uitgedeel het.  Hy is die seuntjie wat twee weke nadat die skool begin het sonder sy trui by die huis gekom het omdat ‘n ander seuntjie baie koud gekry het en sy mamma nie die geld het om vir hom ‘n trui te koop nie.  Dit was vir hom die normaalste ding om sy trui vir die maatjie te gee.

Hy is ook my hanswors kind.  Iemand wat binne oomblikke ‘n moeilike situasie opsom en sonder veel moeite, almal aan die lag het.  Die een wat sy sussie met ‘n armpie om die skouers sal troos en sy ma se trane met ‘n vuil vingertjie sal afvee.

Ek is so trots op hierdie rots kind van my.  My genade kind.  John = God is genadig.   Nog nooit het ‘n naam beter by ‘n persoon gepas nie.  Nog nooit het ‘n kind sy naam beter uitgeleef as wat my seun dit doen nie.

Dankie Vader vir my klein stukkie genade.