Dinge wat ek geleer het…

Die laaste drie jaar was seker van die moeilikste – en opwindendste van my lewe.  Dit was swaarkry jare, rondswerf jare, hartseer jare, seerkry jare, maar ook lag jare, vreugde jare, my kinders sien grootword jare en die meeste van alles hoop jare.

Ons trek seker binne die volgende week of twee terug na ons ou huis.

My Drie Gewels.  Die elektrisiëns is so te sê klaar met die herinstalasie van die krag, die loodgieters is op die laaste met die herinstalasie van die waterpype, die verwers vorder goed en die ouens wat die sement om die huis moet gooi is ook al aan die gang ( die sement was uitgekap sodat die diewe die elektriese kabels kon bykom), dis nou nog net die tuin wat aangevat moet word en dan moet ons nog ‘n nuwe heining omsit en dan kan ons weer ingaan.

Dit sal die agtste keer wees wat ons in drie jaar en twee maande trek.  En met ‘n terugblik besef ek dat alles nie onnodig, vergeefs of verniet was nie, want ek het geleer.  So verskriklik baie geleer…

Ek het geleer dat:

Maak nie saak hoe donker die nag vir jou voel nie, more oggend kom die son weer op.

Jou gesin die belangrikste ding is waaraan jy moet vasklou – en soos ‘n tierwyfie moet baklei as dit moet.

Daar altyd iemand anders is wat dit slegter as jy het.

Jou vriende, ware vriende altyd daar is vir jou.

Dat blogvriende, wat jy nog nooit ontmoet het nie, soms nader is en meer bereid is om te help as jou familie.

Dat vriendskappe wat in swaarkry gebou is, op sterk fondamente gebou is.

Dat sommige vriendskappe eenvoudig nie die moeite werd is om aan die gang te hou nie.

Dat twee pakkies two minute noodles en een frankfutter ‘n hele gesin van vier kan voed.

Dat die motor se brandstofliggie vir 8 dae aanmekaar brand en jy nog amper 100 km kan ry sonder dat die kar gaan staan… (ek praat hier van ‘n regte egte wonderwerk.)

Dat daar tye is wat dit makliker is om te lag, en te lag, en te lag as om net in ‘n hopie te sit en te huil.

Dat ek dag vir dag, elke aand soveel gehad het om voor dankie te sê.

Dat die regte man aan jou sy, jou die moed en krag gee om net aan te gaan, al sê en doen hy niks.  Jy weet hy is daar en jy weet jy doen dit vir hom.

Daar niks is wat kan vergelyk met die vreugde op twee kindergesiggies as jy na ‘n 10 uur werksdag tuiskom en hulle in jou arms spring nie.

Dat jy maar net moet aanhou met beur en ploeg as dit moet, niks hou vir altyd aan nie.

Dat kinders die aanpasbaarste wesens denkbaar is.

Dat mens swaarkry gou vergeet.

Dat mens ‘n gemaklike lewe gou vergeet.

Dat jy elke maand voor die 15de al jou geld uit die bank moet trek, voor die bankkoste afgaan.  Dis die einde van die maand se probleem!      😆

Dat mens met bitter min kan klaarkom, 90% van wat ons besit is net ‘clutter’ – kaggelkakkies – onnodige goed wat ons rem en terughou.

Ek kan aanhou en aanhou en aanhou, maar die belangrikste ding wat ek seker geleer het, is dat ek ‘n Almagtige Vader dien wat tree vir tree die pad vir ons oopmaak.  Wat ons versorg, koester, vashou, moed inpraat…

En nou wil ek ‘n paar mense oppie naam noem, Muriel, Kaalvoet, Jane, BB, Krista, Zee, Turksy, Herriemerrie baie, baie dankie vir alles.  Ek glo daar is nog wat ek nie van weet nie, ook vir julle, verskriklik baie dankie….

12 Responses to Dinge wat ek geleer het…

  1. seegogga says:

    Baie dankie vir die mooi inskrywing. Jy het nou weer vi ons ook iets geleer. Sterkte daar ver!

  2. Krista says:

    Solank ons leer, is daar nog hoop vir ons . . .

    Ek is saam met jou opgewonde oor jou huis . . . dit lyk of hy ‘n lekker stoep het?

  3. NetJane says:

    Drie Gewels lyk pragtig! Ek hoop regtig alles werk nou vir die beste uit.

    • Pikkelik says:

      Jane, eintlik werk niks nog uit nie. Elke ding wat ons doen, doen ons met behulp van iemand wat ons help. Daardie man weier om ons ‘n sent te betaal. Hy ignoreer elke oproep en mail. Eintlik is ons nogsteeds nêrens. Maar ek weier dat dit verder my lewe regeer. Ek gaan HUISTOE!!!!

  4. Pikkelik says:

    Ai dankie almal, maar dis ‘n ‘before’ foto… julle wil nie weet hoe lyk dit nou nie. Maar so waar as vet, daai plek sal NOG beter as tevore lyk as ek met hom klaar is.

  5. Zee says:

    Dis ‘n pragtige huis Pik. Ek is seker dit gaan net weer so pragtig lyk as julle net eers weer ingesettle is.

  6. Mefri says:

    Jy is pragtig en jou siel… pure skoonheid. Ek luister met aandag en ontsag Pikkie en ek leer by jou.

  7. Von says:

    Liewe Piks – was so lekker om jou blog te lees, was jare laas aktief of betrokke hier. Jy het maar net nog altyd die manier om mens die ligter, positiewe kant van alles te laat sien. Ja, die lewe kan eienaardige draaie met ons loop. Ons het soveel vrae, baie dinge wat vir jare soms nie sin maak nie. Gelukkig val al die legkaartstukkies gewoonlik een of ander tyd in plek en kan ons die geheelbeeld sien en besef ons dit het gegaan oor hoe ons dit alles hanteer het en dat ons Heer maar altyd daar was vir ons. Ons raak net al broser, hoe ouer ons word. Baie sterkte met julle huis en al die herselwerk. Julle sal daardie pragtige ou plek sommer gou weer na sy ou glorie herstel en ‘n gesellige tuiste hê. Baie liefde vir julle almal.
    Von

  8. Son says:

    (((Pikkie))) Jy is ‘n mens uit een stuk en ek wens eendag kan ek jou persoonlik ontmoet.🙂

  9. turksvy says:

    Dryf jy my na trane so op helder Saterdagoggend. Baie van die goed kan ek maar net beaam, Pik. Lief jou!

  10. So in my verveling by die werk, draai ek weer vir ‘n slag op die blogs rond. Jy hoef nie dankie te se nie, dis vir my ‘n voorreg om iets vir julle te kon doen al was dit nie veel nie. Go and be happy! Dis genoeg dankie vir my😉

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: