‘n Seekat in ‘n Checkerssak…

 Nou kyk, party mense leer vinnig, party leer stadig en party leer glad nie.  Vandag is ek nie seker in watter katagorie val ek nie.  Moontlik al drie of moontlik moet ek nog een vir myself uitdink.

Ek het nou-al geleer om eers die kinders te voer voor ek hulle aantrek.  Dit het ek vinnig geleer.  Ons staan op in die more, speel bietjie, Mynick spring deur die badkamer, en ek voer vir Poppedyn.  Dan begin die sports.  Ek gaan trek vir Poppie aan.  Damn, ek lieg, ek gaan probeer haar aantrek.  Om die krioelende, wriemelende, kruipende, 9 maande oue meisiekind aan te trek het jy ten minste ‘n graad nodig. En dis my tweede kind, julle wil nie weet hoe dit met die eerste een gegaan het nie!

Nou ja, ek kry my ammunisie reg, doek, frokkie, t-hemp, sweetpak, kouse en skoene.  Ek begin aan die linkerkant van die bed, en trek jaar pj’s uit, eers die broekie en dan die toppie, en daar gaat sy, al die pad anderkant toe, en ek naelloop om die bed soos ‘n wafferse Michael Johnson.  Het jou seekat! Nou volg die doek, ek’s nou slimmer en knyp haar een been tussen my bene vas.  Maar om die nuwe doek aan te sit het ek altwee haar bene los nodig, en daar gaat sy alweer, anderkant toe.  Ek haal weer my Micheal Johnson stunt uit, stamp my knieg teen die hoek van die bed, en blaas nou-al soos ‘n seekoei. 

Rooi in die gesig het ek ‘n skoon doek aan.  Ek knyp weer haar been tussen my bene vas en trek die eerste sokkie aan, en sy protesteer!  Vinnig ruil ek die bene en die volgende sokkie is aan.  Terwyl sy toe nou so lekker moan, laat waai ek sommer met die frokkie en die t-hemp oor die kop. Gotha!  En sowaar as hond, daar gaat sy weer, anderkant toe.  Hierdie keer beweeg ek soos ‘n afgetrede Micheal Johnson om die bed, baie versigtig om myself nie weer te beseer nie.  Ek bekruip haar, gryp haar… en onthou te laat dat die res van die klere aan die anderkant van die bed lê.  Hoogs de vieste in knyp ek haar onder my arm vas en masjeer soos ‘n Russiese soldaat met haar om die bed.  Teen die tyd skree sy al blou-moord.  Mynick kom in om te kyk wat aangaan, gee een kyk na my gesig en verdwyn weer by die deur uit. 

Ek laat haar regop staan om haar broekie aan te trek, sy trek my hare, byt my oor krap my neus en net toe ek altwee beentjies inhet, en die broekie wil optrek kom Ouboet in die kamer in.  Soos blits draai sy haar lyfie en voer ‘n koeksistermanuvre op die sweetpak broek uit.  Ek KOOK!  Beskreeu vir Ouboet, gryp die broek aan die agterkant en draai sommer haar lyf in die rondte. 

Teen die tyd huil sy al dat die snot spat.  Who cares… Ek trek die top oor haar kop, kry haar arm beet om deur die mou te steek en skielik verander haar arm in ‘n stuk spagetti wat te lank gekook is.  Druk ek hom diekant buig hy daaikant toe, druk ek hom daaikant dan buig hy diekant toe.  Op een of ander manier het ek toe uiteindelik die arms in die moue.  Maar teen die tyd is sy ontroosbaar en ek ook bitter na aan trane.  Nodeloos om te sê ek het haar vir Mynick gevat om maar haar skoene aan te trek. 

Ek’t vir Ouboet op my skoot getel en baie mooi askies gesê, en onthou hoe ek altyd gelag het as ‘n vriendin van my gesê het dat jy makliker ‘n seekat in ‘n Checkerssak kry as ‘n kind in klere.  So hierdie is my publieke verskoning:  “Skies Yvonne, ek sal nooit-ooit weer lag nie. Jy sien, ek leer maar stadig!” 

16 Responses to ‘n Seekat in ‘n Checkerssak…

  1. Wipneus! says:

    Bwa ha ha, ek wil my doodlag vir jou seekat kaskenades, “Michael Jackson”. Ons sal planne moet beraam om hierdie storie makliker te maak. Kan ons nie ‘n manier kry om haar vas te bind nie, moet ons haar dalk vuil laat loop, wag miskien is sonder klere ‘n beter idee. Poppedyn stadig nou, jou ma verander in ‘n soldaat…left right left right left right …. lê…. stil meisiekind!

  2. Pikkelik says:

    Hi Wipneus, nee man, nie Jackson nie, Johnson die atleet man!!!

  3. Von says:

    Sorry, die duik storie hoort entlik hier – nie by die “hok” nie. Het gemik, maar verkeerd gedruk!

  4. Wipneus! says:

    Michael Jackson gryp ook sy kinders se ledemate so vas – al verskil is hy hang hulle by balkonne of vensters uit, sodat sy fans hulle moet sien….. wha ha ha….

    Pikkie ek terg sommer…. ek kry jou eindelik vreeslike jammer dat jy nie ‘n vreeslike soet dogtertjie het, wat ja en amen sê, glad nie kan hardloop of skreeu nie, en een vir een die armpies aangee dat julle rustig in “Fairy land” die ou sysagte babakleertjies kan aantrek met sagte Harpmusiek in die agtergrond ……..

  5. Pikkelik says:

    O nee aarde, behoede my van sulke engeltjies, sal nie weet wat om met hulle te maak nie… 🙂

  6. Wipneus! says:

    Ek het geweet jy gaan dit sê, jou storie het my terug gevat toe my rakkers so rond gewip het as ek hulle aantrek. My 2 was vreeslik aktief, in die aande sak jy stokflou op die bed neer, en skep die eerste keer asem. Hulle lê natuurlik soos engeltjies in daai beddens, te pragtig jy wil hulle sommer opvreet ten spyte van ………….

  7. Pikkelik says:

    Lê joune werklik in hul eie beddens, en slaap hulle? Ongelooflik…

  8. Wipneus! says:

    Pikkelik (vra ek nou groot-oog) jy moet weer mooi gaan kyk, maak dubbel seker, ek is nou werklik bekommerd, is joune nie dalk Aliens nie? Ek hoor deesdae vreeslike stories van Aliens wat mense ontvoer vir voortplanting van die Alien ras. 😀

  9. Pikkelik says:

    Oortuig dis my eie, moenie worry, aard na die pappa en die mamma, so hiperaktief soos miere wat sterk dosisse Red Bull ingekry het. Heeltemal normaal! Slaap gemiddeld 4 ure per nag, vreet my uit die huis uit. Slaap in my bed, skop my uit my bed uit, maar dis ‘n ander storie… 🙂

  10. Wipneus! says:

    Whahaha, nee jou lewe klink heel normaal Pikkie! Eendag gaan jy so verlang na hierdie dae. My verlang dae besorg emmers trane. Na so traan storting wonder ek altyd so by myself, Wipneus hoe kan jy huil oor iets wat nie weg is nie.
    Ek verlang na hulle baba tyd…… herinneringe. Weird.
    Ons gaan nou vir Ouma kuier ek beter self soos Poppedyn aan die hardloop gaan asof die Russiese Mafia (Pikkie) agter my is.
    Lekker dag verder!

  11. mnr.muller says:

    Hahaha, goed vertel! Sterkte 😛 Jy kan seker nie wag tot hulle tieners is nie? 😉

  12. sonkind says:

    O Pikkelik, ek het nou so gelag dat Liefie kom kyk het wat vang ek aan! Miskien moet jy haar aantrek terwyl sy nog slaap.

  13. Wipneus! says:

    Sonkind dis die probleem hulle slaap net 4 ure, jy gaan poppedyn nie aan die slaap vang om “beauty routine” te doen nie!! Ek dink: sit ‘n sweetie langs die kleertjies op die bed neer, “as jy samewerking gee Poppedyn aka seekat dan sal Mamma Pikkie, hierdie heerlike soetdingetjie vir jou present gee…. ” Die sweeties sal die energie natuurlik ekstra woema gee, maar ten minste is sy klaar aangetrek met oë vasgenael op daardie sweetie. Woolies verkoop juis sulke oulike jellie sweeties, met tande, voetjies ens kleuters is mal daaroor, veral as hulle self kan uitkies! Pikkie hierdie inskrywing van jou was baie snaaks, ek het my gate uit geniet! Geniet jou 2 woelwaters!

  14. Adrie says:

    My maag pyn nou.

    Laat my dink aan my “kinders”. Hulle was onderskeidelik 1 en 2. Hulle het ons verplig om van die b-woord en w-woord te praat. Hoekom? Wanneer die twee die woorde bad of water gehoor het, het hulle daar en dan poedelnakend uitgetrek om te gaan bad. Al was dit in ‘n winkel.

  15. platterfuss says:

    Excellent beskryf!!!

    EN my Maandag is nou sommer beter!!!! Hehehe!!

  16. Dellie says:

    😆 Dit vat my ook veeeerrrr terug!

Leave a reply to Adrie Cancel reply