Aarde sluk my in…

Dit was ‘n bloedige warm dag in Upington, more presies twee jaar gelede, 27 April 2009.  Ons is op ‘n manier gevestig.  Mynic werk 12 ure ‘n dag, 6 dae ‘n week.  Ons sien hom maar min.  Ek werk by ‘n veearts, lang ure.  John is dolgelukkig in sy kleuterskool.  Sy onderwyseres is ‘n engel gekamofleer as ‘n mens.   Cathrine, wil niks weet van dagsorg nie.  Ten einde raad los ek haar maar deur die dag by die bediende.

Die spesifieke dag, bel Agnes my by die werk.  Iets wat selde gebeur en al my hare staan klaar regop.  Sy stamel en snik, ek moet BAIE vinnig huistoe kom.  Ek besef onmiddelik daar is groot fout en jaag soos ‘n besetene.

Daargekom is dit net bloed.   Die bloed stroom by Cathrine se arm en by haar mond uit.  Agnes staan met haar voorskoot oor haar kop en snik.  “WAT HET GEBEUR VROU!!!  PRAAT!!    Stotterend kom dit uit dat Chippies vir Cathrine op die arm gebyt het.  Teen die tyd het ek al haar arm in lopende water en kan duidelik die bytmerke sien.  Dis glad nie so erg soos wat dit gelyk het met al die bloed nie, maar die bloed aan haar mondjie kan ek tot nog toe nie kleinkry nie.  Ek gryp vir Agnes aan die arm en gee haar ‘n goeie pluk, net om haar ‘by’ te kry.  Waar kom die bloed aan haar mond vandaan?  Agnes sukkel nog steed om te praat en daar gaan sy…  As ek vandag nie my sonde ontsien nie…  Net om weer te verskyn met Chippies, die Maltees wat self rooi gevlek is van die bloed.

Wat de drommel?   ‘Eish mavrou – die kind, sy is ‘n anderster een.  Toe die hond haar byt, sy gryp die hond, sy byt hom tarug!’

En ja sowaar, die hond is flenters gebyt.  Moedeloos verby laai ek die twee in die kar.  Eers hospitaal toe vir ‘n klem-in-die-kaak inspuiting.  Maar o wee, ek kan mos nie die hond in die kar los nie.  Maak toe maar die bebloede hondjie buite die hospitaal se deur vas en smeek die sekuriteitswag om hom op te pas.  Wat natuurlik toe instem nadat hy eers sy asem uitgelag het by aanhoor van my penarie…

Upington is ‘n groot dorp, maar laat ek julle vertel, nie groot genoeg nie!  By die veearts aangekom staan die personeel buite in ‘n erewag vir my en wag.  Hulle het reeds verneem ek is oppad om my hond te laat behandel en in te spuit.  Die plek dreun soos hulle lag!  Oi!!!  Voor  dit aand was het almal wat aan my bekend was of iemand geken het wat my geken het gebel om te hoor hoe dit met die tweetjies gaan.  Aarde sluk my in, berge val op my!

Vreemd genoeg is die twee vandag nog onafskeidbaar, en ek bid daagliks dat die hond nog net vir ‘n paar jaar gespaar sal bly, want ek het geen idee hoe oud hy is nie.  Dis sommer ‘n weggooihondjie wat iemand eendag by die veearts aangebring het en ek opslag aangeneem het.

Chippies en Cathrine.  Cathrine en Chippies.  Vinkel en koljander, die een is soos die ander!

Meer onlangse foto’s van die twee!

13 Responses to Aarde sluk my in…

  1. NetJane says:

    Ai Piks, ek het myself nou pap (amper papnat) gelag!

  2. Zee says:

    Lol NetJane, ek ook. Ag maar sy bly een pragtige ou dogtertjie Pik….

  3. Sandra says:

    So ‘n mens en dier verhouding speel so ‘n groot rol in hulle ontwikkeling. En ja sy moes seker van die begin af vir die hond wys wie is die baas🙂, hy het haar seker nie weer gebyt nie?

  4. klippie says:

    Dis duidelik sy sal haar nie sommer laat onderkry nie!

  5. Pikkelik says:

    Ja die vreugde van Ma-wees! Ek moet seker bygevoeg het dat dit 2 maande voor haar 2de verjaarsdag gebeur het! Gits, sy het nog doeke gedra! 😆 😆

  6. Jen says:

    Ag moeder ma! Lag ek my ook ampertjies pap(nat!)
    Wat ‘n aangename verrassing om jou bloggie weer afgestof te vind! Welkom terug Pikkie!

  7. Mefri says:

    Pikkie wat ‘n fees, ek is so bly jy is terug. Dankie, ek het jou post verskriklik baie geniet. Welkom tuis‼

  8. toortsie says:

    Ek het nou al soveel keer gekom om kommentaar te lewer hierop, dan gebeur daar iets.
    Al wat ek weet, Pikkie, ek is MAL oor jou meisiekind! Met haar sal ek ‘n ver pad kan loop. Jy hoef nooit oor haar bekommerd te wees nie, sy sal die mas opkom!

  9. Olga says:

    Mpumalanga kinders ken van. Hulle laat nie met hulle mors nie.

  10. Xena Phoenix says:

    Meisiekind so na my hart. Ek het dit Dinsdag gelees en myself geskeur van die lag. Die oogarts wonder nog steeds seker wat fout is.

  11. seegogga says:

    wOW! Watter oulike kinjie! Sy gaan nie op haar kop laat sit nie! Ek weet van Upington se riemtelegramme- (het dit al self ervaar, en gaan nog daaroor skryf in my volgende treinstorie.)Ek is verbaas dat dit nog net so is soos 40 jr gelede!

  12. BB says:

    Ag, dankie vir die deel hiervan!! Lekker gegiggel – en somehow so ‘n spesiale sagte teer plekkie in my hart gekry vir die 2 C’s… My MALtesie (met die hart van ‘n leeu) se naam was Cofi (‘smart’ vir koffie – oor dit my gunsteling drink is en oor hy so ‘n sagte Cappuccino shade was) – hy was dié amazingste hond wat ek ooit gehad het en netso geniepsig en hy en my middelkind onafskeidbaar, soms mekaar goed de harnas in gehad en dan weer een hart een siel. Mis ek my Cofi sommer vandag…

  13. MaanKind says:

    Jy kan sommer sien die pop in geel gaan nie drama van van geen niemand nie!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: