Wie rook?

Ek en my man’, skryf sy, ‘was al vyf jaar gelukkig (wel, meeste van die
tyd!) getroud, toe was daar nog geen teken van die geluid van
kindervoetjies in die huis nie. Ek besluit toe om ernstig oor die saak
te bid, en ek belowe die Here, dat as Hy vir ons ‘n ou kindjie gee, dan
sal ek die perfekte ma wees – die ou bondeltjie met my hele hart liefhê
en grootmaak met die Woord as my gids.

My gebed is beantwoord en ons word geseën met ‘n pragtige seuntjie. ‘n
Jaar later word ons geseën met nog ‘n seuntjie. Die Here se seën het nie
opgehou nie, en ‘n jaar later is daar ‘n derde seuntjie en die jaar
daarna seen Hy ons met ‘n dogtertjie.

My man was van mening dat ons skoon bankrot geseën is. Vier kinders! En
die oudste was skaars vier jaar oud! Ek het ‘n duur les geleer: ek het
geleer dat ‘n mens nie vir God iets vra as jy dit nie met jou hele hart
bedoel nie. ‘n Dominee het dit eendag so raak gestel: ‘As jy wil staan
en bid vir reên, dan moet jy voorbereid wees en jou sambreel saambring!’

Ek het my belofte aan die Here probeer nakom en elke dag vir hulle ‘n
paar versies uit die Bybel gelees terwyl hulle nog maar in hulle wiegies
gelê

het. Dit was ‘n goeie begin! Die Here het my toevertrou met vier
kinders, en ek wou Hom baie beslis nie teleurstel nie!

Maar ek moes op die harde manier leer dat kinders grootmaak nie vir
sissies is nie – dit vra van jou mandjiesvol geduld, soos die slag toe
ek in die kombuis kom en twee dosyn eiers stukkend op die kombuisvloer
aantref. Al wat hulle wou doen, was om vir die baba-kuikentjies te soek
wat binne in die eiers sou wegkruip! Ek het my bes probeer om hulle punt
in te sien toe hulle ‘n tehuis vir hawelose paddas in die spaarkamer
geopen het. Dit het my ‘n volle twee grillerige ure gekos om die
drie-en-twintig slymerige paddas te vang! En toe was daar die dag toe my
dogter ‘n bottel tamatiesous oor haarself uitgegooi het, en in ‘n
kombers toegerol het – net om te voel hoedat dit moet wees om ‘n
warmbrak te wees. Ek het baie hard probeer om die humor in hierdie
petalje raak te sien, maar keer op keer doem die groot rooi gemors voor
my oê op.

Ten spyte van die vyf-en-twintig-duisend doeke wat ek moes omruil; die
vyf jaar wat verbygegaan het sonder ‘n enkele warm maaltyd; die feit dat
ek nooit vir langer as ‘n halfuur op ‘n slag kon slaap nie – sê ek
steeds elke dag vir die Here dankie vir my kinders. Ek kon dalk nie my
belofte om die perfekte ma vir hulle te wees behoorlik nakom nie – aag,
ek kon dit nie eers naastenby doen nie! – maar ek het my belofte gehou,
en hulle volgens God se Woord grootgemaak.

Soms het ek die teiken so ‘n bietjie gemis, soos die dag toe sy haar
partytjierok kerk toe wou aantrek – ek het verduidelik dat ons kerk toe
gaan om Jesus te loof, maar sy het onthou van die partytjie toe Oom
Wynand verloof geraak het – en as Jesus nou verloof raak – dan moet daar
mos ook ‘n partytjie wees! Iets het op ‘n slag in die betekenis van
woorde skeefgeloop, toe ons oudste vreesbevange geprotesteer het dat hy
nie gif wil hê nie
– dit
was nadat daar die aand gelees is dat God ons vergewe as ons sondig.

Toe breek die trotse dag aan: ons kroos sou deelneem aan ‘n
Kersuitvoering. My vyfjarige skaapwagter het sy enkele sinnetjie
geoefen, en in sy gedagtes vir hom ‘n prentjie gemaak van wat daar
gebeur het. ‘Hulle het die Kindjie gevind, toegedraai in doeke.’, Dit
het die groot aand van die opvoering geword: ‘Hulle het die Kindjie
onder ‘n hoop vuil babadoeke gesoek.’ ‘Ag siesa!’, was Maria se
kommentaar, terwyl sy haar neus vies toegedruk het. Toe breek daar ‘n
stoeigeveg uit tussen Maria en die skaapwagter, en die engeltjie wat
tussenbeide kom buig haar kransie en verloor haar een vlerk.

Ek sak al laer in my sitplek in, maar nog is dat het einde niet: Maria
laat die pop (wat Jesus voorstel) val, sodat die pop die verhoogtrappies
afrol tot heel onder terwyl  dit ‘Mamma! Mamma’ kerm.. Maria trippel die
trappies af en gryp die pop. Onder luide gelag uit die gehoor, draai sy
die pop oorhaastig weer in sy kombersie toe, net betyds vir die aankoms
van die wyse manne. En toe kom my seun se groot oomblik: ‘Ons is die
drie wyse manne’, kondig hy plegtig aan, ‘en ons bring goud……’ daar
volg ‘n stilte, en ek hou my asem op. ‘Wie rook in die middel?’ vra hy
kwaai, terwyl hy vinger wys na die skaapwagters. Ek wil wegsak in die
aarde in, maar die gemeente gee hulle ‘n staande applous terwyl hulle
kraai van die lag. ‘Ek het in my lewe nog nooit so ‘n Kersuitvoering
gesien nie’, sê die dominee agterna, terwyl hy die trane uit sy oê vee,
‘Wie rook in die middel?
– ek sal dit nooit vergeet nie!’, kreun hy terwyl ‘n volgende lagbui hom
dubbel laat vou.

‘My kinders is die trots en vreugde van my lewe’, antwoord ek hom,
terwyl ek soek in my handsak vir ‘n hoofpynpil.’

Jesus het gesê dat Sy dissipels die kindertjies na Hom toe moet bring,
en toe vertel Hy vir die dissipels dat hulle eers soos kindertjies moet
word voordat hulle die koninkryk van God sal kan ervaar. ‘n Kind beleef
geloof baie meer intens as grootmense, en al verstaan hulle party goed
gladnie, aanvaar hulle dit nogtans onvoorwaardelik. Die dag as ons God
se, dikwels totaal-onverstaanbare beloftes eers onvoorwaardelik aanvaar
soos ‘n klein kindjie, dan is ons op die regte pad.

Gebed:

Here, dankie vir kindertjies in ons lewe. Maak my asseblief vandag soos
‘n kindjie in die geloof.

Louis Nel (NG Kerk Noordkus)

Daarna  het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke
uitgehaal:
goud, wierook en mirre. (Mat 2:11)

156360d8k7k4d2ahEk het hierdie in ‘n e-pos ontvang!

17 Responses to Wie rook?

  1. Dellie says:

    Ai, ek sou darem graag daai konsert wou sien!😆

  2. Wipneus! says:

    Baie oulik!

    Here, dankie vir kindertjies in my lewe. Maak my asseblief vandag soos
    ‘n kindjie in die geloof.

    Mooi bly vriendin!! 😉

  3. Ogies says:

    Wat ‘n pragtige voorbeeld van die onskuld van kinders!! Dit is pragtig! “Jesus, stuur my vanmiddag reguit na my kinders se arms en laat ek my bekommernis en skuldgevoel in hul liefderyke omhelsings verloor!!! Amen”

  4. Ek het al SO konsert bygewoon en dit bly maar snaaks as kinders tog so onskuldig, sulke dinge kwyt raak!

  5. boendoe says:

    Wie rook daar innie middel? 😯 Hiehiehie…en ek dog hier kom ‘n preek vir ons rokers aan! Dis dierbaar, Pik. 😆

  6. boendoe says:

    Is ek weer spam? 🙄

  7. Sandra says:

    Ek dink ons as ouers verwag eintlik dat so iets tydens ‘n konsert gaan gebeur want dit maak dit nog meer spesiaal. In die stilligheid wens jy natuurlik dis iemand anders se kind wat dit oorkom🙂. Ons het altyd die kamera reggehou as die kinders tydens skoolfunksies hulle mamma of pappa raaksien en waai.

  8. Jy het my nou skoon in trane. Ek is 27 en ongetroud en my grootste vrees is dat ek eendag dalk nie kinders sal hê nie (moet eers die man kry!). Daar is nie `n groter seën en verantwoordelikheid as kinders nie…

    • Pikkelik says:

      Corli, daar is nog sooooo baie tyd!! Vra my, ek was meer as tien jaar ouer as jy voor ek eers getroud is en Nog ouer voor my kids gebore is!!! Nee man, ruk jou reg! Die lewe is ‘n lied en jy kan nou mos nie die middelste note luister voor jy nie die inleiding gehoor het nie 😉 Alles het maar ‘n bepaalde tyd en jou tyd sal kom. Bly maar net op jou knieë en sê dankie dat die ‘regte’ een wat spesiaal vir jou uitgesoek is, net daar buite wag vir die regte oomblik om jou kollekte op te neem… 😳

  9. neykie says:

    Hierdie is n les vir almal. Om te glo soos n kind en die lewe te geniet soos n kind.

    Die Here vertrou sy engeltjies aan ons toe.

    Baie mooi stukkie pikkie.

    lekker dag

  10. Nimsi says:

    Dankie pikkie
    dis nou n sweet storietjie!
    Corli, ek stem saam met Pikkie, die regte een wag vir die regte tyd!

  11. Wie rook?
    mmm
    Rook jy ook na seks?
    Nee, ek weet nie, nog nooit gekyk nie.

  12. sorry is oulike storie, pikkie maar dis wat nou in my kop ingespring het…..

  13. boendoe says:

    Toemaar, Rosa, myne ook toe ek die opskrif die eerste keer gelees het.😉

  14. ding says:

    Frankie:
    Dis hoekom Ding selibaat lewe… kan nie meer sigarette vir al die bure wie OOK na die tyd wil rook, bekostig nie😈

    Pikkie:
    Daai kennertjies klink kompleet asof Ding hulle se pa kon gewees het. Kan net dink as Ding kinders moes hê, sou hulle juis so gewees het. Maar dankie, Ding het homself nou hier skoon in ‘n hoes-trane-bui ingelag vir die bedryf.

    En ja, die kleinste van kinders het die manier om manman tussen die oë te tref met opregte waarheid. Soos toe ‘n 2jarige Goue Lokkies en die Heilige Petrus nie eenstemmigheid oor haar gedrag kon kry nie en HP die kant toe wil en sy daai kant toe wil en hy met haar raas; sy hom terugraas dat hy nie met haar moet raas nie; hy antwoord hy MOET, want sy is mos SY kind! En sy hom counter met: Issie, ek issie Pappa se kind nie. Ek is Liewe Jesus se kind!

  15. Paula says:

    Dit is ‘n pragtige storie:) Laat my verlang na my “4” kinders en laat my regte 2 baie styf vasdruk teen my hart van dankbaaheid🙂

  16. Nikita says:

    Ek het heerlik gelees en lekker gesmile vir wat gebeur het, dit is altyd vet pret wanneer dit konserttyd is, onnies het heerlike pret met segoed wat kinders se en glo my, sulke oulike dinge word deeglik geniet! dis cute/kosbaar! Skryf dit op en vertel hulle daarvan as hul ouer is, hulle sal dit geniet!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: