In die kas

Hierdie is familie, bloedfamilie al is dit ‘n entjie verlangs…

My Oupa hulle was ‘n hele swetterjoel kinders, nege of tien, ek is nou nie seker nie.  My Oupa-grootjie was ‘n ‘blacksmith’ van ses voet sewe en het 355 pond geweeg die dag toe hy dood is.  Nie vet nie mense, GROOT!!!   ‘n Harde man, ek het so baie stories om oor hom te vertel, soos byvoorbeeld dat my Ouma-grootjie twee 6 pond hammers, een aan elke hand, met rieme aan sy arms vasgemaak het en dat hy dan ‘oorkruis’ geslaan het.  Dan was daar Ouma-Groot Kalla, net so ‘n groot vrou, wat haar spannetjie met ‘n ysterhand regeer het.  En saans as die brood uit die oond kom, het sy nie die brood in snye gesny soos ons dit ken nie, sy het die brood sommer so in die breedte gesny en elkeen het so ‘n laaaang sny brood met varkvet gekry.

Oupa-groot se teleurstelling het nie einde geken toe die eerste kind gebore word en dis ‘n dogter nie.  Hy kom toe seker op ‘n punt waar hy die onvermydelike maar (moet) aanvaar en vertel toe vir die wêreld dat sy tweede kind beslis ‘n seun gaan wees.  Vertel selfs wat sy name gaan wees.  Toe die tweede enetjie gebore word en dit is wèèr ‘n dogter kry die arme kind toe nou die familiename….  Christoffel Petrus Andries…    Jip.  Dit was haar name en dis oor haar wat hierdie storie eintlik gaan.

Toe sy begin rooi hakskeentjies kry het my Oupa-grootjie dan ook vir haar ‘n man loop soek.  Sy het egter viervoet vasgesteek en met sulke name neem ek nie vir Oupa kwalik dat hy haar maar laat begaan het nie.  Wel sy soek toe self vir haar ‘n man uit, hulle trou en trek weg…  nie te ver nie, net ver genoeg dat hulle hulle eie lewens kan ly en ook darem net ver genoeg dat haar man, (sê maar oom Piet, want as ek sy regte naam moet gebruik kan ek dalk later met probleme sit…) nie by Oupa se Blacksmith-winkel hoef te werk nie, want hy was maar klein van postuur en sag van hart.

Wel Oom Piet het die begin van sy lewe by Yskor gewerk, maar van daardie tyd weet ek nie veel nie, want ek was toe nog nie gebore nie…        :lol:     Wat ek julle wil vertel is eintlik wat ek kan onthou!   Toe ek hulle ‘leer ken’ het, het hulle op ‘n kleinhoewe buite Hartbeespoort gebly.  Oom Piet was ‘n Dahlia-boer.  Rerig, hy het rye en rye van die mooiste blomme wat ek nog in my lewe gesien het gehad.  Hy het daardie blomme versorg en vertroetel en hulle het werklik ‘n bestaan daaruit gemaak.  Natuurlik was hy toe al afgetree.  Tannie Tol het altyd die heerlikste ‘dumpling’ gemaak.  Ek belowe julle dit was uit die boonste rakke.  Eendag loop ek deur hulle huis op soek na iets, of moontlik het ek net rondgesnuffel, hoe moet ek onthou?  Ek kom toe op die toe deur af, draai die knop, maar niks.  Ek wonder toe oor die toegesluite slaapkamer, want teen daardie tyd was die kinders lankal uit die huis.  Op pad huis toe vra ek toe my Ma na die deur en daar ontrafel die ongelooflikste storie denkbaar.  Oom Piet het die een slaapkamer se vensters toegemessel, aan die binnekant rye en rye rakke gebou  en in die een hoek ‘n moe… enorme groot kas met BAIE slotte.   Al sy persoonlike besittings, van sy naelknipper tot by ‘n boormasjien of hammer het hy in daardie kas weggesluit.   Die rakke was volgepak met kruideniers, skoonmaakmiddels en toiletbenodighede en as Tannie Tol iets nodig gehad het moes sy by hom kom vra daarvoor.  Hy het dan die deur oopgesluit en presies afgeweeg en uitgehaal wat sy nodig het!   Amazing…..

Jare later, toe ek as jongmeisie na skool nog by my ouers gebly het, kom oom Piet tot sterwe.  Tannie Tol kuier toe so van een familielid tot ‘n ander en geniet die vryheid ten volle.  So kom dit toe dat sy vir ‘n week by ons aan huis kom kuier.  Ek is heel in my noppies want ek sien net weer die heerlike dumpling voor my geestesoog.  Daar gekom gaan dit te jolig want Tannie Tol was ‘n skreeusnaakse mens.  Een aand, ek was al in die bed klop sy aan my deur en vra of sy my iets belangriks kan vra.  Sy is toe later daar uit soos ‘n ware samesweerder en die volgende dag six ek toe af winkels toe en kom met die pakkie tuis.  Sy verdwyn toe in die badkamer in, dit word ‘n uur, dit word later twee ure en al wat haar verskyning maak is tannie Tol.   Later klop ek moedeloos aan die deur en dryg om die brandweer te kry as sy nie NOU die deur oopmaak nie.  En daar staan Tannie Tol, ‘n uitdrukking van verrukking op haar gesig!  Dis asof sy die mooiste gesig denkbaar gesien het.  ‘Tannie, is Tannie orraait???”

“Voel net hier, so sag soos ‘n baba se velletjie!!!”  Sê sy terwyl ‘n traan oor haar wang biggel.   Tannie Tol het vir die eerste keer in haar lewe beenhare geskeer, (Wel sy het dit ge-Nair) ek was te bang om haar met ‘n skeermes los te laat, en ook maar goed, want sy het elke denkbare stukkie vel onder haar kop onthaar.  Ek was net uiters dankbaar haar wenkbroue en hare het die storie vrygespring anders was dit ‘n uitgemaakte saak dat ek op my ‘wyse’ ouderdom nie ‘n loesing sou vryspring nie, want glo my my pa was woedend dat ek die Tannie so in die versoeking kon ly….

nair

24 Responses to In die kas

  1. Adrie says:

    WHAHAHAAHAHAHAHAHAHAHAHAHAHA

    My maag pyn skoon. Pikkie verlei ou tannies. WHAHAHAHAHAHA

  2. Wipneus! says:

    😆 Lekker storie Pikkie!!

  3. boendoe says:

    Ag, dierbaar! 😆

    Wee’jy, ek sou so man sommer onner sy gat uitgeskop het. Imagine! Wat se lewe is dit nou nie? 👿

  4. Sjoe, ek sal dit nie maak met so man nie! Dink hy sal sommer self die pad vat😆

    Nice storie Pikkie!

    • Pikkelik says:

      Whahahaha, Kaalvoeterjasie, ek is nogal geneig om met jou saam te stem, hy sal hol dat jy net hoor tekkies fluit!! 😆 Maar onthou, hierdie was net na die middeleeue… 🙄

  5. Nimsi says:

    Great storie Pikkie!
    Wat het van al die oom se “kruideniersware” geword?
    Hoop sy het dit als saam met hom begrawe!
    Nimsi

  6. Alta says:

    Hoe het hierdie oumense oorleef wat so baie kinders gehad het? My ma-hulle was 15 waarvan 3 dood is met geboorte. 12 om groot te maak. Ek haal my hoed af!!!!
    Nice storie Pikkie.

    • Pikkelik says:

      Alta, ek deel jou sentiment. Maar my man hulle was 10 kinders waarvan 9 nog lewe!! En hulle het die lekkerste kinderjare denkbaar gehad. Hulle het hulle Pa net naweke gesien, het nooit genoeg van niks gehad nie, maar hulle was GELUKKIG! Ek kan ure, nee dae lank sit en luister as hulle begin stories en gebeure vertel…

  7. Nelba says:

    Lieflike lekker storie!

  8. Adrie says:

    Pikkie

    Werk jy vandag oortyd?

  9. Pikkie, jammer dat ek dit moet se van jou familie, maar Oom Piet klink nie vir my of hy ‘n nice man (lig gestel) was nie…ehm. Tannie Tol klink veel beter!

  10. Xanika says:

    Sjoe wat ‘n storie! Is wonderlik om sulke herinneringe te kan hê, wens ek het beter geluister toe my ouma van haar kinderdae vertel het.

  11. flippiefanus says:

    Dis nou ‘n lekker-lees storie Pikkie. ‘n Mens verstom jou aan die dinge wat die vorige geslagte alles aangevang het.

  12. A3 says:

    Ek het lank laas hier gelees, maar het ek die nou geniet! Nou wonder ek net of die tante toe sie sleutel van die kassie gekry het en alles ondersoek het, en wat haar reaksie was.

    Lyk my jy is nou heeltemal gesettle in UPT.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: