Oorlewing van die sterkstes…

So ‘n paar dae gelede het Boendoe by my kommentaar gelos. Ek haal ‘n gedeelte daaruit aan: “Ek weet die ‘delete’-knoppie is nie nou ter sprake nie, maar vir my, persoonlik, beteken dit die wereld om te lees van ‘n ma wat met TWEE woelwatertjies moet…cope…klink ook nie na die regte woord nie, maar hopelik weet jy wat ek bedoel.”

En nou wil ek graag hierop antwoord. Sy het my behoorlik aan die dink gesit met hierdie een sinnetjie. ‘Cope’ – Ja beslis die regte woord! Oorleef! Wat ek nou gaan sê gaan ek sê met soveel liefde en versigtigheid, want ek weet ek gee myself nou weer uit vir ‘n toffie… Ek gaan gekou word….

1301833h56mtev2hm1

Ek het my kinders bitter baie lief. Hulle is my lewe. Hulle is my opstaan en my gaan slaap. Maar EK weet wel dat ek net cope! Ek is nie altyd die mamma wat ek graag wil wees nie, nee jitte, dis ‘n leun, ek is selde die mamma wat ek graag wil wees. Ek is nie meer ‘n jong meisie wat alles in my stride vat nie. Ek het nie meer die eindelose bonnels energie wat ek 10 of 20 jaar gelede (wat ‘n goeie kinderbaar tyd vir my sou wees…) gehad het nie. Ek het nie meer altyd die lus om vir ure aaneen op die mat met Lego te speel nie, ek het nie altyd meer die stamina om vir ‘n middag lank ‘n popwaentjie wat letterlik 50cm hoog is rond te stoot nie!

Dit gaan nie meer so maklik om tot bo op die jungle gym te kom en my boude dan in die glyplank in te pas nie. 😆
Ek twyfel of die swaai se toue nog sterk genoeg is om my gewig te dra en as ek op die trampolien spring voel dit vir my of my voete tot op die grond afsak…. Dit is nie vir my lekker om nounog 4 of 5 keer ‘n nag op te staan om te hoor waaroor die kinders huil nie, en meer nog, dit is wragtig nie vir my lekker om agter hulle skoon te maak as hulle siek was nie. Dis nie vir my lekker as hulle soos kat en hond baklei vandat hulle ogies oopgaan totdat dit weer toegaan nie. Sien, hulle het altwee baie sterk persoonlikhede en waar Poppedyn nou haar plek in die hierargie wil vestig is Ouboet nie van plan om een millimeter terug te staan nie.

Ja, ek is kwaai, ek raas en baklei, en slaan soms hulle boude aan die brand en dit is ook nie vir my lekker nie. Soms voel dit of ek hulle teen die muur kan vasspyker en ‘n goue raam kan omsit! En as ek aan die toekoms dink kry ek kou rillings. Ander vroue van my ouderdom maak reg vir kinders op universiteit, ander gaan binnekort ouma word, ander se lewens is gesettle, en myne????

Alles en alles…. Ja, ek cope maar net. Ek doen maar net die beste wat ek kan doen en bid vuriglik dat die Here in Sy groot genade sal help dat my kinders die beste volwassenes sal wees wat hulle kan wees. Dat hulle ten spyte van my as Ma, tot ‘n mate gebalanseerde grootmense sal wees. Wat meer kan ek doen… Het iemand dalk vir my raad???

520545y9rr4uvp1z

Maar as ek moet terugsit en alles oorweeg, is my kinders nog steeds my grootste vreugde en plesier in die lewe en kan ek nie my lewe sonder hulle voorstel nie.  Ek wil hulle nie anders hê nie, ek wil hulle nie ouer hê nie, en ek wil op ‘n punt kom waar ek hulle elke sekonde van my lewe geniet…

15 Responses to Oorlewing van die sterkstes…

  1. Xanika says:

    Ek kan nie sê ek weet hoe jy voel nie, maar ek verstaan wat jy bedoel! En veral om kleiner kinders as die res van jou “portuurgroep” te hê moet nogal soms ‘n uitdaging wees. Ek het nou wel net ‘n laaitie en weet nie of dit ooit sal verander nie, maar ten spyte van alles wens ek tog so om nog ‘n kind of twee te kan hê… Soms voel mens lus om hulle dood te druk van liefde net om later te wonder hoekom jy dit nie maar gedoen het nie! Sterkte, en moenie te streng op jouself wees nie.

  2. Wipsnoet says:

    Jy gaan nie gekou word solank ek hier rondhang nie👿

    Wip dink jy cope baie goed!!! Veral as ek dink hoe rof jou lewe die laaste tyd was! (((((Piksie)))))

    Pikkie vir president!!!! LOL
    x x

  3. netjane says:

    Dis regtig ‘n pragtige inskrywing Pikkie. Ek het nie kinders nie, maar ek glo ek verstaan wat jy bedoel.

    Mens doen altyd beter as wat jy dink – ek dink ook jy doen baie meer as cope.

  4. Dellie says:

    Ek het net een gehad om groot te maak, dus haal ek my hoed af vir jou dat jy so goed cope met twee. Ek dink jy is ‘n baie goeie ma, jou inskrywings loop altyd oor van liefde vir jou kinders. En dis net normaal om so af en toe te voel asof jy hulle aan die wasgoeddraad wil ophang.😉

  5. Ogies says:

    Sjoe, ek voel net soos jy. Ek hardloop my bene stompies agter alles aan. Ek voel soms asof niemand my waardeer nie, asof niemand eers my pogings raak sien nie. Maar ek weet ook dat ek my lewe nie sonder my kinders wil hê nie. Ek’t ook op 30 my eerste kind gehad, en het al baie gewonder of dit nie beter is om jou kinders almal te hê voor jy 25 tref nie. Maar ek dink terselfdertyd het God beter geweet vir my. Daar was te veel issues wat ek moes oorkom voordat ek my kinders sou kon waardeer. En so tussen die rondhardloop en cope, wel, ten minste het ek pragtige kinders!

  6. Ek haal my hoed af vir enige een wat kinders het! Ek sal moord pleeg…
    Ek glo dat jou beste meer as genoeg is en dat jou kinders wonderlike volwassenes sal uitdraai. Boeties en sussies baklei maar, dis hoe dit is. Ek en my broer het eers ophou baklei toe hy amper klaar was met skool.

  7. boendoe says:

    Ai, Pik. 😉

    My ervaring: ek het my eerste twee tussen 22 en 25 gehad. Ek het toe die energie gehad om te stimuleer en te speel and what have you. Maar…ek was STUPID. En neuroties.

    Nou, op 42, het ek voorwaar nie meer energie nie. Ek sal ure in die tuin spandeer, maar MOENIE vir my vra om Barney se puzzle op die mat te bou nie. :mrgreen: (Oukei, ek doen dit wel, maar met ‘n gegriefde gevoel in my hart!)

    Maar…ek is soveel rustiger. Ek weet kinders is sterk. Ek hoef nie dadelik dokter toe te hol as hulle eenkeer gebraak het nie. (Nou klink ek dapper – gewoonlik is ek sooo dom as Pieter siekerig is! 😆 ) Ek praat meer soos ‘n grootmens met hom. Babytalk is uit. Overall is ek meer ontspanne. Reels wat vir my eerste twee gegeld het, geld nie noodwendig vir hom nie. (Hoekom MOET hy 8 uur gaan slaap? Ons het ons eie roetine wat ons pas – op die oomblik.)

    DIt het sy voordele om ‘n ouer ma te wees. Dit het sy nadele ook. En dis goed om by jou en Zee te kuier wat in dieselfde situasie as ek is. Ek dink net julle doen ‘n baie beter job as ek.

  8. BB says:

    Ek dink jy doen ‘n excellent joppie Pikkelik!! Gee kans… oor ‘n jaar of 10 kry jy vir jou ‘n laatlammetjie en dan kry jy somewhere by mere miracle extra asem – ek het! Baaaie meer as met my eerste twee… Ek klim en spring daai ou tienertjie van my onner die tafel in! As hy sy krieketbal en kolf bring virre vinnige oefen in die parkie, bowl ek hom móég en bat ek hom nog moeër en smeek hy virre tea-break😆
    Ek stem met Boends – ek het hom heel anders grootgemaak – ek was tonne meer ontspanne – MAAR by my MOET ‘n kind 8 uur (ok dis darem nou al 9 uur) gaan slaap – Mamma hettie tyd of krag om met Pappa te bond in die middernagtelike ure ook nog nie:mrgreen:
    Op die ou einde kom dit hierop neer – wanneer sou jy sê is ‘n ma ‘n ‘suksesvolle’ ma?? Wanneer sy haar nie meer bekommer oor of sy dit of dat goed genoeg doen? Wanneer sy nooit hoef te raas, baklei of raps nie? Wanneer sy suutjiespoep deur die huis trippel en die kinders mors nie, raas nie, (en lag dalk ook nie?).
    Ek weet nie waarteen jy jouself meet nie, maar dit moenie teen ‘n ander ma wees nie – meet jouself uitsluitlik deur die oë van jou (eie) kiddies – die drukkies, die soentjies en die liefde. Dis jou worth en dis jou maatstaf! xx

  9. flippiefanus says:

    Ek haal my hoed af vir elke moeder wat haarself in liefde so kan opoffer vir haar kinders. Dis duidelik dat mens nie soveel moeite doen soos wat jy doen Pikkelik as mens nie jou kinders baie lief het nie. Wat jy nou saai gaan jy eendag oes. Ek beny jou.

  10. Zee says:

    Pikkie…
    Ek het hierdie post van jou vroeg vanoggend gelees, en weer vanmiddag, en nou weer.
    Ek het besef hoe jy my presies hier uitgebeeld het. Ja, ek is al 46 en sit met ‘n kleinding van twee en dit was ‘n baie groot aanpassing vir my en my man.

    Ek word baie keer as ek so moeg is en net wil verlore slaap inhaal kwaad..vies.(weet nie eintlik wat dit is nie) as ek moet opstaan as Zeethan vir sy bottie kom vra…. please Ouma (Ag sh!t, nou tjank ek).. Hoe kan mens vir so klein mensie kwaad word of bly!

    Ons sit baie keer en gesels oor hoe anders dit sou wees as ons nog jonger was. Sy energie vlakke is net te veel vir ons. Maar dan kyk jy ‘n daardie weerlose gesiggie vas wat so mooi vra om te kom speel, lees, puzzles bou, outside toe te gaan… hoe kan jy dit weier. En skielik kry jy net weer woema en gaan doen sy ding saam met hom.

    BB, Jy praat sulke waar woorde hierbo!

    Hier salute ek dan al ons mammas…. ONS DOEN ‘N GOEIE JOB en ja…. ONS COPE AL DIT OOK NET NET! MAAR DIT IS ALLES DIE MOEITE WERD!
    Boendoe, jy staan geen tree terug hier nie girl!!!

  11. Sammi says:

    Almal hierbo het reeds gesê wat gesê moes word. Ek dink hoe meer passievol ‘n ouer is, hoe moeër raak jy. Want jy GEE 110%.
    Pikkie, mens kan ook NET soveel, maar ek belowe jou, daardie kinders van jou weet en hulle gaan eendag nog vir jou sê: Mams, jy was my valkussing in die lewe.
    JY is ‘n wonderlike omgee-ma maar onthou jy’s net mens!!

  12. Nelba says:

    Goeie, inskrywing, Pikkie! Ek is 38 en jarre ouer as my kinders se maatjies se ma’s en sowaar…ek weet wat jy bedoel.

    Ontoereikend voel ek elke dag. Maar ek voel ook (intellektueel, nie noodwendig emosioneel nie) dat “goed genoeg” miskien die wagwoord is.

    Iemand het eendag vertel van die professor wat sy kinders al in die baarmoeder begin stimuleer het. Hulle is nog nie tieners nie, maar kan reeds lesings gee op universiteitsvlak in goeters soos sterrekunde, wiskunde en so meer. Hulle is egter klein grootmensies met geen tyd vir kindwees nie.

    My eie ma was ook ‘n ouer ma en ek was lank ‘n alleenkind. Een van die goed wat ek die beste onthou is dat sy nie saam met my op die grond kon kruip nie, want haar rug was seer. En ek kan my eie stem nou nog hoor neul: “Mammaaaa, kom speel saam met my.” Maar sy is die beste ma waarvoor mens maar kan vra. En nou nog as sy my in haar arms toevou, kry ek weer moed vir die goed wat my onderkry. DIS wat saakmaak.

  13. anoesjka says:

    Ek is al 30 en self nog nie ‘n ma nie. ‘n Jaar gelede nog het ek al hierdie goeie voornemens gehad dat as ek eendag ma is, gaan ek saam met my kinders speel, hulle leer waar ek kan, stories lees elke dag etc. Dit was egter net totdat my skoonsuster se twee kinders (dogtertjie 4 en seuntjie 7) vir twee weke alleen by ons kuier het. Vir my wat glad nie gewoond is aan kinders nie, was dit nogals ‘n uitputtende twee weke. Waar ek en my man nie so erg ingestel is op tyd nie, moes ek vinnig leer dat kinders meer roetine verg. Soggens dou voor dag is hulle al aan die gang en rasend van die honger. Verder is dit moeilik vir hulle om te verstaan dat ek heeldag voor die rekenaar moet sit en werk en hoekom ek nie eerder buite saam met hulle kan speel nie. Teen die tyd wat hulle saans klaar geeet en gebad het en in die kooi was, was ek pootuit. Sonder dat ek dit agtergekom het, was ek ook sommer korter van draad met my man. Toe het ek besef…. kinders groot maak is nie kinderspeletjies nie. Dit neem soveel van jou tyd en energie in beslag en terselfdertyd moet jy nog dieselfde vrou vir jou man ook bly. Ten spyte van dit alles het ek elke oomblik wat hulle hier was geniet en mis ek die twee lewenslustige bondeltjies baie. Kinders help ‘n mens beslis om anders na die lewe te kyk. Geniet elke oomblik saam met jou kinders en sterkte…. my beurt kom nog.

  14. Nimsi says:

    Hallo Pikkie,
    Hier is n mooi gebed om te bid wanneer jy onbekwaam voel.
    Plak dit sommer op jou yskas en bid elke dag:
    Here, ek is net n gewone mens, maar ek is bly ek dien n buitengewone God! U het my gemaak, my uit al die vroue gekies om my kinders se ma te wees. U sien dinge in my raak wat ek dalk nog nie besef nie. U beloof in U woord om my toe te rus om U wil te doen. U weet wat ek nodig het om my kinders te laat gedy, om hulle te lei, te dissiplineer en sonder voorbehoud lief te he. U weet wat ek nodig het om die werk wat U vir my gegee het so te doen dat dit tot U eer strek. Help my om U altyd te vertrou, ook in die buitengewone. In Jesus se Naam. Amen

  15. Anoesjka says:

    Ek het nou net hierdie epos gekry en dink dit is baie gepas…

    Die is vir al die mammas wat hulle sterre vries op die metaal
    paviljoen by die rugby of krieket wedstryd in plaas daarvan om dit van
    die warmte van die kar sitplek af te kyk sodat as die outjie vra “Het
    ma dit gesien” dan kan jy antwoord “Maar natuurlik, ek sal dit vir
    niks in die wêreld mis nie” en dit bedoel uit hulle harte uit.

    Dit is vir al die mammas wat honger bly sodat hulle kinders kan eet.

    Dis is vir al die mammas wat hulle seuns leer kook en hulle dogters
    leer om ‘n goeie opstopper te kan gee.

    Dis is vir elke moeder wie se kop outomaties draai as hulle ‘n
    stemmetjie hoor “mamma” sê in ‘n winkel al het hulle nie hulle kinders
    saamgebring nie – of hulle sit ver weg in die kollege

    Dit is vir mammas wie se kinders die pad byster geraak het, en die wat
    nie bereik kan word nie.

    Vir al die mammas wat hull lippe byt tot dit bloei vir die 14 jarige
    wat nou weer haar hare groen gaan kleur het.

    Wat maak ‘n goeie Moeder in elk geval?

    Is dit geduld?

    Is dit deernis?

    Is dit die breedte van die heupe?

    Is dit die vaardigheid om terselfdertyd ‘n baba te voed, kos te kook
    en ‘n knoop aan te werk?

    Of is dit net eenvoudig haar HART?

    Is dit die pyn wat jy voel as jy jou seun of dogter sien verdwyn om
    die hoek oppad skooltoe – alleen – vir die eerste keer?

    Is dit die paniek – jare later, om 2 uur in die oggend, as
    jy wakker lê en wag om die gerustellende geluid van die sleutel in die
    voordeur te hoor en te weet nou kan jy slaap, hulle is veilig onder jou
    vlerk terug?

    Of is dit die gevoel om te hardloop en jou kind ‘n drukkie te gaan gee
    as jy hoor van ‘n brand, ‘n kar ongeluk, of ‘n kind wat sterwend is?

    En ouer mammas wat moet leer om te laat gaan.

    Vir werkende mammas en vir by-die-huis mammas.

    Enkel mammas en getroude mammas.

    Mammas met geld en mammas sonder geld.

    Dit is vir julle almal. Vir ons almal. “hang in there”

    Op die ou end doen ons die beste na ons vermoë.

    Vertel hulle elke dag dat jy lief is vir hulle en vir hulle bid .
    Stuur hierdie na al die mammas wat al jou pad gekruis het in die lewe.

    “Home is what catches you when you fall – and we all fall.”
    xxxxxxxxxxx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: