Na bitter baie jare…

Iets snaaks het gister in my lewe gebeur…  Dis eintlik ‘n baie lang storie, maar dit kom daarop neer dat my ouers op ‘n stadium ‘n 4 jarige dogtertjie in pleegsorg ingeneem het.  Sy was vir vier jaar ons kleinsus.  Deel van ons…  En toe moes sy weg.  Weeshuis toe.  Toe na ‘n ander en toe na nog ‘n ander en so het dit net aangegaan en aangegaan tot dat ons tred verloor het.  As ons skakel was die standaard antwoord.  ‘Dis nie goed om met haar te praat nie!’  My vraag?  Nie goed vir wie nie, nie goed vir ons nie?, nie goed vir haar nie?, of miskien nie goed vir julle nie.  Ek dink laasgenoemde is die werklike antwoord.

Die afgelope dertien jaar soek ek al na haar.  Ek het al letterlik elke weeshuis, kinderhuis, huis van veiligheid, noem dit…  gebel.  Geen sukses.  Sy is net weg – iemand kan tog nie net weg raak nie – sy is deel van ons familie!  Sy is en was en sal altyd ons kleinsus wees!!!  Ons familie is soos ‘n legkaart met die een hoekie soek.  Dit lyk nie te ‘bad’ nie, maar moet tog net nie van nader kyk nie…

Gister het dit gebeur…   SY het ons gekry.   Sy het my broer deur  Facebook opgespoor!  (En hiermee trek ek elke liewe negatiewe ding terug wat ek al ooit oor Facebook gesê het.)   Dis net so ironies dat ek dertien jaar lank na haar soek en sy kry ons…..    Sy is vandag al ‘n volwasse vrou met twee kinders…   kan die tyd so vinnig verbygaan?

Hierdie is vir haar en julle sal my verskoon as ek nie name opsit nie…

Poplap, weet jy hoe verskriklik ek na jou verlang het.  Weet jy hoe dit voel om jou orals te soek, in elke liewe kinderlaggie, elke ‘raak’ sêding van iemand, om elke gesig wat jy in die straat raakloop te deursoek….   Om te weet, my Poppie is nou hoërskool toe, sy het nou Matriek geskryf…  Om te wonder of jy darem ‘n vol magie het en klere om aan te trek???

Onthou jy hoe lief was jy daarvoor om saam met my winkels toe te ry in my pienk Mini?  Onthou jy hoe lief jy vir piesangs was?  Onthou jy jou swart en wit gestreepte swembroekie waarin jy tot gaan slaap het want dit was eenvoudig te mooi om ooit uit te trek?  Onthou jy jou eerste poniestert met die rooi strik wat ek vir jou gemaak het?  Onthou jy toe ons ‘Loof Hom met die tromme..” gesing het en jy gesing het ‘loof Hom met die hark?’

Onthou jy jou eerste skooldag?  Ons was almal daar, Pappa, Mamma, ek, Boeta….   Ons was so trots op jou toe jy daar staan met jou oorgroot skoolrok en boeksak wat by jou skouers verbysteek!

Vandag weet ek dat die lewe jou bitter sleg behandel het, en dit is eerlik nie wat ons vir jou wou gehad het nie!  Ons wou vir jou vreugde en sonskyn gee, maar dit is ons nie gegun nie!  Maar almal het tred verloor met jou sterkste karaktertrek, wat al so duidelik was toe jy nog ‘n grootmond vierjarige was….  Jou deursettingsvermoë en hardkoppigheid.

Jy het Ons gekry!  Dankie daarvoor, dankie dat JY ook nie opgehou soek het nie!  Dankie dat jy nie vergeet het nie, want ons het rerig nie vergeet nie!   Ons gaan ‘n plan maak en sommer een van die dae gaan ons almal weer bymekaar wees.  Ons gaan saamkuier, saamgesels en weer mekaar leer ken…

Ek kan nie wag nie….

Jou Ousus

Pikkie

534520omd1edz6ut

23 Responses to Na bitter baie jare…

  1. boendoe says:

    Ai, ai, ai! Fairytales do happen. 😉 Ek hoop jy gaan ons van julle herontmoeting vertel, Pik?

  2. Poplap says:

    Hi sus ek het jou blog gevind en ek huil so dat dit voel of my hart gaan uitval… kannie wag om julle te sien nie…. ekke so bly….
    Dankie vir my briefie…

  3. Dis so hartseer en mooi deurmekaar!
    Mag julle nog jarrrre saam kuier en lag!
    (((Pikkie)))

  4. Pikkelik says:

    MEISIEKIND!!!!! POPLAP!!!!! DAN HUIL ONS TWEE NOU SAAM!!!! DANKIE, DANKIE, DANKIE VIR MY KOMMENTAAR! Soos ek vanoggend gesê het, ek gaan ‘n plan maak en alles gaan regkom! Op hierdie stadium is ek nog so broos en kan nie GLO wat alles die afgelope 24 uur gebeur het nie, maar ‘n plan gaan ons maak! Ek mis jou so baie!

  5. Wipneus! says:

    Wow die lewe het nog mooi in!

    Dis fantastiese goeie en mooi nuus!! (((((Piksie)))) sien jy elke donker wolk het ‘n silwer randjie!! Ek is so bly vir julle!

    Ag mense, ek glo nogsteeds en altyd aan fairytales!

    Laat ek waai voor ek te soppy word!! 😆

  6. Adrie says:

    As Facebook al die stories kan vertel wat hulle het. . . . .

  7. ja jy kan terug vra, nie goed vir wie nie?? Jinne mense kan wreed wees.
    Ek is so bly vir julle en haar. Die is absoluut fantasies, dankie dat jy die warm-gevoel-storie met ons gedeel het. Die is (((special)))

  8. Sonkind says:

    Pikkie & Poplap – nou kyk julle net vorentoe! En mag elke nuwe dag stukkie vir stukkie al die gisters se hartseer uitvee.

  9. maxie says:

    Sit en tjank ek nou oor verlore jare en tweede kanse.

    SO bly julle het mekaar weer gevind!!!!

  10. Sammi says:

    Pikkie en Poplap
    Eerstens Pikkie – hierdie kom uit jou warm hart – dankie vir die deel hiervan en tweedens moes julle iets reg gedoen het want Poplap het goed genoeg gedoen en sterk genoeg gewees om julle weer te wou opspoor en sy kan haar stories vir ons deur jou kom vertel.
    WOW! Dit is absoluut wonderlik!!!!

  11. Paula says:

    Wonderlik! Mag julle twee ‘n hond uit ‘n bos kuier en nooit ooit weer geskei word nie!

  12. roer says:

    Pikkie, vrou, hoe lekker sit ek en tjank nou met ‘n groot knop in die keel. Dis so wonderlik! Vergeet die verlede. Julle het mekaar gekry!! Ek is so bly vir julle. (((Pikkie)))

    ns Beteken jy gaan terug op FB?😉

  13. Nimsi says:

    Hello Pikkie,
    my eerste kuiertjie hier by jou, en nou tjank ek n rivier vol…
    hoop julle gaan nog baie lekker sonskyn tye saam he! Noem my maar nuuskierig maar hou ons asb op hoogte hier.
    Nimsi

  14. Sandra says:

    Pikkie dis sulke wonderlike nuus. Jare terug het ek ook so ‘n “sussie” gehad en ek gaan nou onmiddelik op Facebook soek. Hulle het haar ook “teruggeneem” omdat sy te geheg geraak het aan die familie en hulle haar wou terugsit by haar eie familie eendag? Ek wonder of dit ooit gebeur het. Ek kan ook nie verstaan hoe kan mense sommer net besluit oor wat goed vir ‘n kind is of nie

  15. poplap says:

    More my Liewe Pikkie

    mis jou vreeslik baie vanoggend…. hoop jy het n lekker naweek gehaad….ons he gister my dogterjie se verjaardag partytjie gehaad dit het regtig baie dol gegaan dankie tog dit kom net een keer n jaar…wens regtig julle almal kon daar wees…praat weer Aiden soek kos…lol

  16. Nelba says:

    Ek is so bly!

  17. Dellie says:

    Ag, hoe lekker tjank ek nou! Vir al die verlore jare, maar veral vir die feit dat julle mekaar weer gevind het.😉

  18. Kokkewiet says:

    Sjoe, dis mooi! Ek is so bly julle het mekaar weer gevind. Nou kan julle vorentoe kyk en ‘n baie mooi toekoms met nuwe herinneringe bou!!!!

  19. Ogies says:

    Ek stuur ‘n spesiale gebed van dank aan God. Dat hy jul altwee deur die jare “deel” gehou het van mekaar en dat Hy Sy tyd so gekies het om jul weer bymekaar te bring dat ek ook daarin kon deel. Jul blydskap is aansteeklik en ons wil alles hoor van die lekker kuier Pikkie!

  20. Zee says:

    WOW Pikkie, ek kry sommer hoennervleisies op my arms!!

    Dit is absoluut awesome!!

    Poplap, bly om jou ook hier raak te lees… ek weet sommer dat dit vir Pikkie die wêreld beteken het…

  21. poplap says:

    Hi Ou sus

    Nag Lekker doeks, hoop julle is almal veilig en warem…

    Drukkies en soentjies

    Ekke

  22. Pikkie says:

    Hallo almal! Ja dit is die wonderlikste, heerlikste gevoel denkbaar!!! Ek kan nou nog nie alles behoorlik inneem nie…
    Hallo Poplap!!! Lekker om jou so baie hier te sien!!!! Wow… As Telkom nou net hulle boude wil roer kan ons meer met mekaar gesels!!! Kan nie wag nie!!

  23. annderster says:

    wat ‘n hartroerende blog!! jis wonderlik, pikkelik. vertel ons meer van julle, noudat julle mekaar gevind het?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: