Sulke Ditse Datse….

Gistermiddag bel Jan van Telkom my.   Ja, hy wil met my praat want Kosie sy baas, (met wie ek nog heeltyd die stryd aan die gang het)  voel al so skuldig hy weet nie meer wat om vir my te sê nie!!!   Ek skiet amper ‘n korrinêr, blaas ‘n long en sluk ‘n ontwurmingspil!  ‘n Grote, ‘n perdepil!   Jeits, sal die man my nou nie liefies meedeel dat dit nog tot 3 weke kan vat voor ons DSL lyne ge-installeer gaan word nie, want een van die ‘Admin-beamptes’ het nie hulle werk gedoen nie!   Wie is hy, wys hom vir my, bring hom vir my ek wil sy sleutelbeen uitruk en ‘n sosatie van sy bobeenvleis daarmee maak!!!!

So dames en here, die stryd duur voort!  Maar ek het nie nou lus om verder daaroor te praat nie.

Laat ek eers bietjie vertel wat alles in my afwesigheid gebeur het.   Ons sou mos die 29ste Desember getrek het, wel, al wat ‘n meubelvervoer maatskappy is was toe en ons moes toe van die diens van ‘n privaatpersoon met ‘n 8 ton vragmotor gebruik maak.   Die man bel my toe Saterdag  27 Desember en vra of hy nie maar die Sondag kan begin trek nie.   Jip, sê ek toe ewe niksvermoedend want my goed is reeds so dat dit geen probleem sal wees nie.   Elfuur Sondagmore is hy toe daar.  Met net EEN handlanger, geen toue en geen komberse!!!!  Ons trek toe maar weg en laai bokse dat dit klap.   Vat dit na Lelik toe en daar afgelaai, vertel Meneer toe vir ons, hy dink nou net hy wil ons nie verder help trek nie!   Daar sit ek toe op ‘n Sondag agtermiddag met ‘n trek wat ‘n kwart van gery is, sonder ‘n Trok en met mense wat die Woensdag in ons vorige huis intrek!   Benoude oomblikke!   Ek was buite myself.  Ek weet ek preek altyd blydskap en vrede en vreugde en liefde maar dit was bietjie swaar op my gemoed.  Om ‘n lang storie kort te maak, ek kry toe ‘n ander man met ‘n 3 ton Bakkie (met toue en komberse…) en ons trek Maandag oggend 8h00 my eerste klompie meubels.  Natuurlik werk Mynick alweer en kom toe eers net na 8 daardie aand tuis.   Maandagaand 11h37 laai die manne die laaste goed by Lelik af en kan ek tot rus kom.   Nooit weer nie en ek bedoel NOOOOOIIIIITTTTT weer nie!   Skiet my en trek my in ‘n kis, maar net nooit weer nie!!!!!

Wel ons is baie gelukkig en Lelik!  Alhoewel ek daagliks dorings uit die kids se voete moet haal, speel hulle weer vir ‘n vale.   Ek moet loop en soek na my kinders.   Hulle is weer soos hulle gewees het!

Iewers in Januarie het ons ook nog ‘n vreeslike ding deurgemaak.   ‘n Vriendin van my het een aand gesit en wag om ‘n vragmotor uit te teken wat oor die grens moes gaan.  ‘n Man het haar motor se ruit gebreek, haar ontvoer, aangerand, 2 maal verkrag, in die veld 4km buite die naaste dorp afgelaai en met haar kar weggejaag.  Die konstabel wat toe later op haar verlate motor afgekom het, het my nommer in haar handsak gekry en my geskakel om te vra of ek weet waar sy is, natuurlik het ek nie geweet nie en begin rondbel.  Ek ken haar nog te kort om te weet wie en waar om te soek , maar het uiteindelik toe op haar suster afgekom na seker 80 oproepe.  In dieselfde tyd het sy uiteindek by die dorp aangestrompel gekom.  Flenters en verwoes.   Wel, ek is baie dankbaar om te sê dat dit baie beter met haar gaan.  Sy gaan vir sielkundige behandeling en was vir ‘n tyd lank in die hospitaal opgeneem, maar sy maak stadig maar seker vordering!

Poppedyn praat deesdae sonder ophou, sy praat ons ore van ons koppe af!   Ouboet begin nou groot word.   Ai ek mis daai ou pokkel, babalyfie, maar ek gun hom sy menswees.

Nou moet ek eers gaan voorraad tel!  Het ek gesê dat ek by ‘n Vee-arts winkel werk.  Wahahahahaha, ek verkoop al weer veevoer, hondekos, veemedisyne en dippe!

Ek werk nie Maandae nie en ook net tot 13h30 elke dag so as ek stil is, hou maar net uit!   Daar is ‘n lig aan die einde van die tonnel!   (alhoewel ek dink dis ‘n stout kind wat met ‘n flits speel!!!!)

1660667ky4nrkfumu1

Love you lots, lekker naweek en ek praat weer Dinsdag met julle!

15 Responses to Sulke Ditse Datse….

  1. Adrie says:

    Eish Pikkie

    So bly dat ek is dat julle en die kinders gelukkig in Lelik is, so jammer is ek om van jou vriendin te hoor.

    Die bliksems kom te veel daarmee weg. Ek hoop sy kan dit verwerk en met die res van haar lewe kan aangaan. Want die res van haar lewe behoort aan haar, nie aan die monsters nie.

  2. Adrie says:

    Weer eerste en dalk ook tweede.

  3. Sonkind says:

    Ai Pikkie, JY is daai lig aan die einde van die donker tonnel. Jy maak sommer die blogwêreld weer lekker. Het nie eers besef ek het jou so erg gemis nie😉

  4. Paula says:

    My hart gaan uit na jou vriendin. Ek dra haar op aan die Here.

    Mag julle ook ‘n wonderlike naweek hê!

  5. Dellie says:

    Ai, jammer om te hoor van jou vriendin. Dit moes ‘n nagmerrie gewees het. Alle sterkte aan haar.

  6. ding says:

    ((((Pikkie)))) Ding druk jou sommer OP van blydskap dat jy terug is!!!!

    Ding het nog laaaaank nie vergeet nie, hoor. Ding skuld jou nog steeds. Maar dit is besig om prioriteit, ernstig prioriteit te word, goed? Gaaf. Wanneer jy dit die minste verwag, sal jou pakkie in die pos land by jou. Ding belowe.

    Kierts! Ding is bly jy is terug. Genugtig tog!

  7. maxie says:

    Jy’s terug! Beste nuus in ‘n baie lang tyd!

    Ai, jammer oor jou vriendin…

  8. Wipneus! says:

    Ek is bly dit gaan al beter met vriendin!

    (((Pikkie))) jy was regtig deur ‘n swaar tyd (nogsteeds), en as ek jou inskrywing lees, bespeur ek amper niks daarvan nie. Dis een van jou mooi karakter eienskappe! Sit ‘n moeilike ding weg in die laai en klap hom toe!!

    Kom sit hier langs Wipneus dat ek vir jou tjoklits voer!!😛

  9. netjane says:

    So lekker om nie meer hier te kom draai en net die “21 dae” inskrywing te sien nie!!

    Nog nuus, nog!

  10. Nelba says:

    Welkom terug! En baie sterkte vir jou vriendin.

  11. Krista says:

    ((Pikkie)) Ons is sooooo bly jy’s weer terug oppie lug!

    Hoe gaan dit met Roxy?

  12. Bottertjie says:

    Pikkie! Ek moes eenvoudig kom inloer! So bly jy is nog aan die gang. Jammer oor jou vriendin.
    Ja, jong, as die kleintjies eers begin praat, dan tuit jou ore sommer. Partykeer verstaan ek nog nie wat Blommie sê nie, maar met haar gebaretaal en die dat sy my hand vat en soontoe vat, kom twee en twee darem bymekaar!

  13. Ogies says:

    Jinne maar ek is bly jy is terug! Regtig baie bly. Dit klink of die werk wat jy gekry het regtig wonderlik pas by dit wat jy nodig het. Jy kan nog steeds ‘n groot deel van die dag by jou kinders wees EN ‘n ekstra geldjie verdien. En soos Wipneus sê: Jy is regtig ‘n uitsonderlike mens om soveel moed en deursetting te hê, en slegte dinge deurmaak sonder dat met ‘n lang gesiggie van kamer tot kamer sleep!

    Sterkte vir jou vriendin. My hart gaan uit na haar!

  14. Ek is jammer, maar ek het my doodgelag vir die sosatie en sleutelbeen storie! As ek daai ou is bly ek veeeeer weg😉

  15. Ogies says:

    Ek stem saam kaalvoet. En die ontwurmingspil….

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: