Lieflike lelik

Ok, almal weet nou-al dat ons vanaf Amsterdam na Upington getrek het.  Not easy, Not nice, Not anything…  Ons wag vir ons huis om te verkoop in Amsterdam sodat ons hier kan koop en intussen bly ons in ‘n pophuisie en betaal ander mense se verband.  Dit is nie my idee van slim nie, maar dit is nou maar hoe dit is. 
Ons bly IN die dorp, wat vir ander seker heel normaal en lekker is, maar vir ons wat gewoond is aan ruimte, oop velde, bome, gras….  ag noem dit, is dit nie baie pret nie.  Ons buurvrou is ‘n paramedikus wat nagdiens werk, so sy slaap bedags….   Nie goed as ‘n mens twee kinders het wat gewoond is aan hardloop, speel, spring, skree en wild wees nie.   Ek dink my seun is besig om van sy verstand af te raak, want hy ignoreer my eenvoudig deesdae ‘pointblank’ as ek sê hy moet stilbly. 

Ek kan al drie die slaapkamers in hierdie huis in my hoofslaapkamer van Amsterdam inpas.  Die badkamer is so klein ek weet nie eers hoe om dit te beskryf nie.  Daar is letterlik net plek vir die bad en ‘n wasbak.  Die toilet is darem apart, maar dit is dit….  Net een badkamer…   Die kombuis is lekker groot, maar nou is die kaste so ingebou dat daar nie plek is vir my yskas nie…  So my yskas en vrieskas staan buite onder die lapa.  Die huis het geen maar geen konneksies vir ‘n wasmasjien nie, die wasmasjien staan ook buite onder die lapa.  Die sit eetkamer is ‘n oopplan affere…   Als in als lyk my huis aaklig, eenvoudig omdat daar nie plek is nie.  Ek kon nie my meubels in die slaapkamers kry nie, die deure is te naby mekaar en die gang te kort of iets, maar die goed wou nie in nie.  Ek leef met die minimum goed.  Dit wat ek nie het nie, kom ek sonder klaar of gaan koop net die goedkoopste wat ek kan kry, want daar staan nog 83 bokse in die motorhuis wat ek nie eers aan geraak het nie!  

Ons motor pas net-net (met 10cm spasies weerskante) in die dubbelmotorhuis want diè is vol meubels en bokse.  

Laasweek loop ek verby ‘n eiendomsagent se kantoor en sien ‘n plot in die venster.  Ek gaan toe in om meer besonderhede te kry en die dame sê sy sal my gaan wys.  Vrydag bel sy egter en sê die plek is klaar verkoop, maar daar het ‘n ander plek ingekom, maar dis vreklelik… of sy diè maar vir my kan gaan wys.

Sonder veel hoop gaan kyk ek toe Saterdag.   Mense, ek het my hart op die lelikste plek denkbaar verloor.  Dis 2 1/2 hektaar grond, wat omtrent alles onder skadunet toe is… Daar is kanaalwater en groentetuine wat klaar aangelê en beplant is.  Verder is daar die mooiste, klippe, rotse, aalwyne, vetplante… Wat natuurlik ideaal vir hierdie klimaat is.  Daar is ongelukkig of moet ek eerder sê gelukkig bitter min gras, maar dit maak die werk ook minder.  Die huis is….   lelik!!!  Maar die ruimte…  Ek het in die plek ingestap en my meubels daar gesien.  Ek het my gordyne gesien hang, ek het myself gesien LEWE!!!    Ek het net daardie aardige gevoel gekry dat hierdie plek “Myne” is.   Ek het gister opsie geteken op die plek en verder bid ek net dat die Vader in Sy groot genade, dinge vir ons sal laat uitwerk.

15 Responses to Lieflike lelik

  1. Wipneus! says:

    Ek bid saam met jou!

    Die lelike eendjie verander in die mooiste swaan. As jy eers jou hande op daardie plek geslaan het gaan dit jou eie kasteel word! Enige plek kan mooi gemaak word!

    Lekker dag verder!

  2. demoerin says:

    Een trappie op ‘n slag. Een van die dae gaan jy ons verveel met jou stories van hoe lekker dit daar in Upington is! Uithou!

  3. Tersia says:

    Pikkie, komende van ‘n maplotter……maak net seker daar is water!! Gras kan groei, jy kan BAIE plante hier by my kom haal! Hoe is die heining (vra my dit kos nogal meer as wat ons gedink het!!) Oe, ek droom sommer vir jou part ook! Go for it!

  4. Pikkelik says:

    Wipperasie – Dankie vriendin…
    DMI – Verveel???? 😈
    Tersia – Daar is meer water as wat jy kan dink. Die plot kry kanaalwater en soos ek verstaan het jy letterlik elke dag leibeurte!!

  5. Dellie says:

    Dit klink na iets wat ek ook sal wil doen. Soos Wip sê, enige plek kan mooi gemaak word sodra jy jou eie stempel daarop afdruk. As jou hart gemaklik voel daar, bid ek saam met jou dat dit uitwerk! 😉

  6. Carina says:

    Ai, ek dink aan jou. Ek sal ook nie graag in Upington wil bly nie…

  7. mockajava says:

    Ek hou duim vas vir die plekkie, hou moed met die plekkie waar jule nou is.

  8. boendoe says:

    Pik, ek is so opgewonde vir jou part. Klippe, aalwyne… 🙄 Klink absoluut hemels! Hoe die huis lyk, is ‘n minor bysakie.

    EK hou duimvas!!!!!

  9. Rustig says:

    Moenie “worry” nie. Alles kom reg. Ek sal nie baie bekommer oor die yskas in die lapa nie. Met Upington se hitte gaan jy elke geval ook meeste tyd onder die lapa deur bring. Dan is die yskas en koue bier sommer byderhand. 😉

  10. Louisa says:

    Ek hou styf duim vas dat dit uitwerk vir julle – soms verloor mens net jou hart op ‘n plek en jy kan nie verklaar hoekom nie. 🙂

  11. flippiefanus says:

    Hoop van harte die dinge werk nou reg uit vir julle en gou ook. Ek bid vir jou sodat jy in die droom lelike plek kan intrek. 😉

  12. Zee says:

    Ek sien al hoe hardloop jou kleingoed rond op die plot. Ek hoop julle kry baie gou ‘n antwoord!

  13. Ogies says:

    Ek hou duim vas Pikkie!

  14. Tersia says:

    Al aanbod gaan maak? Toe, toe, mens kan nie so iets deur jou vingers laat glip nie. Solank mens gelukkig is, is ‘n tent ook lekker om in te bly!

  15. demoerin says:

    😆 In die mooiste sense van die woord bedoel…

Leave a reply to Ogies Cancel reply