Ouboet update…

Ek kan myself skop!  Nie ‘n ligte skoppie nie, nie sommer net ‘n houtjie teen die agterstewe nie, ‘n harde goedgemikte skop op die gat…   Dankie vir almal se raad met Ouboet se aanpassingsprobleme.  Elke woordjie help op hierdie stadium, maar ek wil graag vir julle vertel wat vanoggend gebeur het.

Agtergrond:  Ek moes my twee hondekinders in Amsterdam los oor twee, nee drie rede…  Eerstens – hulle is al oud, Nesca is 16 en Cara is 15 jaar oud.  2.  Dit is te warm in Upington vir Chow honde…  Hulle sou verskriklik ongemaklik en moontlik ook siek (volgens die veearts) gewees het.  3.  Dit sou ‘n fortuin gekos het om hulle hier te kry en in die kar by ons sou definitief nie gewerk het nie.  Oorspronklik sou ek hulle moes laat uitsit, maar dankie Vader die mense wat ons huis daar huur het gevra of die honde nie maar daar kan bly nie!!!  Ek het letterlik ‘n riel gedans!   Ek het vir Nesca op 6 weke gekry en Cara is Nesca se dogter.  Ek het haar met ‘n bababotteltjie grootgemaak want Nesca het geen melk by die kleintjies se geboorte gehad nie.   Met die wegry uit Amsterdam het ek snot en trane gehuil oor my hondekinders…  Dit was bitter swaar en ek wil dit net nooit in my lewe weer beleef nie.

Nou wel, in my lewe was ek nog nooit sonder ‘n hond nie.  Hier gekom het ek dadelik begin uitkyk vir ‘n nuwe hond.  So twee weke gelede maak ek weer ‘n draai by die veearts en sien ‘n advertensie vir klein hondjies wat die dame weggee!  Jip julle lees reg, sy gee die diertjies weg.  Wel ek bel haar toe en sy sê kom kyk.  So six ons drie toe af na haar huis en 11 pragtige gediertetjies begroet ons met gemengde gevoelens.  Ouboet gaan sit en een klouter onmiddelik op sy skoot!  LOVE AT FIRST SIGHT!!!!!  

Die goetertjies is egter nog te klein en die Tannie sê ons kan die outjie 1 Oktober kom haal.  Ek moet bysê dat hulle van ‘Onbekende Ras’ is….  Ek bedoel dit, ek het nie die vaagste benul hoe hy gaan lyk as hy groot is nie!  In my deurmekaar gesukkel het die episode my egter ontgaan  – can you believe it????

Vanoggend lui my selfoon.  Tannie sê dat daar nog net twee hondjies van die werpsel by haar is en of ons nie maar ons enetjie ook wil kom haal nie.  Wel ons is toe hier weg en kom met ‘n glimlaggende Ouboet en sy Scooby Doo by die huis aan.

Binne DRIE ure is my kind rustiger.  Hy speel met Scooby, slaap saam met Scooby, hardloop saam met Scooby en is uiteindelik ‘n gelukkiger seuntjie.  Die antwoord was amper te eenvoudig om waar te wees.  Ek kan net sê dankie Here.  Dankie dat U altyd ‘n uitweg sien al is ons clueless….

Sodra ek dan nou my kamera se kabeltjie gekry het sal ek vir julle foto’s opsit – belowe.  Lekker naweek vir almal.

11 Responses to Ouboet update…

  1. Wipneus! says:

    Ag dis te cute, mag Ouboet en Scooby baie jare saam gelukkig wees.

    Ek is so bly julle kon toe die hondjie vroeër gaan haal.

    Wipneus het mos vir jou gesê alles gaan in plek val…. ek het positiewe vibes vir jou in die heelal ingestuur. 🙂

    Lekker naweek vir julle ook Piksie!!!

  2. Jammer om die hoor van die ander honde😦

    Bly om te hoor julle het weer honkies! Soek die kabel tussen die boks met “los-goed”. As jy so boks het.

  3. Paula says:

    Ek kan my nie indink die hartseer wat jy moes ervaar toe jy jou honde moes agterlaat nie. 😦

    En dit is wonderlik om te hoor dat dit nou sommer baie beter gaan met die klein mannetjie🙂

  4. eilandkind says:

    Diertjies, ‘n mens se vreugde en pyn.
    Ek is bly hy voel beter, sy ou hartjie het seker self nie geweet wat hy mis nie.

  5. boendoe says:

    Dis jammer van die ander honde, maar Ouboet se hondjie-storie gee my sommer hoendervleis. Ek is so bly! Lekker naweek, Pik, ons gaan more vroeg-vroeg see toe. Dan mis ons hopelik al die rugby!

  6. flippiefanus says:

    Dis wonderlik wat troeteldier vir kinders kan beteken. Nou het Ouboet ‘n nuwe maatjie gekry en die Kaap is weer Hollands. Ag dis lekker “feel good” nuus. Jou ander honde wat jy moes agter laat is waarskynlik ook in goeie hande daar.

  7. Bruinoog says:

    Jip, wanneer die nood op sy grootste is, is die uitkoms op sy naaste!!!! Bly Ouboet is rustiger Pikkie!

  8. Nikita says:

    Troeteldiere is altyd goeie terapie vir kinders, bly om te hoor hy’s rustiger! Sielerus vir jou, glo ek!🙂

  9. zonika says:

    En oor 16 jaar vertel Ouboeta vir ons hoe het hy aan Schooby Doo (sy eerste hond) gekom, met dieselfde liefde en deernis waarmee jy van jou hondekinders vertel. Ek is seker Ouboet gaan nou vinnig aanpas by al die nuwe dinge – en sommer julle almal.

  10. christianrethinker says:

    Ah, Pikkie, ek het ook met honde grootgeword. Wanneer ek kan, sal ek weer honde kry, maar ek bly tans in ‘n woonstel ‘n paar verdiepings bokant die grond.
    Die regte hond het ‘n amazing manier om kinders te laat tuis voel, maar dit het jy nou beleef! Mag jy en jou kinders en Scooby Doo goeie tye saam hê vir jare!

  11. BB says:

    Soooo bly vir julle – veral vir Ouboet!! xx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: