Emosies

Ek het die laaste paar dae weereens besef hoe ingewikkeld emosies is.  Dinge is maar ‘n bietjie gespanne in die huis.  En nee dit gaan goed met my huwelik, ek en Mynick is gelukkig, maar ons moes in die laaste twee weke enorme besluite neem wat ons lewens totaal en al gaan verander.  Ongelukkig, maak nie saak hoe versigtig ‘n mens is nie, vloei die spanning maar deur na die kinders toe.

Wat dinge nog moeiliker maak is die feit dat altwee die kinders siek was en ek sukkel om hulle gesond te kry.  In my boeke is antibiotika ‘n goeie ding op sy tyd, maar ek trek ‘n streep by een kurses, dan moet daar ‘n ander uitweg gesoek word.  Ek vitamine hulle tot hulle soos balletjies rondhop en bid vir die beste.

Verder het Poppedyn begin loop wat natuurlik ‘n hele nuwe wêreld om te ontdek vir haar oop gemaak het.  Al die kaste se deure is met linte vasgebind, my huis lyk soos ‘n kersboom.  Ouboet word natuurlik die meeste geraak deur die verwikkelinge.  Hy kom agter dat hy met meer as gewoonlik kan wegkom…  Die feit dat my broer se twee kinders ook vir twee weke hier was, dra ook by tot sy eiegeregtigheid.  ‘n Mens sien en leer mos allerhande dinge by maatjies.  Nie dat nefie en niggie stout is nie, dit is maar net so dat hulle meer met ander kinders te doen het en daarom meer geite het om te deel.

Om tot die punt te kom, Ouboet het aangeleer om sy tong vir my te klap!  (Wat natuurlik ook my skuld is, want ek is ‘n meestertongklapper!)  Die punt is net dat dit in my oë taboe is vir ‘n kind om vir sy ouers sy tong te klap.  Ek is grootgemaak om respek vir my ouers te hê, en volgens my geloof en my oortuiging sal ek sorg dat my kinders vir my ook respek het.  Respek moet iewers begin, en as ‘n kind nie vir sy ouers se gesag respek het nie, waar gaan dit eindig.  Maar hoe hanteer ek hierdie situasie.

Dinge is nie maklik vir my kinders nie, en in die volgende paar maande gaan hulle lewens met ‘n vaart in hulle wentelbane uitgeruk word.  Dit waaraan hulle gewoond was en tot noutoe in hulle lewens ervaar het gaan nie meer wees nie.  Ons gaan verhuis, Pappa gaan baie langer ure werk, Mamma gaan werk, hulle moet kleuterskool toe, ons gaan ver van Oupie, Bibi (Ouma) en Oumagroot af wees.  Alles wat bekend en geliefd was gaan verander. 

Maar ek voel net dat ek nie kan slaplê in dissipline nie!  As ek nou gaan toegee gaan dit my ‘n ewigheid neem om weer reëls en riglyne neer te lê!  Wat sou jy in my situasie gedoen het, is ek te rigied, te kwaai, te ‘erg’?  Ek soek raad, die meeste van julle se kinders is al groter, julle was ook seker hierdeur, help my asseblief….

21 Responses to Emosies

  1. mockajava says:

    Baie sterkte met die verwikkelling e pikkelik, so moeilik soos dit mag klink, jy sal nie berou het jare vorentoe as jy nou doen wat jy se nie.

    Dink aan jou en jou gesin.🙂🙂🙂🙂🙂

  2. Adrie says:

    Hallo Pikkie

    Soos ek die storie verstaan bring dissipline stabiliteit en sekuriteit vir kinders. Juis omdat dinge ‘n bietjie van ‘n warboel vir julle is, moet jou konstant in julle dissipline bly.

  3. Wipneus! says:

    Ja jy sal maar die tongklap storie moet aansê: Sê vir hom jy word nou baie bang, jy het gehoor mens se tonge bly vassit aan jou verhemelte!!😯 En Ouboet hoe gaan jy ooit weer lekker sweeties kan eet ? Mmm soos tjoklits en koek ….. kindersielkunde? 😉

    Ek en Pikkie is of op die telefoon of op Skype so ek kan myself nie herhaal nie. whahaha 😆 Ek sal klink soos ‘n grammafoon plaat wat vashak!!

    Maar wat ek nog kan bylas!! Julle huwelik is op goeie fonfasies, en met sulke fondasies sal julle enige plek ‘n sukses maak. Dinge sal goed uitwerk… ek het jou al gesê….ek voel dit in my water. 😛 Hierdie water is goeie fontein water, dis nie sommer verkeerd nie 😆

  4. Kinders is moerse aanpasbaar, so moenie te veel bekommer nie. Hou dit waaroor jy beheer het (reels en regulasies) dieselfde en die res sal vanself kom. Baie sterkte vir julle! Als sal fine wees op die ou einde…byt net vas!

  5. Dellie says:

    Pikkie, ons is ook al ‘n paar dinge deur in ons lewe. Hengse ontwrigtings. My ondervinding was, dat as ek eerlik vir my kind vertel dat dinge so bietjie gaan verander, is dit makliker vir hulle om te hanteer. Hou jou dissipline soos dit altyd was, moenie daar laat slaplê nie. Dis hulle sekuriteit. Maar Ouboet kan nou al effens verstaan, en jy moet hom daarop wys dat hy BAIE belangrik is om dit vir Poppedyn makliker te maak, want hy is GROTER. Hy moet basies voel dat hy GROOT is saam met jou en pappa, en dat jy op hom staatmaak om vir Poppedyn uit te kyk. En soos Kaalvoet sê, jy sal verbaas wees hoe aanpasbaar hulle is.

    Sterkte vir julle, dit is nie maklik nie, maar hou jou oog op daai wit doek waarheen julle oppad is. Vat dit een dag op ‘n slag, en maak die beste van elke dag. En jy sal sien, julle sal almal oraait wees.😉

    ((Pikkie en gesin))

  6. reisiger says:

    Ek sê ook soos Kaalvoet – kinders is baie aanpasbaar. Dis vir ons as ouers, moeiliker om aan te pas. Seker maar omdat mens weet wat jy het “comfort zone” en nie weet wat jy gaan kry nie. Maar as een deur toe gaan, gaan ‘n ander een oop.

    Hou maar net vol met jou dissipline – kinders het dit nodig! Jy sal nie spyt wees later nie. Probeer maar dat julle spanning nie deurvloei na die kinders toe nie (moet veral nie voor hulle daaroor praat nie) en probeer maar positief bly!

    Sterkte Pikkie!! (((Pikkie)))

  7. neykie says:

    ((((pikkie))))

  8. Koekie says:

    Hi Pikklik, stem saam met die ander. Jy sal verbaas wees hoe vinnig pas kinders aan.
    Die tongklappery – ja… ek weet nie of dit vir jou sal werk nie maar gewoonlik as my jongste (3) ‘n vloek woordjie uiter, ignoreer ek dit. Ek sê niks daaroor nie, gaan net aan asof niks gebeur het nie. Oor ‘n dag of twee is daar geen snaakse woordjies meer nie. Ek moet ook maar oplet wat ek voor die kinders doen en sê want hulle is baie slimmer as wat mens dink.
    Sterkte vir jou en jou gesin.

  9. aventer says:

    ‘n Goeie pakslae het altyd vir my gewerk…eina

    Dis ouboet, gaan sit hom neer en vertel hom mooi wat jy dink oor die situasie en verder word hy sumier gestraf as hy dit weer doen. Dissipline is die fondasie van ‘n kind, mens kan nie daar slaplê nie, dis heeltemal reg.

    Kinders is rerig baie aanpasbaar, het dit nou met die toer ook gesien, die grotes het meer gekla as die kleintjies.

    Wees net eerlik met hulle van die begin af. Gaan sit met hulle altwee op die bed of op die bank en vertel vir hulle wat aangaan. Kinders is sterker as wat hulle lyk rerig. Aanpassing is moeilik, ja, maar dis beter om jou kinders daarop voor te berie.

    Sterkte vir julle

    *hugs*

  10. Salomè says:

    Pikkie
    Jy moet juis nou nie verander aan die normale roetine en dissipline nie. Dit sal vir hulle ‘n baken wees – al wil hulle nie altyd hoor nie, sal hulle dit nog steeds in die oog hou.

  11. Zee says:

    Mmm, ek dink my raad is al hierbo!! Sterkte Pikkie vir wat vorentoe voorle!

  12. Sonkind says:

    Maak nie saak waar mens jou kinders grootmaak, waar en hoeveel keer jy met hulle verhuis nie, solank hulle binnekant hul ouerhuis geborge en geliefd voel, is die Kaap Hollands. En daardie geborgenheid en liefde sluit beslis die nodige dosis dissipline in, anders leer hulle gou dat hulle kan weghardloop met jou kop.

  13. Roer says:

    Ag ou Piks, dis swaar op ‘n moederhart. Die naskool en kleuterskool stories, maar ek dink dis wonderlik dat jy hierdie paar jaar by hulle gegun is. Die fondasie is gele^ en jy is beslis nie te streng nie. Jy sal die vrugte pluk. Julle is goeie ouers. Sterkte!

  14. Rustig says:

    Pikkelik: Daai gesiggie van jou seuntjie lyk na “trouble”. 😉
    Hy is moeilikheid maak se baas!

  15. Emil says:

    Hallo Hallo!!

    Mooi foto!

  16. Pikkelik says:

    Baie dankie vir almal se raad en ondersteuning. Ek waardeer julle insette en julle het my sommer weer daardie bietjie ‘umpf’ gegee wat ek nodig het…. 😉

  17. Pikkelik says:

    Ag aarde, hallo Emil, welkom terug!!!!

  18. aventer says:

    Hehe drink Red Bull, dit werk vir wipneus;)😆

  19. maxie says:

    Hoop nie julle gaan landuit nie, Pikkie… Wat die tongklappery aanbetref, my seun het eendag, nadat hy iets gedoen het waaroor ek nie baie gelukkig was nie, vir my gesê: “but you do it often!”. 😯 Hy was heeltemal reg. Ons moet maar versigtig wees, hulle kyk af by ons. Sterkte vir julle!

  20. Die Brein says:

    Howzit Pikkelik.

    Dankie vir jou kuier.Wel onthou een ding jy kan hoeveel vitamienes inneem en dit sal jou nie help nie.Vitamiene word slegs deur die liggaam opgeneem met die hulp van minerale soos yster, zink en magnesium.Maar oppas vir oordosering van vitamienes ,vitamiene C kan nierstene veroorsaak en te veel yster kan weer hemocromatose tot gevolg he. So die regte hoeveelheid volgens gewig is reg. Vital se produkte is tops.Gelukkig benut kinders se liggaame voedingstowwe gou. Guavas het omtrent ses keer meer vitamiene C as lemoene.

    Jong ja my dogter is klaar met skool,sy is nou 21 maar was `n een pre-primer, een primer en een sekondere skool.So ek is nie goed met raad oor hervestigings en hoe julle die jongspan moet voorberei nie.

  21. Estelle says:

    Hallo Pikkelik, waarheen gaan julle trek? Iewers het ek iets gemis. Gaan bietjie dol by my. Siek kinders…..

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: