Spykerboom

Almal weet nou-al Ouboet is ‘n terroris…   Daar is geen einde aan sy streke en sêgoed nie.  So ‘n ruk terug speel hy by sy klim-en-klouter en swaai bietjie hoog.  Wel eintlik heeltemal te hoog en skiet uit daai swaai soos ‘n vuurpyl en land op ‘n aalwyn.  En hy ‘perform’ dat die byle huil…  Soos gewoonlik storm ek uit om hom met ‘n sker in die hand te kry besig om die ‘spykerboom’ te snoei!!!  Woedend omdat die ‘blellie’ ding sy lyf vol ‘spykelmelke’ gedruk het. 

Sy ‘spykerboom’ is net een van die vele aalwyne wat ons in die tuin het.  Ons het ‘n enorme tuin en probeer so ver as moontlik lae instandhouding gewasse en struike te plant anders sal ons nooit ons tuin kan netjies hou nie. 

Die spesifieke aalwyn se naam is ‘Aloe marlothii ‘, ‘n inheemse aalwyn wat veral in klip-perige plat stukke aarde groei.  

 Dis ‘n bekende gesig in Johannesburg.  Hy groei ook graag teen randjies en groei maklik.  Ons het vyf van die outjies wat op verskillende plekke in ons tuin staan.  Mynick het die saad in 1995 na ‘n staptog in die berge om Amsterdam saamgebring en hulle aan die groei gekry.  Dit is lieflike plante wat hierdie tyd van die jaar die mooiste blomme maak. 

 

Die klein aalwyntjie wat tussen die twee Marlothii’s staan se naam is ‘Aloe maculata’  ook ‘n bekende gesig dwarsdeur Suid Afrika omdat hierdie outjie letterlik enige plek ewe maklik groei. Die droë punte van die blare is ‘n algemene eienskap wat by die meeste van die besondere spesie voorkom.

 

 

 Aalwyne is miskien nie vir almal ewe mooi nie, maar is ‘n plant wat maklik groei en min onderhoud nodig het.  Gaan lees gerus die links vir meer inligting.  En plant tog ‘n ‘spykerboom’, ek wag net vir September om my twee splinternuwe ‘Aloe Vera’ te plant!

12 Responses to Spykerboom

  1. Adrie says:

    Ek wens ek kan sien hoe snoei Ouboet die spykerbome.

    Ek is mal oor Alwyne.

  2. Paula says:

    My ma het ook altyd ‘n rotstuin gehad met alwyne en droë plante.

    Hoop kleinman voel gou beter🙂

  3. Wipneus! says:

    Ek hou ook van Alwyne. As mens hartebeespoortdam toe ry is daar ‘n koppie vol Alwyne dis vir my so mooi.

    My tuin is nie reg vir Alwyne nie, dit is tropies en die boomvarings ens. gee nie plek vir son nie. Alwyne soek son.

    Maar mens moet maar weg bly van die spykerbome. Ouboet😆

    Lekker dag vir jou Pikkie

  4. netjane says:

    Jy sal my pa se hart warm laat klop Pikkie. Hy bestel al sy saad by Kirstenbosch en sy tuin het seker elke inheemse ding wat mens kry in.

    Nuutste “speelgoed” is aalwyne. Sal by hom hoor of hy daai tipes het, anders moet jy maar saad pos!

  5. Zee says:

    Pikkie, ai, dit moes darem seer gewees het. Hoop Boeta is nou ok.

    Ek wag in spanning vir die dag dat kleinman in ons cycads moet vasloop. Ek dink ek sal maar liewerste daardie dag by die werk wil wees.

    Ek het nou die dag so paar “vetplantjies” gekry maar hulle is nog so klein… Sal maar sien of hulle ‘n plekkie daar in ons tuin kan kry wanneer hulle bietjie groter is.

  6. Reisiger says:

    My pa was ook op ‘n tyd in sy lewe mal oor aalwyne. Hy’t ‘n dik boek daaroor gehad wat my ma vir hom met een van sy verjaarsdae present gegee het. Ek onthou hy’t eenkeer daar in Lydenburg en Roosenekal se wêreld gaan aalwyne uithaal.

    Ons voortuin was dus vol aalwyne en ek het ook ‘n soortgelyke ervaring gehad soos Ouboet toe ek te ver agteruit gehardloop het om ‘n tennisbal raak te slaan en toe met my agterstewe op ‘n spykerboom geland het!

    Jou kinders geniet hulle seker verder gate uit in dié groot tuin! Behalwe nou vir die dag as ‘n spykerboom voor jou in die pad spring né?!

  7. aventer says:

    Die laerskool het ook aalwyne gehad.

    Die seuns het altyd ‘n bietjie aalwynsap op die meisies se toebroodjies gesmeer of jou sommer net platgedruk en bietjie op jou tong gesit. Jiggie.

    onaangenaam se Moses…

  8. boendoe says:

    Uiteindelik!! ‘n Sielsgenoot! Pikkie, ek is aalwynverskrik! Dis omtrent al wat ek van Angola gaan mis (behalwe my man!) – my rotstuin en veral my aalwyne. Ek het ‘n hele paar daar versamel, een in die Namibe woestyn! Ek is nou besig om my hele grasperkie (posseel-grootte) uit te haal, en ek gaan net vetplante en aalwyne plant. Ek moet by jou ‘n draai kom maak!

  9. Pikkelik says:

    Bring sommer ‘n vragmotor Boendoe, hier is baaaaaie wat jy kan saamvat!

  10. Von says:

    Is ook net ‘n klein seuntjie wat sulke dinge kan aanvang. Druk sommer vir Ouboet op! Het nogal gedink om die naweek by julle te draai, maar nou werk dinge WEER nie so uit nie! Dink ons is gejinx!

  11. sonneblomseplekkie says:

    Aalwyne is mooi, en het min moeite nodig om mooi te wees. Ek het stuk of 6 aalwyne wat hier groei, almal stukke van my “oupa aalwyn” wat omgeneuk het. En almal is in blom. Te mooi.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: