Flukse amper ramp

Mense, wat ‘n dag het ek nie gister gehad nie.   As ek nou terugkyk wil ek my paplag, maar op daardie stadium was dit regtig nie snaaks nie.  Eerstens moet ek sê ek is tans ‘n wakker slapende of dalk ‘n slapende wakker mens.  Die rede, ek is besig met ‘sleeptraining’, dit klink seker wreed, maar as ‘n ma 4 jaar en amper twee maande laas ‘n nag deurgeslaap het, is dit die enigste uitweg.

So gisteroggend staan ek toe maar op en begin met my dagtaak.  Nie maklik as jy vuurhoutjies tussen jou ooglede moet sit as jy dit wil oophou nie.  Ouboet is sy besige, vrolike, wriemelende self.  Van vroeg af is hy aan’t hardloop en spring in die huis.  Dis mistig buite en kort-kort sak ‘n buitjie reën uit.  Hy kan nie uit nie.  Hy moet hom maar uitwoed in die huis…   

Van baie vroeg in sy lewe af het hy sy Pa help karwas.  Hy is gek daaroor.  As hy ‘n emmer en water sien, wil hy net karwas…  Hier is ‘n foto waar hy net so oor die twee jaar was, aan’t wasse….

 

Nou-ja, op ‘n stadium deur die oggend, prop ek toe die kinders in die motor en gaan maak by Mynick ‘n draai by die winkel.  Ons moes net uitkom.

Teruggekom begin dit weer liggies te drup.  Ek stuur vir Ouboet in die huis in en haal my pakkies en vir Poppedyn uit die kar uit.  Daar’s nie tyd vir motor in motorhuis trek nie, ek los hom sommer voor die motorhuis.  Dis toe kos-tyd vir Poppedyn en ek moet haar aan die slaap kry.  Later gaan soek ek vir Ouboet…   Hy was die kar.  Ek ruik iets skerps en skrik my buite weste…  “Waarmee was jy die kar???”  Ouboet:  “Hierdie sepies Mamma!”   GROTE GENADE!!!!  DIT IS ‘ENJINCLEANER’!!!!!  Ek skrik my buite weste…  Storm die huis binne en Skype my vriendin Wipneus:  “HELP – Waar is Teddiebeer – Ouboet was die kar met enjincleaner”  Wipneus:  “Wag…”   En ek wag maar ek voel hoe raffel my senuwees uit soos ‘n tolletjie gare wat die pad vat….   Wipneus:   “Whahahaha, was dit net af met sterk Sunlightseep.  Dit sal nie skade doen nie…   Whahahahaha”

En ek sug van verligting.  Een van die vrouens wat vir my werk begin toe gou die kar was, en sy was skaars klaar toe sak daar ‘n ordentlike bui reën uit.  Ek sug weereens van verligting en gaan trek die kar in die motorhuis.  Terug in die huis maak ek gou vir Ouboet middagete en neem dit sommer sitkamer toe waar hy sit en DVD kyk.   SKOK…  SKOK… SKOK!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Sien julle daai strepe in sy hare!!!!

Dis nie mukus nie mense dit is ‘glitterglue’!!!!!!!!!!!   Hy het glitterglue op sy kop uitgedruk.  Wat hom besiel het, het ek nie eens gevra nie…   Ek was stomgeslaan.  Maar einde niet.  Ek gryp ‘n waslap en vee die gom uit sy kop uit.  Maar ek kook, ek is so naby aan ‘n vulkaniese uitbarsting as wat kan kom.  Ek plak die waslap sommer ook net daar op die bad se rand neer, stuur vir Ouboet kamer toe en gaan sit voor die rekenaar om af te koel…  Ja right, daar gaan die krag af.  En dit bly af…

Intussen word Poppedyn wakker en begroet my met ‘n allemintige poefdoek.  Niks vreemds nie.  Ek maak skoon en soos altyd vat ek ‘n lekker warm nat waslap en gee haar net so ‘n ordentlike vee nadat al die grrr verwyder is.  Ja, lag maar, daar is Poppedyn se privaat belig met glitter.  Haar agterstewe skitter!!!!  Ek het dieselfde waslap gebruik wat ek Ouboet se kop mee skoon gevryf het.   Oi, ek kon nie anders as om te lag nie.  Toe wag ek vir die krag, want my werk hoop op. 

Nou-ja die krag het eers na 6 gisteraand aangekom, en vandag moet ek dus werk dat my tande klap.

Lekker dag, dis amper Vrydag….

22 Responses to Flukse amper ramp

  1. Whahaha!😆 Ek kan dink dat jy benoud geraak het met die kar se was! Die gomstorie is ‘n wenner…hiehiehahaha!

  2. demoerin says:

    whahaha, hoop jy voel nou al bietjie beter. Goed dat jy nog kon lag…glitter-glue gaan ‘n classis storie wees vir as hulle ouer is!

  3. BB says:

    Hahaha!! Blink-Boude!! Laat my dink aan daardie oer-oue urban legend van die antie wat so ‘n buisie glitter in haar handsak gehad het en toe kom die deksel los en die hele handsak is vol glitter. Volgende dag moet sy gynae toe die middag en prop sommer ‘n waslap in haar sak om darem half ‘beskaafd’ by die namiddag ondersoek te wees – kom daar, hol by die badkamer in en verfris haarself bietjie. Stap by die dr in – lê en maak maar soos ons almal maak – staar vir die plafon en laat God’s water oor God’s akker loop. Na die ondersoek sit sy ewe ordentlik aantrek voor hom terwyl hy haar lêer op datum bring. Hy skryf die een of ander voorskrif uit en terwyl hy hom oorhandig sê hy: “Sien mev dan volgende jaar – o, en mevrou hoef regtig nie weer so baie moeite te doen nie!!”😆

  4. Adrie says:

    Whaaahaahahahahahaha

    Ek is seker Amsterdam het nie ‘n kleuterskool om hom met sy creative juices te help nie.

  5. meermin says:

    hie hie hie, ek sou ook my alie afgeskrik het, lyk my jy het ‘n lekker lag lag dag gehad gister!! Ag mens geniet hulle hulle is net eenkeer klein, hulle word so vinnig groot!!

  6. Netjane says:

    😆

    Die foto van hom met die glitter op sy kop is classic. Hy lyk beïndruk met homself, maar half benoud vir wat mamma gaan doen ook. Die klassieke “oopsie” pose.

    Ag met Poppedyn se boude wat so geblink het kon sy maar net skitter soos die ster wat sy is, of hoe?

  7. Eendjie says:

    Eish, klink my Ma moet maar lekker bontstaan!

  8. Dellie says:

    Whahaha! Glitter boudjies!😆

    Hoop vandag behandel jou beter.😉

  9. boendoe says:

    Ou Pikkie, jy doen my hart tog sooooooooooo goed. Dis nie net ekke wat in verdrukking sit met kiddies wat te ougat is nie! Vader, hulle is so oulik, maar maak mens so bleddie moeg. Nou die oggend, douvoordag, is Pieter wakker en ek wil natuurlik nog slaap. Hy trek toe my ooglede van mekaar en vra: “Is there somebody in there?” Ek wou hom wurg, maar het darem lekker gelag ook.
    Sterkte met daai sleeptraining. Vertel bietjie van jou tegniek!

  10. Salomè says:

    Ai tog, dit klink so bekend. Ek kan net lekker sit en giggel vir jou ervaringe – ken die gevoel. Sterkte!
    En soos ouma sê “more skyn die son dan bak mamma weer koekies”

  11. Wipneus! says:

    En hier gaan ek weer aan die lag… Ek wil net sê Pikkie en haar kroos laat my heeldag rond rol van die lag…. sy en daardie 2 kabouters maak my dae agter die rekenaar ‘n fees.

    Dit was gister ‘n groot grap hier by ons… want ons almal spook hier uit Centurion om ‘n kar in Amsterdam te red van ‘n goeie was!! En almal hou asem op om te kyk of die enjin cleaner skade aan die verf aangerig het.

    Pikkie ek is so bly Glitter boudjies het deurgeslaap.

    Lekker dag vir almal!
    Wipneus moet vandag ook werk!

  12. Roer says:

    😆 Die son skyn uit jou Poppedyn se agterstewe.😆

  13. Dalean says:

    Ek is ook bekend met die storie van die vrou wat gynae toe is. Praat van bo blink en onder … Hahaha. :0

  14. Zee says:

    *giggel*

    Pikkie, ek dink ek gaan heeldag met ‘n smile op my gesig loop vandag. Ek lees raak Glitter boudjies (oulik Wip) het deurgeslaap gisteraand. Dit is wonderlik, hoop dit gaan nou elke aand so wees😛

    Boendoe, are u there? Priceless!

  15. Reisiger says:

    Poppedyn se agterstewe wat skitter het my darem nou so lekker laat lag hoor!! 😆

  16. 'n Mamma says:

    Dis histeries snaaks. Ek kan so lekker daarvoor lag, want ek kan myself ook sulke goed sien oorkom!!! Ja-nee, die lewe van ‘n ma en haar spruite is beslis nie vervelig nie.

  17. Von says:

    Ja-nee Pik, ek sien sommer die duiweltjies dans in daardie mannetjie se ogies! Ag heng ek mis julle so….. Gelukkig was Poppedyn se blinkkant toe nie meer die stinkkant.

  18. Paula says:

    Lag ek te lekker!

  19. Reisiger says:

    Hahaha… dis dan seker hoe mens die blinkkant bo hou?!! 😆

  20. […] Flukse amper ramp […]

  21. Ek kan my net nie indink hoe moet dit voel om vir 4 jaar nie te geslaap het nie….ek sal gek word.

  22. sonneblomseplekkie says:

    Jou Pop sal seker nog lank hierna bekend staan as ‘glitter boudjies’…hehehe. Jy het ‘n pragtige seun met sy groot ogies. Geniet hulle terwyl hulle klein is, voor jy sê mes is hulle yslik groot.

    Groetetjies
    Sonneblom

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: