Billy Alexandrine

Vandag wil ek julle vertel van een van my getroue metgeselle.  Ek het vir Billy al ‘n goeie part van 4 jaar, voor dit het my ouers hom vir 13 jaar gehad en my Pa het hom by iemand anders geruil (lees gered) vir ‘n boormasjien of ‘n ding, ek kan nie meer onthou nie.  So hoe lank die vorige eienaars hom gehad het sal ek nie weet nie.  Ek het bietjie gaan navorsing doen oor my Alexandrine Parkeet/papegaai en op ‘n paar insiggewende feite afgekom.

 Hier is Billy in sy volle glorie:

Natuurlik is die mannetjies-voëls alweer mooier as die wyfies, oi…  Die wyfies is maar heelwat valer en bleker in vergelyking met hierdie outjie maar wat, hulle kan darem eiers lê.  Alexandrines is voëls wat letterlik alles eet.  Hulle eet saad, vrugte, groente, roosterbrood, eier, mieliepapballetjies, hondekos en natuurlik Billy se gunsteling van alle tye – hoenderbeentjies (kannibalisme as jy my vra).  Ek het hom ook al gevang insekte eet maar blykbaar is dit seldsaam en doen hulle dit meer uit nuuskierigheid as enigiets anders.

Die wyfie-voëls lyk so:

Foto krediet:  Birdcare.com

Hulle is ontsettende sosiale voëls, veral Billy, ek het ‘n idee as hy ‘n mens was sou sy naam iets soos Casanova gewees het.  Hy laat omtrent die hele Amsterdam se voëlfamilies toe om saam met hom te eet (vandaar die feit dat ek amper 20kg kos per maand moet koop).  Hulle is ook voëls wat baie maklik leer praat.  Ware akteurs wat verskeie stemme, woorde en fluite bitter vinnig kan baasraak, tot my spyt!

Soms hardloop ek my bene af om vinnig buite te kom as ek Ouboet hoor skree vir hulp, net om te ontdek Ouboet sit in die sitkamer en Billy skreeu sy longe uit:  “Mamma HELP!!!!”   Natuurlik is hierdie mannetjie ook ‘n verleentheid, so maand of wat gelede het ons kuiermense gehad en my beste vriend (lees draai sy nek af) het hulle vergas met:  “.. trek … gatvelle af, maak oop.. ore, maak oop .. ore, maak oop .. ore!”

Toe ons hom gekry het, het hy ‘n woordeskat gehad wat ‘n matroos sal laat bloos, maar ons het net eenvoudig opgehou om met hom te praat.  Sodra hy begin vloek het, het ons hom eenvoudig met ‘n digte kombers toegegooi.  Dit het baie tyd gevat maar so met die tyd het hy daardie woorde verleer.  Vandag praat hy meestal soos ek en die kinders en maak natuurlik al die voëls na.

Ag daar is nog so baie wat ek oor hierdie voël van my kan skryf maar gaan lees maar self al die tegniese inligting op die volgende sites as jy belangstel.  http://www.mylittledarlings.com/alexandrines.html ,  http://en.wikipedia.org/wiki/Alexandrine_Parakeet , http://www.prettybirds.net/Alexandrine.htm , http://www.centralpets.com/animals/birds/parrots/prt1156.html .

Billy sê:  Lekker week vir julle, lekker week vir julle, lekker week vir julle, lekker week vir julle!

15 Responses to Billy Alexandrine

  1. Adrie says:

    Ek het ewe skielik B-A-I-E simpatie met Ouboet.

    Pikkie, ek dink jy moet hom vir my pos. Dit is Ouboet nie die voel nie. Ek moet seker maak hy bereik skoolgaan ouderdom.

    /me koes

  2. Paula says:

    Te oulik!
    ‘n Mens kan baie lief word vir hulle🙂

  3. demoerin says:

    hahaha, sonde met die troeteldiere. Party mense sal sê hulle kinders kan ‘n verleendheid wees, maar ek dink baie het al onder hulle troeteldiere ook deurgeloop!

  4. BB says:

    Ek’s mal oor jou voël!😉 – almal van ons het seker die een of ander tyd in ons lewens die begeerte na so ‘n geveerde vriend, nê? Maar tussen my vriende en familie is ek peetma van vele, so ek het nie die ‘pt’ van hok skoonmaak en kos gee nie – maar as ek daar ‘uitval’ is my eerste treë gewoonlik hok toe om te gaan groet – en dis altyd amazing hoe elkeen van hulle so ‘n ‘eie ek’ persoonliheid het.
    Lekker gelees, dankie x

  5. netjane says:

    Hy klink vreeslik oulik! Nou moet jy hom net leer om te blog.

  6. Wipneus! says:

    Ag dis te sweet, ek het ook 2 pappegaaie. Ek is mal oor pappegaaie, jy beter hom wegsteek as ek kom kuier, ek gaan hom steel 🙂

  7. Dellie says:

    Sjoe, hy is pragtig! Ons het ook al ‘n paar geveerde vriendjies gehad. Hulle raak te oulik.

    Ek lees verlede week erens van die papagaai wat soos al die honde op die werf blaf. Die vrou raak toe nou half moeilik met hom, en vra of hy nou nog nie genoeg geblaf het nie, waarop hy sy koppie skeefdraai en vir haar sê: miaau?😆 Nogal ‘n sin vir humor ook!

  8. Salomè says:

    Baie oulik. My tannie het ‘n Indian Mina wat so kan skel. Hy laat haar ok gereeld opvlieg as “my oom roep”. Hy verjaag ok altyd die arme honde. Sy roep hulle in omdat dit koud is en dan jaag Ta hulle uit.

  9. Von says:

    Ons African Grey (Peppi) het ons ook al lekker laat skaamkry met sy woordeskat. Ons het op daardie stadium gereeld bid-ure by ons huis gehou. Hy het die “f…. you” frase erens geleer en kon dit heeldag oor en oor herhaal. Ons kon nie verstaan waar hy aan die seding kom nie, aangesien ons nie daardie taal in ons huis gebruik nie. Later kom ons agter dat die huishulp elke keer die seding uiter wanneer mens haar iets vra – sodra mensbuite hoorafstand is. Nodeloos om te se wat gebeur het die dag toe ons haar wel hoor….. Gelukkig het Peppi met verloop tyd van sy “vuil” taalgebruik vergeet.

    Eintlik voel ek vir ou Peppa nogal jammer, hy is so vernielsugtig as hy uit sy hok uit kom dat ons dit nie meer waag nie. Kou enige hout item waarom hy sy bekkie kan slaan fyn en vlenters – van meubels tot “skirtings”; byt duike in die staal gedeelte van penne, kou die plastiek van elektriese drade af, ens. Hy is sowaar ‘n wandelende verwoestingsaaier!

  10. Von says:

    Pik, gaan bietjie dol hier. Het my tuiskantoor geskuif en wag vir Telkom om die telefoonlyn te skuif, dws geen internet tuis. By die winkel gaan dit die afgelope maand baie besig en nogal problematies. Ons wip deesdae oor al die stress-hobbels of ons ‘n sinkpad ry. Kry gevolglik net nie kans om te blog nie! Hopelik sal dinge nou bietjie stabiliseer. Tags op pad……

  11. Billy lyk baie oulik. So ‘n jaar terug het my stiefpa vir my dogtertjie een of ander voël persent gegee. Ek kon nie die mors van die voël gewoond raak nie. Dit is alewig vuil om die hok.

    Moet sê, die honde was ook lus vir die voël en het toe maar besluit om die voël te laat gaan. Het hom vir my skoonsus gegee. Ek wonder of sy hom nog het?

  12. boendoe says:

    Jou voel laat my aan Jan daar bo in Angola dink. Hy het ‘n African Grey, en die ding is tog te bekkig. Jan het ‘n vreeslike hoesie, en die arme voel het al sy dae om DAAI hoesie te copy! Kon my altyd doodlag!

  13. Reisiger says:

    Ag sweet!! Ek het ‘n Indiese ringnekkie gehad, sy naam was Twietie maar hy’t ongelukkig uitgekom en weggevlieg. Ek het myself simpel gehuil oor daai voëltjie.

  14. Dalean says:

    Te mooi! Ek is versot op voëls. Ek is alewig besig om babietjies te red wat uit hul nessies geval het. As die goedjies doodgaan huil ek my ook oor ‘n mik!

  15. Pikkelik says:

    Welkom Dalean, ja ou Billy is maar een van vele!!!! Maar hy is darem die grootste, buiten natuurlik die hoenders!! 😆

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: