Rolmodelle

Baie lank terug het Nico http://uitdiesielvannboer.wordpress.com/2008/03/30/n-merkwaardige-mens/my getag om oor ‘n rolmodel of dan iemand wat ‘n groot impak op my lewe gemaak het te skryf.  Dis nie dat ek dit nie wou doen nie, dit is net dat ek eenvoudig nie aan so ‘n persoon kon dink nie. 

Glo dit of nie, maar so iets kan my nagte lank wakker hou.  Ek kon eenvoudig nie aan een enkele persoon dink wat so ‘n groot impak op my lewe gehad het nie.  Tot ek besef het, dat daar verskillende mense op verskillende tye van my lewe was wat ‘n belangrike rol in my lewe gespeel het.

Die eerste persoon wat ek onthou is my Oupa, en bo alles is dit ook seker die een persoon wat die meeste impak op my lewe gehad het.  Hy was ‘n harde mens, nog van die ‘ou’ skool en as ek vandag met my neefs en niggies praat het almal hom gevrees!  Ek nie, miskien was ek sy witbroodjie, of miskien het ek net iets in hom raakgesien wat die ander nie het nie, ek weet nie, ek weet net hy was my biegvader, my beskermer, my trooster, my helper, en die een persoon wat my bo alles verstaan het vanaf my vroegste herrineringe. Die dag toe hy oorlede is, (in ‘n vratsongeluk) het my wêreld letterlik in duie gestort, en dit het meer as ‘n bietjie ‘effort’ gevat om weer op te staan en aan te gaan…

Op skool was daar my graad 2 onderwyseres, mev. Clara Gey van Pittius.  Sy was die sagste, mooiste mens wat ek nog ooit gesien het, en ek het letterlik aan haar lippe gehang.  Ironies genoeg het ek haar jare later weer raakgeloop, en toe het ons as kolegas saamgewerk en ek kon toe ook presies dieselfde van haar sê!  Sy is ook ‘n vrou wat deur baie swaarkry en stryd as sterker mens uitgetree het, en alhoewel sy nou al bejaard is, tot ‘n jaar of wat gelede nog volstoom gewerk het.  Ek drink ‘n toast op jou tannie Claartjie!!!!

Op hoërskool was daar twee persone wat op uiteenlopende maniere ‘n impak op my lewe gehad het.  Daar was my huishoudkunde onderwyseres, mev. Webber.  ‘n Klein, kort vroutjie met die wysheid van Salomo.  ‘n mens wat jou laat voel het dat jy werklik iets beteken.  Wat jou aangemoedig het, wat werklik in jou as persoon belang gestel het, wat na jou kon luister, jou idees as haalbaar kon kwalifiseer en niemand gering geag het nie.  Ek is tot vandag toe spyt dat sy nie ‘n vak aangebied het, waar seuns ook met haar in aanraking kon kom nie.  Tjeers vir jou Mev. Webber!!!

Dan was daar, wee o wee, my rekeninkunde onderwyser.  Nou mense, ek gaan nie sy naam noem nie, maar daai man het my tot hoogtes gedryf deur net ongeskik te wees.  In die eerste plek is ek geensins, glad en geheel glad nie, wiskundig aangelê nie.  Syfers maak net eenvoudig nie vir my sin nie!  Maar omdat daardie man nie van my gehou het nie, en ek nie van hom gehou het nie, en ons altyd en heeltyd in ‘n tweegeveg betrokke was, het ek in my hart besluit vir jou sal ek wys.  En ek het geleer en geleer en geleer en ‘n onderskeiding in rek gekry en in my hart gedink, ‘vat so jou lae luis’.  Tot vandag toe ken ek my werk, weet ek wat waar moet kom, doen ek boeke en haat ek elke oomblik daarvan!!!!!

Toe ek begin werk het, was daar weer ‘n vrou wat rigting aan my lewe gegee het.  Sandra van Biljon.  ‘n Vrou wat my geleer het, gewys het, met oneindige geduld reggehelp het, en dan ook my gehelp het om my voete in die besigheidswêreld te vind.  Hierdie is ook een van daardie, sterker as staal vroue.  ‘n Dame wat deur hel en terug is, wat deur bitter moeilike omstandighede, baie swaarkry, baie hartseer en ongelooflike vernedering haar kop opgetel het, die brokke van haar lewe opgetel het en van voor af begin het.  Vandag is sy nog steeds my vriendin, aanneem-ma, my kinders se hans-ouma en iemand wat altyd tyd het om met my te praat.  Op nog baie mooi jare, Tannie Sandra!!!!!

Ag daar is nog so baie wat ek kan noem, maar vir eers volstaan ek hiermee.  Dis lekker om weer te blog, ek het julle baie gemis, maar later meer oor my weeklange ballingskap!   Lekker langnaweek.

 

 

 

 

8 Responses to Rolmodelle

  1. Wipneus! says:

    Hoog tyd, hoop jy het lekker gerus 😆

    Rolmodelle, ek sal eers lank daaroor moet gaan nadink, by my dinkplekkie 😆

    Lekker om jou terug te sien….

  2. Dit is defnitief ‘n onderwerp wat mens nie met een oomblik beetpak en dan sommer skryf nie. Hierdie inskrywing van jou sit my ook aan die dink en ek kan ook nie 1 persoon uitsonder nie.

    Soos mens deur die lewe gaan is daar altyd mense saam met jou en om jou wat ‘n inspraak in jou lewe het. Party is goed. Party is sleg. Ons moet kies dat die goed ons bemoedig, dat die sleg ons karrakter positief bou.

    mmm… daar lê vir my bietjie dink voor oor hierdie lang naweek.

    Dankie Pikkelik, dit was briljant.

  3. Zee says:

    Lekker vakansie gehou?

    My rolmodel is op ander lappie en het nog net nie kans gesien om dit oor te doen nie.

    Dis darem amazing hoe mense ‘n invloed op jou lewe kan hê. Lekker gelees.

  4. Dankie dit was ‘n lekker-lees. Jy is reg, op sekere tye is mens ontvanklik vir sekere mense, maar al die mense bly spesiaal.

  5. Pikkelik says:

    @ Wip – Ai daai dinkplekkie, hoe groen word ek nou.
    @ Riaan – Dis naweek, moenie jou brein ooreis nie!
    @ Zee – nie vakansie gehou Zee, sal later meer vertel as ek my brein weer bymekaar kan kry.
    @ Rosie – Jy is so reg, ek dink daar is ietsie van elkeen van hierdie mense in my samestelling.

  6. Rolmodelle??? Ja, ek het baie rolle waarvan ek ontslae moet en wil raak😉

    Nice inskrywing!

  7. sonkind says:

    ‘n Mens is ‘n mens deur ander mense.

    Jy het my nou op heimwee se ver paaie gevat met onthou van al die onvergeetlike mense wat al my pad gekruis het. Sommiges om te bly, ander net soos skepe in die nag.

  8. Pikkelik says:

    @Kaalvoet – Hier is ook maar ‘n paar onwelkome rolle…
    @ Sonkind – Hierdie was vir my rerig ‘n moeilike inskrywing. Ek het maar net ‘n paar genoem wat werklik saak gemaak het. Soms kan jy ‘n rolmodel hê in iemand wat jy miskien net vir ‘n uur of ‘n dag geken het….

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: