Broodresepte vir die blik!!!
Hierdie resepte is saamgestel deur Anna Eksteen - 082 294 6799
Aartappel Gesondheidsbrood
250ml aartappels, fyn gedruk 525ml volgraanmeel
250ml koekmeel 7ml koeksoda
5ml sout 10ml bruinsuiker
500ml ongegeurde lae vet jogurt
Voorverhit oond tot 180C. Meng die droë bestanddele saam. Vryf die aartappels met die vingerpunte in die droë bestanddele in. Meng die jogurt met die mengsel. Plaas die deeg in ‘n gesmeerde broodpannetjie van 220mm x 100mm. Bak vir 1 uur en 15 minute.
Tropiese piesangbrood
250ml rosyne 425g pynappelstukkies, sonder sap
45ml lemoensap 125g botter
125ml bruinsuiker 1 eier, geklits
500ml fyngedrukte piesangs 500ml bruismeel
2ml sout 5ml gemengde speserye
Voorverhit die oond tot 180C. Meng die rosyne, pynappel en lemoensap in afsonderlike bak. Klits die botter en suiker saam tot liggeel en donserig. Voeg dan die eier en fyn gemaakte piesang by. Sif die meel, sout en gemengde speserye. Voeg die piesangmengsel by en meng dan die geweekte rosyne en pynappel by. Plaas in ‘n gesmeerde broodpannetjie en bak vir 1uur 15 minute of tot goudbruin en gaar. Laat afkoel.
Polenta brood
500ml polenta 250ml koekmeelblom
2.5ml sout 5ml bakpoeier
2 eiers, geklits 125g botter, gesmelt
50ml heuning 250ml karringmelk
papawersaad om oor te sprinkel
Voorverhit die oond tot 200C. Voer ‘n broodpan uit met papier en smeer. Meng die droë bestanddele. Voeg eiers, botter, heuning en karringmelk by en roer tot net gemeng. Skep in broodpan en sprinkel papawersaad oor. Bak vir 35 minute. Keer uit en laat afkoel.
Saadbroodjie
20ml bruinsuiker 1liter warm water
10ml kits droëgis 910g volkoringmeel
150ml sonneblomsaad 15ml sesamsaad
15ml sout
Voorverhit die oond tot 200C. Los suiker in warm water op. Strooi gis bo-oor en laat staan sowat 5 minute lank op ‘n warm plek. Meng res van die bestanddele en voeg vloeistof by om deeg te verkry. Skep in gesmeerdie broodpan en bak sowat 50 minute of tot gaar.
Snoekbroodjie
1kg vars snoek 5ml sout
peper na smaak 50ml mielieblom
500ml afgeroomde melk 125ml room
15ml Worcestersous 25ml uiesap
gerasperde neut 25ml droë broodkrummels
suurlemoen wiggies en pietersielie
Maal die vis 2 keer, en voeg laaste keer sout, peper, en mielieblom by. Maal dit ‘n derde keer terwyl melk bygevoeg word. Plaas mengsel in die bak van ‘n elektriese menger. Voeg die room baie stadig by en klits aanhoudend. Klits die Worcestersous, uiesap en neut by. Die mengsel moet die tekstuur van dik room hê. Smeer ‘n broodpan van 22×12x7cm. Besprinkel die boom met fyn krummels en giet die vismengsel daarin. Bedek met bladaliminium en sorg dat dit styf pas. Plaas in ‘n pan met warm water. Bak sowat 1 uur en 15 minute by 180C. Laat ‘n ruk in die pan staan. Keer uit en hou warm. Garneer met pietersielie en suurlemoenwiggies.
Mieliebrood
500ml meelblom 15ml bakpoeier
4ml sout 2 eiers geklits
250ml gerasperde Cheddarkaas 75ml melk
420g roomsoort suikermielies
Voorverhit die oond tot 180C. Sif droë bestanddele saam. Meng eiers, kaas, melk en suikermielies tot slap beslag. Skep in gesmeerde broodpan en bak vir 45-60 minute.
Spogbroodjie
125ml margarien (verkieslik Stork) 150ml strooisuiker
75ml heuning 2 eiers
550ml meelblom 15ml bakpoeier
2ml sout 150ml melk
250ml gekapte okkerneute ekstra heuning vir verglansing
Voorverhit die oond tot 160C. Smeer bodem van broodpan van 22 x 12cm en voer met waspapier uit. Verroom die margarien, suiker en heuning deeglik. Voeg eiers by en klits goed. Sif die meelblom, bakpoeier en sout saam, en voeg om die beurt saam met melk by die verroomde mengsel. Meng die okkerneute in. Bak vir ±1½ uur. Wag tot afgekoel. Borsel of verglans met warm heuning en versier met gekapte neute.
Piesangbroodjie
125g botter 250g strooisuiker
2 ekstra-groot eiers 30ml jogurt of suurmelk
5ml vanieljegeursel 6 ryp, fyngemaakte piesangs
60ml gekapte neute (opsioneel) 250g koekmeel
5ml koeksoda 1,5ml sout
Room die botter en strooisuiker saam tot lig en donsig. Klits die eiers liggies met ‘n vurk en voeg dit saam met die jogurt en vanieljegeursel geleidelik by die bottermengsel. Vou die piesangs en neute in. Sif die koekmeel, koeksoda en sout twee maal saam. Vou dit in die piesangmengsel tot goed gemeng. Smeer en voer ‘n broodpannetjie met botterpapier uit. iet die beslag daarin. Bak dit 50-60 minute in ‘n voorverhitte oond by 180C tot goudbruin en stewig. Laat heeltemal afkoel.
Pampoenbroodjie
500ml gaar pampoen fyn gedruk 375ml suiker
125ml kookolie 2 eiers geklits
500ml koekmeelblom 2ml neutmuskaat
2ml kaneel 2ml sout
5ml koeksoda opgelos in 30ml melk.
Klits die suiker en kookolie by die fyn pampoen. Voeg die eiers by en klits weer goed. Sif die droë bestanddele saam en roer dit by die pampoen en suikermengsel in. Voeg die koeksoda en melk by. Skep die deeg in ‘n gesmeerde broodpan in en bak vir 30 minute by 180C.
Vrugtebroodjie
675ml water 500ml ligbruinsuiker
250g pitlose rosyntjies 5 geelwortels, grof gerasper
30ml botter 5ml fyn kaneel
2ml fyn neutmuskaat knippie fyn naeltjies
2 x 250ml meelblom 10ml koeksoda
10ml bakpoeier 1ml sout
250ml gekapte okkerneute of pekanneute
Voorverhit die oond tot 160C. Voer die boom van ‘n 26 x 9 x 7 cm broodpan uit en olie dit liggies. Meng die water, suiker, rosyntjies, geelwortels, botter, kaneel, neutmuskaat en naeltjies in ‘n groot kastrol. Bring tot kookpunt, bedek en laat 10 minute prut. Giet in ‘n groot mengbak en laat staan tot heeltemal afgekoel. Sif die droë bestanddele saam. Roer die wortelmengsel in en voeg die neute by. Giet die beslag in die voorbereide broodpan en bak 1 uur in ‘n voorverhitte oond tot ferm. Keer op ‘n afkoelrak uit en laat afkoel. Sny in skywe en sit saam met botter voor.
Dadelbrood
375g fyn gekerfde dadels 5ml koeksoda
125g margarien in klein blokkies gesny 250ml kookwater
190ml suiker 1 eier, geklits
5ml vanilla essens 500ml meelblom
5ml bakpoeier 125ml gekapte neute
Plaas die dadels, margarien en koeksoda in ‘n mengbak. Gooi kookwater bo-oor. Roer en laat staan om koud te word. Klits eier, suiker en vanillaessens goed en gooi by die dadelmengsel. Sif meelblom en bakpoeier saam en vou by die dadelmengsel in. Gooi neute by en meng goed. Bak 1 uur lank in ‘n voorverhitte oond van 180C in ‘n gesmeerde broodpannetjie.
Gesondheidsbroodjie
3 koppies volkoringmeel 1 koppie koekmeel
1 teelepel koeksoda 1 teelepel bakpoeier
1 teelepel sout ½ koppie sonneblomsade
2 koppies ongegeurde jogurt
Meng al die bestanddele saam en bak vir 45 minute by voorverhitte oond van 200C. Skakel oond af en laat vir ‘n verdere 15 minute voor dit uitgehaal word.
Goue klapperbrood
125ml botter 125ml suiker
3 eiers, geskei 5ml vanielje geursel
250ml koekmeelblom 10ml bakpoeier
190ml melk 125ml strooisuiker
250ml klapper
Room die botter en suiker tot donsig. Voeg die eiergele en vir een by en klop dit goed na elke byvoeging. Voeg die geursel by. Sif meelblom en bakpoeier saam en voeg beurtelings met melk by die eiermengsel. Giet beslag in gesmeerde broodpannetjie. Klits eierwitte tot sagte punte vorm. Voeg strooisuikerby en klits goed. Vou klapper daarby in. Skep oor die deeg en bak vir 45 minute by 180C.
Grondboontjiebotterbrood
500ml gesifte meel 125ml suiker
10ml bakpoeier 5ml sout
187ml grondboontjiebotter 1 eier (goed geklits)
187-250ml melk
Sif die droë bestanddele en die suiker saam. Werk die grondboontjiebotter met ‘n vurk daarin. Voeg die eier by en meng dit verder met die vurk. Voeg die melk by, meng dit goed en gooi dit in ‘n gesmeerde broodpannetjie. Bak dit 50-60 minute lank in ‘n matige oond by 180C. Dien op met botter gesmeer.
Volkoringbroodjie
250 ml volkoringmeel 250 ml meelblom
20 ml bakpoeier knypie droë mosterd
knypie rooipeper 2 ml sout
12, 5ml ui, gekap 250 ml Cheddarkaas, gerasper
1 eier 250 ml afgeroomde melk.
Voorverhit die oond tot 200C. Smeer ‘n broodpan met botter. Plaas die meelblom, volkoringmeel, bakpoeier, mosterdpoeier, rooipeper en sout in ‘n mengbak. Voeg die ui en kaas by. Klits die eier saam met die melk en voeg dit geleidelik by die meelmengsel. Meng goed. Plaas die deeg in die broodpan en bak 25-30 minute. Moenie die brood voor die volgende dag sny nie.
Olyfbrood met tamaties
950ml koekmeelblom 10ml sout
1×10g pakkie kits droëgis 45ml olyfolie
280ml lou water 20ml vars roosmaryn, gekap
growwe sout 100g songedroogde tamaties in olyfolie
Voorverhit oond tot 230C. Dreineer tamaties in kap in stukkies. Sif meelblom en sout saam in warm mengbak en voeg gis by. Meng olyfolie met water. Voeg by meelmengsel en meng tot sagte deeg verkry word. Plaas op ‘n meelbestrooide oppervlak en knie vir 10 minute. Vorm tot ‘n bal, plaas in gesmeerde bak en bedek met kleef plastiek. Laat deeg rys tot dubbele volume-sowat 1 uur. Knie deeg af en voeg tamaties en roosmaryn by. Vorm deeg tot ovaal vorm. Plaas deeg op gesmeerde bakplaat, bedek met kleef plastiek en laat weer vir 45 minute op warm plek rys. Bestryk brood met water en strooi growwe sout oor. Bak vir 12 minute, verminder temperatuur tot 190C en bak vir nog 10-15 minute. Verwyder van bakplaat en laat afkoel.
Sonskynbrood
250ml semelvlokkies 250ml sagte bruinsuiker
315ml afgeroomde melk 500g droë vrugtekoekmengsel
5ml lemoengeursel 375ml bruismeel
Meng semelvlokkies, suiker, melk, vrugte en lemoengeursel. Laat staan vir 2 uur. Sif meel by mengsel. Spuit ‘n broodpan met kleefwerende middel en skep mengsel in pan. Bak in voorverhitte oond by 180C vir 90 minute of tot ‘n toetspen in die middel skoon uitkom. Laat afkoel, maak met foelie toe en laat staan vir 24 uur voor bediening. Dit is lekker saam met braaivleis en dan is dit ook nie altyd eers nodig om sous te maak nie.
Neutebrood
2 koppies meelblom 4 teelepels bakpoeier
1 teelepel sout ½ koppie suiker
4 eetlepels botter of margarien 1 eier
1 koppie melk 1 koppie gekapte okkerneute
Sif droë bestanddele saam en voeg suiker daarby. Vryf botter met vingerpunte daarin. Klits die eiers goed, en voeg dit by die melk. Roer dit geleidelik by die droë mengsel om ‘n sagte deeg te vorm. Voeg die okkerneute by en gooi in ‘n gesmeerde pan wat met gesmeerde papier uitgevoer is. Laat 30 minute staan en bak vir 40 – 50 minute in ‘n matige oond van 180C.
Bruinbrood
600ml witbroodmeel 560ml volkoringmeel
600ml bruinbroodmeel 1×10g kitsgis
sout na smaak 500-750ml warm water
Meng die meel, gis en sout in ‘n groot mengbak. maak ‘n holte in die meel en voeg 500ml van die water by. meng met ‘n lepel tot ‘n stywe deeg vorm. As die deeg te styf is, kan nog water bygevoeg word. knie deeg op ‘n houtplank wat liggies met meel bestrooi is, tot glad en elasties. Vorm die deeg in twee gesmeerde broodpanne, bedek en laat rys tot dubbel die volume. Bak 40-60 minute in ‘n voorverhitte oond by 200C. Laat op ‘n draadrak afkoel.
Witbrood
1kg witbroodmeel 15ml sout
10ml suiker 1×10g kits droëgis
20g botter 625ml lou water
Sif die meel, sout, suiker en gis saam. Vryf botter by droë bestanddele in. voeg lou water by en meng tot ‘n sagte deeg. As die deeg te droog is, kan nog bietjie water bygevoeg word. Knie deeg tot sag en elasties. Plaas in ‘n olie gesmeerde mengbak, bedek en laat 20 minute lank rus. Nadat deeg gerys het, knie af en verdeel in 2 ewe groot dele, vorm en plaas in gesmeerde broodpanne. Bedek en laat rys op ‘n warm plek, 35-40 minute lank of tot dubbel die hoeveelheid deeg. Bestryk met water en bak in voorverhitte oond by 200C, vir 35 minute of tot gaar.
Koringroerbrood
5 x 250ml gaar koringkorrels 6 x 250ml bruinbroodmeel
2 x 10g kitssuurdeeg 25ml sout
60ml bruinsuiker 125ml kookolie
1 liter louwarm water
Meng die koringkorrels, bruinbroodmeel, suurdeeg en sout in´n mengbak. plaas die suiker, olie en water in ´n ander mengbak en roer tot goed gemeng. Voeg dié mengsel by die droë bestanddele en roer goed deur. Skep die deeg in twee gesmeerde broodpannetjies laat op ´n warm plek rys tot gelyk met die bo rand van pan. (dit duur sowat ´n halfuur; die brood rys ook terwyl dit bak.) Stel intussen die oond op 200C. Wanneer die deeg gereed is, bak sowat een uur tot gaar in die voorverhitte oond. die brood is gaar as ´n mens ´n hol klank kry wanneer jy dit onder met die kneukels klop.
Knoffel Kaasbroodjie
500g bruismeel 500ml karringmelk
1.5 koppies gerasperde kaas (cheddar) 1 teelepel marjolein
1 teelepel knoffelvlokkies 2 eiers
Meng al die bestanddele goed saam. Gooi in ‘n gesmeerde broodpan, strooi ‘n bietjie van die gerasperde kaas oor en bak in voorverhitte oond teen 180C vir 1 uur.
Murgpampoentjiebrood
250ml kookolie 250ml suiker
3 eiers 500ml koekmeel
250 nutty wheat 5ml bakpoeier
2ml koeksoda 2ml sout
1ml neutmuskaat 15ml fyn kaneel
500ml fyn gerasperde murgpampoentjies 125ml rosyne
5ml vanielljegeursel
Klits olie en suiker saam. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. sif droë bestanddele saam en voeg semels by wat in sif agterbly. Voeg om die beurt met murgpampoentjie by geroomde mengsel. Roer rosyntjies en vanielje in en skep in ‘n gevoerde 23 cm broodpan. Bak 50 -60 minute in voorverhitte oond teen 160C.
Botterskorsie gesondheidsbrood
125ml sonneblomsaad, gerooster 750ml volkoringmeel
5ml koeksoda 15ml bakpoeier
5ml sout 250ml All-Bran-graanvlokkies
250ml gerasperde rou botterskorsie 45ml heuning
1 ekstra groot eier, geklop 500ml karringmelk
125ml water
Meng die sonneblomsaad, meel, koeksoda, bakpoeier, sout, graanvlokkies en botterskorsie saam. Klop die heuning, eier, karringmelk en water saam en voeg by die droë bestanddele. Meng goed om ‘n taaierige brooddeeg te vorm. Skep in ‘n groot voorbereide broodpan. Bak in ‘n voorverhitte oond by 180C vir ongeveer 1 uur.
Braaivleisbroodjie
500ml fyn gerasperde wortels 425ml kookwater
30ml olie 15ml heuning
500ml mieliemeel 2ml rooipeper
5ml sout 4 ekstra groot eiers, geskei
Voorverhit die oond tot 180C en voer twee broodpannetjies se bodem met bakpapier uit. Smeer of spuit die pannetjies. Meng wortel, kookwater, olie en heuning. Sif mieliemeel, peper en sout saam en voeg by die wortelmengsel. Klits eiergele en voeg by die mengsel. Klits eierwitte tot stywepuntstadium en vou dit liggies in by die mengsel. Skep mengsel in pannetjies en bak 45-50 minute.
Kaas en uie broodjie
900ml volkoringmeel 500g bruismeel
1 pakkie (25g) uiesoppoeier 15ml vars gekapte pietersielie
250ml gerasperde Cheddar kaas 1 liter karringmelk
60ml kaas uitgehou om bo-oor te sprinkel
Meng al die bestanddele goed en skep mengsel in 2 gesmeerde broodpannetjies. Sprinkel orige kaas bo-oor. Bak een uur in ‘n voorverhitte oond by 180C.
Karringmelk kaasbroodjie
900ml volkoringmeel 1 pakkie uiesoppoeier
15ml vars gekapte pietersielie 1 liter karringmelk
500g bruismeel 250ml gerasperde Cheddarkaas
Hou 60ml van die gerasperde kaas eenkant. Meng die res van die bestanddele goed saam en skep in 2 gesmeerde broodpannetjies. Sprinkel kaas wat eenkant gehou is oor die deeg in die pannetjies. Bak ongeveer 1 uur in ‘n voorverhitte oond by 180C.
Lemoen en rosynebrood
Sap en skil van 1 lemoen 250ml rosyne
1 eier, effens geklits 30ml botter, gesmelt
500ml koekmeelblom 5ml bakpoeier
2ml koeksoda 2ml sout
125ml suiker 100g pekanneute, fyngekap
Voorverhit die oond tot 180C. Smeer ‘n broodpan van 23×13x7 cm met margarien. Vul die lemoensap aan met water tot 250ml. Voeg die gerasperde lemoenskil asook die die rosyne by. Meng die eier en botter en voeg by. Meng goed. Sif die koekmeelblom, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Voeg die suiker en gekapte pekanneute by en meng deur. Voeg die lemoensapmengsel by die droë bestanddele en meng deeglik. Skep in voorbereide pan en bak 1 uur lank of tot gaar. Laat effens afkoel en keer uit op ‘n draadrak. Laat heeltemal koud word voordat dit gesny word. Dien op saam met botter.
Pietersielie en kaasbroodjie
500ml bruismeel 2ml mosterdpoeier
2ml sout 100ml margarien (kamer temperatuur)
250ml gerasperde kaas 5ml gedroogde pietersielie
25ml water 1 eier
125ml melk 15ml mayonnaise of slaairoom
Voorverhit die oond tot 180C. Smeer ‘n broodpannetjie van 21×11x6.5cm of bespuit met kleefwerende middel. Sif die bruismeel, mosterdpoeier en sout saam. Vryf die margarien daarin totdat mengsel soos mieliemeel lyk. Roer die kaas en pietersielie by. Klits die water, eier, melk en mayonnaise of slaairoom saam, voeg dit by die meelmengsel en sny dit met ‘n slaplemmes in tot goed gemeng. Skep die deeg in die pannetjie en smeer dit gelyk met ‘n nat spaan. Strooi ‘n bietjie ekstra kaas en paprika oor indien verkies. Bak die broodjie 30-35 minute. Keer dit uit op ‘n draadrak en laat afkoel. Lewer 1 klein broodjie.
Roerbrood
500ml koekmeelblom 500ml volkoringmeel
500ml melk 60ml bruinsuiker
7ml koeksoda 15ml sout
10ml suurlemoensap papawersaad om bo-oor te sprinkel
Voorverhit die oond tot 190C. Smeer ‘n groot broodpan goed met botter. Meng al die bestanddele vir die brood en skep in die voorbereide broodpan. Sprinkel papawersaad bo-oor en bak sowat ‘n uur lank of tot gaar.
Mosbolletjiebrood
1kg koekmeelblom 10ml sout
40g ( 4 pakkies) kits droë gis 10ml suiker
20g anyssaad 60g botter in klein blokkies gesny
600ml warm melk 1 eiergeel, liggies geroer
Smeer 3 klein broodpannetjies met botter. Sif meel, sout, gis en suiker saam in ‘n mengbak en voeg dan anyssaad by. Meng die botter en die warm melk, voeg dit by die droë bestanddele en meng tot ‘n ferm deeg. Keer uit op ‘n oppervlak wat met meel bestrooi is en knie tot ‘n sagte nie-klewerige deeg wat glad en elasties is. Plaas in ‘n bak wat liggied met olie gesmeer is en verseël met plastiek (smeer ook met olie) en hou eenkant op ‘n warm plek totdat die volume verdubbel het. Druk die deeg plat, knie liggies en vorm balletjies van 50 gram. Plaas in ‘n broodpan maar laat ruimte aan die kante. Sit in ‘n warm treklose vertrek en laat staan vir sowat 30 minute totdat die deeg tot by die bokant van diie pan gerys het. Verhit die oond tot 180C. Bestryk die brood met eiergeel, bak vir 15 minute en verlaag dan die hitte tot 160C. Bak vir nog 30 minute tot gaar. Keer op ‘n draadrak uit en laat afkoel.
BON APPETIT!!!





Gedra jou in die blik!
2008/10/20 at 8:42 vm
Mens ek gaan vir die volgende maand net brood eet!
Dankie vir die lekker resepte Piks!
2009/05/02 at 7:21 nm
Skielik kom ek agter hou lui ek nou eintlik is. Dit is vrek maklike resepte…. Ek het nou uit verskonings gehardloop