Wat is in ‘n naam?

Name het my nog altyd gefasineer. Veral die eksotiese name, en stupid name! Ander mense het weer name wat so by hulle persoonlikheid pas dat ek oortuig is ‘n engeltjie het in hulle ouers se ore gefluister toe hulle swanger was.

In die stad moet kinders om een of ander rede ‘n fancy naam hê: Aysel, Shani of Eolande as dit ‘n dogter is of Dalmar, Niyol of Sivan as dit ‘n seuntjie is. – Wie wil nou ‘n kind maanlig, ongelooflik of viooltjie en veelsydig, wind en skaapwagter noem?

Dan was daar die ‘Diana’ fase. Net na die troue het die skole omtrent ‘n katastrofe van epidermiese proporsie gehad om die Diana’s uitmekaar te ken. Ek weet van ‘n skool waar hulle nommers agter die kinders se name gesit het – Diana 1, Diana 2, ens. Wat my nou laat wonder of ons nou in ‘n Cathrine fase gaan inbeweeg. Min het ek geweet my dogtertjie gaan na ‘n toekomstige koningin heet! :lol:

My kinders het familiename, maar ek sou dit nie eers oorweeg het as dit nie betekenis gehad het nie. John (God is genadig) het sy oupa aan vaderskant se name, sy tweede naam beteken ‘Oorwinnaar’ en Cathrine (Rein) het my ma se name, hmmm met ‘n kinkel, ek het haar die Engelse name gegee want die Afrikaanse name het nie by ons van gepas nie, haar tweede naam beteken ‘God se belofte’.

Elke geloof het ook sy eie name en so ook elke land met sy herkoms en tradisies.

Hier in die platteland is dit egter of dinge nog bietjie anders gedoen word. Hier kry jy nog Pieter, Hannes, Johan, Martinus onder die seuns. En jy kry nog Elbie, Elsie, Rina en Anna.
Nou moet ek ook noem dat daar sekere name is wat wraggies so mooi is, mens voel lus om dit te eet! Ek dink aan Cara, Sibonè, Elrinda en Anika. Sekere tale se name sê ook net lekkerder!

Ander name het weer vir my goeie en slegte konnektasies, en alhoewel mens nie bevooroordeeld wil wees nie sal ek twee keer dink of ek rerig vriendelik wil wees en of ek die hasepad wil kies! Sies ek is ‘n nare mens! :mrgreen:

Nou wonder ek wat is julle gunsteling name en wat staan julle nie aan nie?

21 Responses to Wat is in ‘n naam?

  1. Xena Phoenix says:

    Dit is seker iets om oor te lag, maar ek verpes die naam Adri. Ek hou ook nie van boerename nie.

    Ek gaan mik om vir my kinders ‘n unieke naam te gee. Ek sien ‘n naam amper as ‘n soort van voorspelling. Ek wil nie ‘n voorspelling op my kinders sit nie, maar vir hulle ‘n skoon bladjie gee. Sodat hulle hulle eie sterre soek.

    Helaas gaan dit nie so eenvoudig wees nie. Mense gaan altyd op een of ander manier ‘n betekenis toedig.

  2. Vlam says:

    Reg vir ‘n opstel? :lol:

    Ek voel sterk en erg oor name. Ek VERPES dit as doodgewone boeremense hul koppe kan breek vir nege maande om die mees eksotiese naam vir hul bloedjie uit te dink. Soms skep hulle sommer hulle eie naam, net omdat so oulik klink. (Het van hulle in my eie familie, gmf.)

    Ek voel ‘n naam moet betekenis he. Of dit nou die letterlike betekenis van die naam is wat die ouers aanstaan, of die feit dat dit ‘n pa of ouma se naam is. Ek sou dit haat om met ‘n naam te sit wat net vir my ouers “mooi” was. Nou sit ek met ‘n naam wat nie vir my juis baie mooi is nie, maar ek’s chuffed dat ek na my oupa vernoem is. Boonop het ek mooi in die betekenis van my naam gegroei: heerser van die huis. Hahahaha!! :lol:

    Jy weet ek speel Fairyland op Facebook, ne? Wel, nou die dag moes ek my vingers in my bek druk om nie ‘n nare ding op die forum daar te skryf nie. ‘n Girl, met ‘n Afrikaanse van (Venter, as ek reg onthou) was op die forum op soek na name vir haar bloedjie. Ag, en almal het lustig ingespring, van Groenland tot die Filipyne. Toe vra ‘n Hollandse meisie vir haar hoekom sy nie Afrikaanse/Hollandse name gebruik nie. Haar antwoord het my omtrent na Valiums laat gryp. Nommer een wil sy nie he mense moet dink haar kind is Afrikaans magtig net omdat sy ‘n Afrikaanse naam en van het nie, en nommer twee…wait for it…’n Afrikaanse naam gaan veroorsaak dat haar kind eendag nie werk kry nie.

    Eeeuuuwwwww!

    Een van die ginekoloe saam met wie ek werk, is net so ernstig oor name. Sodara die bybie uit is, wil hy net weet wat die naam is. Hy se ouers moet mooi dink oor ‘n naam, want netnou sit ‘n arme kind met ‘n naam soos Mara, wat bitter water beteken! :lol:

    • Twilight says:

      Haai, ek stem met jou volmondig saam. ‘n Naam se betekenis is baie meer belangrik vir my as dat dit mooi klink. En dit moet darem by die van pas. Ek onthou bv ‘n oud-kollega wat Shan genoem is. Toe sy trou het sy liewer haarself by haar vol naam Shannon begin noem, want Shan Shead het bra vreemd op die oor geklink. (Hoe suksesvol sy was om almal te oortuig, is ‘n ander vraag..) My ma se naam is Mara. En hoewel ek brand om haar te vernoem as ek ‘n dogtertjie verwag, sal ek dit eenvoudig nie doen nie, want ek hou ook nie van die betekenis nie. Ek glo/hoop sy verstaan darem.

      • Pikkelik says:

        Ek verstaan baie goed. En ek is oortuig jou ma sal ook verstaan. My ma het eers amper die piep gekry omdat ek haar wou vernoem, sy glo sy het lelike name, maar nadat ek verduidelik het wat die betekenis beteken en dat ek dit in Engels gaan gebruik was sy so gelukkig as wat kan kom. Vandag is Cathrine haar oogappel en sy kan tog te lekker spog oor haar amperste naamgenoot!

    • Pikkelik says:

      Ek sal ook maar swaar sluk daaraan om my kind bitter water te noem, amper so erg soos ‘Wagon Wheel’! :D

  3. Vlam says:

    O ja, en ek moet nog ‘n Sharon ontmoet waarvan ek hou. :mrgreen:

    • Pikkelik says:

      Vlam, ek kan onthou op skool was daar ‘n meisie saam met my met die naam Ilonka. Dit was vir my vreeslik mooi en ek het haar gevra waar dit vandaan kom. Haar antwoord was dat dit die naam van die hoofkarakter was van ‘n boek wat haar ma gelees het toe sy swanger was. Sy het soooo skaam gekry. Arme kind. Ek moet ook nog ‘n Andre ontmoet met wie ek oor die weg kom! :evil:

  4. toortsie says:

    Ek het familiename gegee. Almal van hulle. Kyk my dogter dra SWAAR aan Martha Johanna.
    As jongmens wou ek dit nie doen nie, toe het my ouma my aangepraat. Deesdae voel ek: Wat maak dit saak? As die kind in elk geval ‘n naam moet kry, hoekom maar nie doen soos die tradisie nie??
    My pa en skoonpa is altwee Pieter. Ook my broer se skoonpa. Jy kan net dink hoeveel “pieters” is daar in ons familie – STERK mense! ROTSE!! :) My tweeling se eerste naam is altwee Pieter, gelukkig is daar darem ‘n tweede naam ook. Want dink net: ‘n tweeling met dieselfde naam en id wat net met een nommer verskil, hoeveel verwarring kan dit bring!!

  5. klippie says:

    Vir my bly die name van oudste kleinseuns in die familie wat almal na hulle oupa vernoem is die snaaksste. Hoe ken mens hulle uit: Lang Hans, Rooi Hans, Piet se Hans ens. Maar Oupa moes mos vernoem word.

  6. Sandra says:

    Stem saam met jou Pikkie dat name ‘n “blessing” is wat ons oor die kinders uitspreek en mens sal baie sien dat jou gawes, persoonlikheid, passie vir goed in jou naam te siene is. My seuns het familiename waarvan die betekenis hulle perfek pas en my dogter ‘n kombinasie naam. Net eergister het sy my vertel dat “ouma” se name sulke mooi name is – en ek het nooit gedink dat ‘n Maria of Johanna enige aftrek by die kinders sal kry nie, beslis ook nie by my nie. Moet se dat as sy dit met haar Amerikaanse aksent se, klink dit nogal nie sleg nie :-)

    • Pikkelik says:

      Dis soos my meisiekind se name Sandra, Katerina Elizabet oorspronklik, maar toe ek dit Cathrine Elizabeth maak, klink dit sommer ‘royal’!

  7. ELF says:

    Nogals eienaardig hoe mens, as iemand jou pad kruis van wie jy régtig nie hou nie, altyd somehow n negatiewe konnotasie aan daardie naam koppel.

    Kry jy n nuwe hond en gesinslede stel die of daai naam voor, is mens se reaksie vinnig ‘nee dit laat my aan daai persoon dink’ of ‘nee ek het iemand geken in my jong dae’ .. stories wat hééltemal irrelevant is tot hierdie konteks, maar die sielkundige hekkie by daardie name bly staan deur die dekades!

    As dit by diere kom (lees: my lewe) hou ek daarvan om hulle mens name te gee, want dis hoe hulle vir my is. Butch en Tiger en Snuffels is iets wat ek my vyand of n nuuskierige agie noem, nie my honde nie! ;)

    • Pikkelik says:

      Ek stem Elfie, die laaste honde wat myne was (lees in die dae voor kinders) se name was Venesca en Cara. Ek mis hulle oneindig. Nou sit ek met diere wat se name Chippies en Skottie is! :lol: My papegaai is darem nog Billy, maar is al oor die 30 jaar oud en sal seker vir nog 30 of meer jare met my wees.

  8. Olga says:

    familie name doen dit nie vir my nie. Ek het probeer vir uniek. Sover dit my betref, gee die draer betekenis aan die naam.

  9. Louisa says:

    Ek het nog nooit ‘n Richard ontmoet met wie ek oor die weg kan kom nie…vreemd.

    Toe ek Nicola se naam gekies het, het ek probeer om iets te kies wat sal werk in Afrikaans of Engels, en wat ‘n sterk betekenis het.

  10. BB says:

    Ek is baaaaaie skaam om te erken ek het ook een naam in my lewe, waar ek nog nooit met die ‘eienaars’ daarvan eye-to-eye gesien het nie. En nee, ek dink altyd ek is nie bevooroordeeld nie. Ek besluit nie op die oog af of ek van iemand hou of nie – ek gee eers kans dat die mens op my groei. Maar die één naam – time ‘n again, werk daai mense nie saam met my nie :oops:

  11. As ‘n mens navorsing na jou familie doen is dit nogal lekker as mense familie name het, jy kry hulle bietjie vinniger opgespoor, maar andersins is dar nie veel voordeel daarin vir my nie, ek hou van jou inskrywing.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

%d bloggers like this: