Gatswaai!

Ons almal ken dit, daai tipiese roomyskarretjiedeuntjies.  Dit irriteer die sweetdruppels uit my uit - en deesdae het elke moontlike speelding wat mens koop mos daardie deuntjie.  Dis om van mal te word! Ek dink in Taiwan is hulle bietjie musikaalgestremd… :wink:

Maar, Groot MAAR, dis niè my probleem nie, my probleem lê by my boude.  :mrgreen:  Julle sien, elke keer as ek een van daai verdomde deuntjies hoor, neem hulle oor.  Ek is oortuig hulle het ‘n wil van hul eie.

Ek loop in die winkel, ‘n speelding word aangesit, diediedie, die, die en daar gaan my boude, heen en weer en heen en weer!  In die straat ry ‘n roomyskarretjie verby, en daar gaan hulle al swaaiende.  Verlede jaar by die landbouskou vat ons vir Ouboet na die speelpark.  Ag genade!  Daar staan ek toe en gatswaai asof my lewe daarvan afhang.  (Ek was nog sewe maande swanger ook!)  DIT WAS NIE ‘N MOOI GESIG NIE!

In die huis, in die dorp, tussen mense, as ek alleen is, you name it, ek hoor die eerste diediedie, die, die en my agterstewe kry lewe.  Dit maak eenvoudig nie saak watter boodskap my brein en mond aan my boude oordra nie, as hulle daai musiek hoor kry hulle woema.  Ek het selfs al sover gegaan om my boude te probeer vashou, toe hipnotiseer hulle my hande en die gaan saam aan die swaai en klap, eers die linkerboud en dan die regterboud. 

Met Ouboet se doop staan ons in die kerk.  Daar is geen moederskamer nie en aangesien dit so ‘n spesiale geleentheid is kry die kleiner kinders kans om sommer so voor die preekstoel te staan om mooier te kan sien wat aangaan.  My blikskottel, sal een knapie nie ‘n speelgoedselfoont se knoppie druk nie.  Daar staan ek uitgedress vir hierdie belangrike geleentheid, Mynick in sy diakensuite, Oupa en Ouma en die helfte van die bleddie familie daar, en my boude laat waai!  Damn!!!!

Mynick is nie werklik gepla oor sulke goed nie en vind dit heel amusant.  Natuurlik kan hy nie die versoeking weerstaan om my te verpes nie!  Gatswaai sal jy gatswaai vrou!!! 

Maar nou sit ek met twee kinders wat gelukkig nog te klein is om skaam te kry, maar kan julle hulle voorstel tien jaar verder.  Nee aarde Ma!  Ek skaam my dood Ma!  Kom suster ons loop eerder aan daai kant van die pad!

Het enigeen dalk raad vir my wederstrewige boude!!!!  As die verdomde goed darem na iets gelyk het, maar hel, hoe vetter die res van my lyf word hoe maeder word my boude!  My boudbene staan uit soos ‘n brandsiek koei s’n, al swaaiende en wiegende op die icecreamlorrie musiek.

Help, help ek wil net asseblief weet waar my gat se aan en af knoppie sit?   Is dit nou te veel gevra?

10 Responses to “Gatswaai!”

  1. Pikkie

    Swaai jou gat ook met die liedjie gatswaai? Dalk is daardie speelgoed tune eendag groot mode.

  2. Jong, jy praat van daai speelgoed. Almal het presies dieselfde tune, het jy al agtergekom?? En hoekom ek ALTYD nog ‘n bleddie speeldink (met dieselfde tune) vir Pieter koop, sal ek ook nie kan verduidelik nie. Amper soos jou gatswaaiery - daar is nie antwoorde op party goed nie!

  3. Vandag swaai jou gat seker eers lekker op Happy Birthday tooooo youuuuuuuuuuu se wysie. Veels geluk aan julle almal en klein Ouboet wat vandag verjaar en al so groot is. Aai Pikkelik, waar het die tyd gebly. Soen en druk hom op namens ons so tussen die gatswaaiery deur. (NS: Elvis het weer die probleem met sy pelvis gehad. )

    Liefde
    Von

  4. :lol:

    Geluk met jou kleinding se verjaarsdag

    En swaai maar jou gat op die deuntjie van “veels geluk liewe maaitjie…”

  5. Veels geluk Ouboet. Hoop jou ma bederf jou die afgrond in.

  6. Happy birthday aan Ouboet!

    Jy laat my lekker giggel oor die gat swaaiery hoor!

  7. Geluk Ouboet! Swaai daai gat nes jou ma! :lol:

    NS. Ten minste weet ons nou hoe om jou uit te ken, enige plek! :wink: En dankie… jy weet waarvoor! ((Pikkie))

  8. whaahaaaha daai boude het ‘n wil van hulle eie!!! Geluk met Ouboet se verjaardag, ek smag so na ‘n stukkie van sy verjaardagkoek! Hoop jy laat ons ook môre deel in die partytjie.

  9. Een vir my een vir jou soos twee kalbasse. Lekker lag ek nou!

    Geluk en lekke koek eet.

  10. Pikkelik:
    Pikkie, ek het dieselfde problem, maar met Nkhalakhata, van Mandoza. Daar’s nie ‘n manier dat my voete, nee, my hele lyf, kan stil staan en ordentlik wees as daai tjoen begin speel! Dan kom die meid in my uit!

Leave a Reply